Skip to main content

Levitikus 1

Inleiding

Wees heilig, want Ek is heilig

Levitikus fokus op die wyse waarop die Godsvolk in God se teenwoordigheid moet lewe. Vanuit die tent van ontmoeting gee die Here ‘n wye reeks bevele aan Moses as ‘n gedragskode vir die Israeliete sowel as vir die Leviete. Dit sluit daarom meer direkte woorde van God in as enige ander boek in die Bybel. Die gedragskode sluit in wat in die Tabernakel, God se “tent”, moet gebeur, sowel as wat in die volk se onderlinge verhoudings, in hulle “tente”, moet gebeur. Die kern daarvan is: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Waar Genesis ‘n boek was wat op die heelal, die mensdom en die aartsvaders gefokus het, en Eksodus op die totstandkoming van die Godsvolk en hulle verlossing uit Egipte, fokus Levitikus nou op die wyse waarop dié Godsvolk voor die aangesig van God, in sy teenwoordigheid, moet lewe, soos dit op grond van God se bevele deur die begeleiding van die stam van Levi – die priesters en die Leviete – moontlik gemaak sal word.

Israel is steeds by die berg Sinai (Eks. 19:1 tot Num. 10:10).  Die Tabernakel is voltooi en ingewy minder as ‘n jaar ná hulle uit Egipte weg is (Eks. 40:17).  Hulle sou ongeveer ses weke daarna verder trek (Num. 10:11).

Die feit dat bykans die hele boek God se direkte bevele bevat, beteken dat dié boek meer as enige ander boek die woorde van God bevat, meer as die verhalende of profetiese boeke, selfs meer as die wysheidsliteratuur.  Dit verklaar die geweldige betekenis wat die Jode aan die boek geheg het en waarom dit ook kwistig in die NT aangehaal word (daar is ongeveer 90 aanhalings), soos ek later sal aantoon.

In die hart van die verhouding van Israel met hulle God het sy teenwoordigheid gestaan, soos dit nou deur die Tabernakel vir hulle moontlik gemaak is.  En sy visie vir hierdie verkore volk met wie Hy ‘n verbond gesluit het, was dat hulle as ‘n volk ‘n koninklike priesterdom sou wees.  Hulle gehoorsaamheid al dan nie sou egter bepaal of dié visie vervul sou kon word: “As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie.” (Eks. 19:5-6; vgl. Petrus se identiese visie vir gelowiges in die NT: 1 Pet. 2:9).

Gehoorsaamheid was ononderhandelbaar

Gehoorsaamheid aan die wil van God was dus ononderhandelbaar in die verhouding met God.  Vandaar die presiese detail van die verbondsboek – Eks. 19-24 – sowel as die hele boek van Levitikus.  Hierdie eis tot gehoorsaamheid aan God is daarom deur ‘n gedragskode vir die Levitiese priesters uitgespel (Lev. 1-16) sowel as deur ‘n gedragskode vir die Godsvolk (Lev. 17-27).  Almal is daardeur by God se wil vir die lewe betrek.  Levitikus was hulle handboek vir die lewe met God en mekaar in die wêreld waar God hulle geplaas het.

  • Aan die een kant fokus die boek dus op wat in die Tabernakel, God se “tent”, gebeur. Hoe hulle Hom moes nader. Hoe hulle Hom moes aanbid.  Daarom is die boek ‘n “godsdienstige handboek” vir die Tabernakel.
  • Aan die ander kant fokus die boek op wat in die volk se “tente” gebeur (Pawson: Unlocking the Bible). Hoe hulle met Hom in die lewe moet wandel.  Hoe hulle met mekaar moet handel.  Die boek is daarom ook ‘n “moreel-etiese handboek” vir die Lewe.

Die persoonlike etiek van beide die OT as die NT is dus in die heiligheid van God gefundeer.  Soos Jesus immers in die Bergrede sê nadat Hy ses dele van die wet uitgelê het: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matt. 5:48).  Die woord “volmaak” is die vertaling van die Griekse teleios, die ekwivalent van die Hebreeuse tāmîm wat op etiese perfeksie dui.

Die punt is dat die Israeliete die samelewing waaruit hulle verlos is – Egipte – sowel as die samelewing waarheen hulle op pad is – Kanaän – se moreel-etiese en godsdienstige waardes moes teenstaan en volgens die bevele van God moes leef.  Die Verlosser uit Egipte het die reg verdien om die gedragskode te bepaal waarvolgens hulle moes leef.  “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Apodiktiese en kasuïstiese wette

Dit sal jou baie help in die leeswerk van die wette van Levitikus om van twee breë tipe wette kennis te neem.

