Skip to main content

Romeine 12

Lewe in heiligheid, geloof en liefde

Die negende hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 12:1-15:13 en handel oor hoe al die gelowiges uit die Jode en die nie-Jode moet leef. Hy brei in tien perspektiewe daarop uit waarin hy twee keer oor die liefde handel.

Op grond van God se barmhartigheid word gelowiges opgeroep tot ‘n heilige lewe (12:1-2)

Die eerste perspektief is dat alle gelowiges, op grond van God se barmhartigheid, persoonlik opgeroep word tot ‘n heilige lewe.

Verandering kom deur die werk van die Gees. Dit het ons geleer in hoofstuk 8. ’n Wet kan jou nie verander nie, net ’n verhouding met God waarin die Gees ons lei om nee te sê vir die sonde en ja te sê vir God.

Die eerste plek waar ons moet verander, is in hoe ons ons liggame hanteer. Ons moet ons liggame beskikbaar te stel vir God as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir Hom aanneemlik. Die agtergrond hiervoor is waarskynlik die Leviete wat as ‘n “beweegoffer” aan die Here gewy is (Num 8:5-26). Dws, hulle is nie op die altaar geplaas nie, maar lewend aan die Here toegewy om geheel en al in God se diens te wees.

Die tweede plek waar ons moet verander, is in ons innerlike, ons denke. Let op, dit is nie net in ons hart (geloof) en met ons mond (getuienis) nie, soos hoofstuk 10 op die tafel gesit het, waar die verandering kom nie. Ons het ook ’n kopskuif (gedagtes) nodig waar ons waak daarteen dat die wêreld se druk op konformering ons lewens só in beslag neem, en so in sy vorm druk, dat ons nie meer ’n lewende offer is en vir God lewe nie.

Ons moet anders dink as die sondige wêreld en nie konformeer aan die manier van leef wat die media en vermaaklikheidswêreld aan ons opdis nie.

Ons moet deur die vernuwing van ons denke groei in ons onderskeiding van wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is en Hom gehoorsaam.

Dit is immers waarmee die Gees ons help, om die “praktyke van die liggaam” dood te maak (Rom. 8:13). Dit is waar die verandering begin sodat ons onder sy leiding kan leef.

Dieselfde orde word hier gevolg as in die openbaarmaking van die sondes waaraan God die mensdom oorgegee het in Romeine 1. Die sondes van die liggaam, veral seksuele sondes, word eerste genoem (1:24-27), eers daarna die sondes wat met ‘n “verwerplike denkwyse” te make het (1:28-32).

Ten opsigte van albei – liggaam en denkwyse – het ons verandering en vernuwing nodig.

Gebruik die gawes wat God gee om mekaar beskeie en verstandig, doelgerig en met integriteit te bedien (12:3-8)

Die tweede perspektief is dat alle gelowiges opgeroep word om die gemeenskap van gelowiges te dien met hulle gawes, beskeie en verstandig (die Griekse woord sōphronein word in Engels met “sensible” of “sober discernment” vertaal).

Beskeidenheid beteken dat ons nie meer moet dink van onsself as wat ons behoort nie. Verstandigheid beteken dat ons ons gawes moet aanwend volgens die maat van geloof wat God aan ons elkeen gegee het. Elkeen van ons moet dit self beoordeel.

Die gawes wat ons almal het, verskil van mekaar volgens die genade wat God aan ons gegee het.

Paulus beklemtoon met die eerste vier gawes wat hy noem dat dit doelgerig in die gemeenskap van gelowiges aangewend word:

  • Die gawe van profesie moet in lyn wees met die geloof van die persoon (vgl vers 3) sowel as in ooreenstemming met die geloof wat ons bely.
  • Die gawe van diens moet vir hulpverlening aan ander ingespan word