Daar is die apodiktiese wette.  Dit is absolute bevele soos ons in die Tien Gebooie kry: “Jy mag nie doodslaan nie.”  Of in Levitikus: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Lev. 19:18).  Daar kan geen onsekerheid wees oor die uitvoering daarvan nie.  Jy moet absoluut gehoorsaam wees daaraan.  Daarvan is daar talle voorbeelde in Levitikus.  Sommige is fundamenteel en altyd geldig:  “Wees heilig, want Ek is heilig.” (Lev. 11:44).  Sommige is dieet-verwant en net in die OT bedeling geldig: “Julle mag geen vet of bloed eet nie.” (Lev. 3:17; vgl. wel Hand. 15 wat steeds ‘n verbod op bloed plaas, maar in die konteks gaan dit daar oor afgodsoffers).

Daar is ook kasuïstiese wette.  Dit is gevallestudies wat in die vorm van verdere wetgewing die nakoming van die kern wet uitspel.  Daar is voorwaardes wat vir dié wette uitgespel word wat onder sekere omstandighede toegepas moet word, en onder ander omstandighede juis nie, of anders as in die normale uitvoering daarvan.  Daarvan is daar baie voorbeelde in Levitikus.  Bv. oor diereoffers: “Wanneer een van julle vir die Here ’n offer wil aanbied, kan hy dit aanbied uit sy beeste of uit sy kleinvee.” (Lev. 1:2).  Of: “As dit ’n brandoffer van voëls is wat iemand vir die Here wil offer, bied hy ’n tortelduif of ’n ander duif aan.” (Lev. 1:14).

Moreel-etiese, burgerlike en seremoniële wette

Dit sal jou ook help om uit ‘n Christelike hoek aan die wette in drie breë kategorieë te dink, hoewel dit nie ‘n waterdigte skeiding vir ons gee nie.  Dit sal jou egter ‘n konseptuele raamwerk gee om die geldigheid van die wette ook vir vandag te kan bepaal (al dan nie), iets wat ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), een van die geloofsbelydenisse uit die Reformasie, ‘n neerslag gekry het.

Dié indeling is in moreel-etiese, burgerlike en seremoniële wette.  Sommige wette kan by meer as een kategorie gesorteer word, maar dit gee ‘n mens ‘n handige manier om sin te maak van die geweldige omvang van wette wat in Levitikus gegee word.

Die moreel-etiese wette is dinge soos die Eerste gebod: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie.”  Of in Levitikus: “Wees heilig, want Ek is heilig.” (Lev. 11:44).  Dit lê beslag op jou hele wese.  Dit is gewoonlik apodiktiese wette wat op die absolute gesag van die Here self berus.  Jy hoef nie eers in ‘n hof te gaan staan om jouself te verweer teen iemand wat jou vir die verbreking daarvan aankla nie.  Jy weet dit sommer self vanuit die feit dat die Heilige Gees deur jou gewete jou innerlik oortuig van die sin en waarheid daarvan, ook wanneer jy dit oortree.  Dit is daarom ook wette wat regdeur die NT positief bejeën word en as deel van die evangeliese geloof uitgespel word, met uitsonderings.  Vergelyk Romeine 13 en 1 Timoteus 1 vir plekke waar die apodiktiese wette as deel van die evangelie uitgelê word.  Die apodiktiese wette oor bv. dieet en rituele word egter as vervuld gereken.

Die burgerlike wette is duidelik wette wat die onderlinge sosiale verhoudinge reël, dinge wat in veral die gevallestudies, die kasuïstiese wette, voorkom – as iets wegraak, of jou bees iemand beseer ens.  Die inhoud of betekenis daarvan – bv. dat ‘n mens geweld moet beperk in jou reaksie op iets wat verkeerd loop, die primêre rede waarom daar ‘n wet soos “’n oog vir ‘n oog, en ‘n tand vir ‘n tand” was – bly wel geldig, maar nie noodwendig die detail daarvan nie.  In die NT is daar ook uitbreidings van dié wette soos bv. dat jy jou vyande moet liefhê, iets wat aansluit by die inhoud van die Lex Talionis wette (bv. oog vir ‘n oog), maar nie in die presiese detail daarvan nie.

Die seremoniële wette reël bv. die wyse waarop die Here in die tabernakel aanbid moet word, die liturgie of erediens – soos daar talle voorbeelde in Levitikus is – sowel as die wyse waarop Hy in die lewe aanbid moet word wat dinge in fyn detail uitspel – dieet, swangerskap, siektes, kleredrag ens.  Die inhoud en betekenis daarvan is eweneens van belang vir ons vandag, maar nie die presiese detail waarop dit uitgespel word.

Almal moes volmaakte en aanneemlike brandoffers bring vir die Here

Teks en konteks

Die eerste hoofstuk gee die raamwerk waarbinne die hele boek van Levitikus verstaan moet word.  Dit is Jahwe wat uit die Tabernakel, die tent van ontmoeting, met Moses praat.  Hy is die Bevelvoerder en Wetgewer.  Sy woorde gaan die deurslag gee in die wyse waarop Hy aanbid en gehoorsaam moet word in die geloofsgemeenskap.  Dit is ook opmerklik hoe nieseksistiese en nierassistiese taal gebruik word wat beteken mans en vroue kon offer, sowel as Israeliete en vreemdelinge.  Daar is selfs vir arm mense voorsiening gemaak.  Die offers moes uiteraard aan Jahwe alleen geoffer word en volmaak en aanneemlik aangebied word.

Mans en vroue kon offer

Jahwe se eerste woorde is uiters belangrik.  In sy eerste bevel aan die volk gebruik Hy die term āḏām wat in die NAV as “een” (van julle) vertaal word.  Dit is die algemene term vir ‘n mens wat mans en vroue as beeld van God insluit (Gen. 1:26-27) en vir alle nasies gebruik is (Gen. 1-11).  Jahwe gebruik dus nieseksistiese nierassistiese insluitende taal wat beteken dat mans en vroue kon offer, soos dit blyk uit die praktyk van die offers (offers deur vroue by geboorte: Lev. 12:6-8; offers van mans en vroue by die benadeling van iemand en ontrou aan die Here: Num. 5:5-7; offers van mans en vroue by geloftes of verpligtinge: Lev. 7:16-17; Num. 30).

Israeliete en vreemdelinge kon offer

Mense van enige ras of nasie kon ook offer, solank hy of sy natuurlik deel van die volk van Israel geword het.  Daarom kon vreemdelinge wat aangesluit het by die volk van Israel deelneem aan die kultus, maak nie saak van watter afkoms hulle was nie (Lev. 17:8).  Trouens, hulle is aan dieselfde strawwe van die verbond blootgestel ongeag hulle gemengde afkoms (vgl. die man met ‘n Egiptiese pa en ‘n Israelitiese ma in Lev. 24:10-23 wat die Godsnaam lasterlik gebruik het).

Offers was alleen aan Jahwe aangebied

Só ‘n offer kon egter net vir Jahwe aangebied word wat uiteraard enige ander afgod uitgesluit het.  Israel se offerkultus was van die begin af monoteïsties.  Die offerkultus was dus eksklusief geskep vir die aanbidding van en verhouding met Jahwe.

Die brandoffer was gemik op versoening

Die brandoffer was gemik op versoening tussen die persoon wat offer en Jahwe.  Dit gaan hier nie noodwendig oor ‘n spesifieke sonde waarvoor versoening gedoen word nie.  Dit is meer die algemene sondigheid van die persoon wat in die kollig is waarvoor gereeld versoening gedoen moes word.

Dit was bekostigbaar

Waar die offer ‘n bloedoffer moes wees, soos hier met ‘n brandoffer, moes dit ook kom uit die besittings van die aanbidder, uit sy beeste of kleinvee.  Die koste vir die persoon wat offer was betekenisvol.  Dit het ‘n beduidende impak gehad op jou besittings.  Vir iemand wat só ‘n groot offer egter nie kon bekostig nie kon ‘n duif aangebied word as ‘n offer.  Vir arm mense is dus ook voorsiening gemaak.  Duiwe was volop en is ook later aangehou in Israel (2 Kon. 6:25 – duiwemis is bv. te koop aangebied).

Die offer moes volmaak wees

Die dier moes aan die een kant tāmîm wees, d.w.s. “sonder gebrek” of “volmaak”.  Later in Levitikus word die tipe gebreke wat ‘n dier ongeskik sou maak, uitgespel (Lev. 22:17-25: blind, afpoot, seerplek, vratjies, brandsiek, velkwaal, gekastreer – sulke diere kon wel as vrywillige gawes geoffer word, maar nie as brandoffers nie; vgl. ook die Paaslam wat tāmîm moes wees – Eks. 12:5).  Dit was deel van die polariteit tussen volmaak en onvolmaak, normaal en abnormaal.

Die offer moes vir die Here aanneemlik wees

Die dier moes aan die ander kant nirṣāh wees, d.w.s. vir die Here “aanneemlik”.  In die konteks beteken dit dat dit “volmaak” moes wees, soos hierbo aangedui, maar ook dat dit op die regte plek in die voorhof naby die ingang van die Tabernakel moes geskied en dat die hand van die persoon wat offer daarop moes wees wanneer dit geslag word, waarskynlik met een of ander vorm van belydenis.

Die persoon wat offer moes ook self die dier slag.  Dit het die band bevestig tussen die persoon wat offer, die offer wat gebring is, sowel as die Here aan wie die offer gebring is.  Alleen só kon versoening bewerk word deur die brandoffer.

In die geval van die brandoffer is die bloed rondom die altaar gesprinkel, die binnegoed en pootjies skoongemaak voor die dier in stukke gesny en verbrand is om versoening te doen vir die persoon wat offer.  In die geval van duiwe is die krop en vere (dit kan ook die inhoud van die krop of die derms wees) egter heeltemal verwyder en die res verbrand as ‘n brandoffer.

Die brandoffer was ‘n geskenk van lieflike geur

Só ‘n brandoffer word in die oorspronklike Hebreeus in vers 9 beskryf as ‘n “geskenk van lieflike geur” wat vir die Here aanneemlik is.  Ons weet dat ons geheue deur geur aangewakker word.  Daarom kan ‘n mens die konnotasie maak dat die geur van die brandoffer die Here aan sy verbintenis tot versoening sou herinner, ‘n besondere kragtige metafoor vir versoening.

Die priesters was begeleiers

Die rol van die priesters word ook van die begin af uitgespel as begeleiers in die proses van aanbidding en versoening.  Die verantwoordelikheid vir die offer was op die persoon wat dit gebring het.  Die verantwoordelikheid vir die proses was egter op die priester wat dit begelei het.  Hy moes toesien dat die offer volmaak en aanneemlik was.  Die priester was dus die liturg van die offerkultus, die Israeliet die deelnemer aan die liturgie in God se teenwoordigheid.

Boodskap: Jesus is ons “brandoffer” en ons offer gedagtes en gedrag aan die Here

Talle van die aspekte wat hierbo genoem is, sal jou gedagtes stimuleer as parallelle vir gebruike wat ons vandag nog in die kerk het, bv. die verhouding tussen lidmate aan die een kant en liturge en begeleiers aan die ander kant. Ek wil egter net twee belangrike aspekte beklemtoon.

  1. Jesus is ons “brandoffer”

Aan die een kant is die parallel wat die NT trek tussen hierdie brandoffer en die offer van die Here Jesus Christus aan die kruis waarskynlik die belangrikste betekenis van hierdie gedeelte vir ons as gelowiges.  Jesus moes tāmîm wees, “volmaak” of teleios soos die Hebreërskrywer dit in Grieks uitspel, om vir ons sondes versoening te doen: “Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.”(Hebr. 9:14).

Ook Petrus eggo dit: “Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.” (1 Pet. 1:19).  Daarom is Jesus se offer steeds ‘n lieflike geur vir God wat ons versoening met Hom waarborg.  Hy het namens ons ons “brandoffer” geword.

  1. Ons offer ons liggame – in gedagtes en gedrag – aan die Here

Aan die ander kant kan ons ook ‘n parallel trek tussen die wyse waarop die brandoffers gebring is in die OT en die wyse waarop ons onsself in die NT aan God offer.  Vir ons eie offers aan die Here in die nuwe bedeling is dit ook belangrik dat ons offers nirṣāh sal wees, d.w.s. vir die Here “aanneemlik”, soos Paulus in Romeine 12 so helder uitspel: “Gee julle liggame aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.” (Rom. 12:1 – soos dit in die oorspronklike Grieks staan).

Die fokus is hier nie soseer op die volmaaktheid in terme van gebreke al dan nie, maar op die volhardende lewe in heiligheid, wat veral ons weiering om te konformeer aan die sondige wêreld in ons gedagtes en moreel-etiese gedrag insluit: “Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Rom. 12:2).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar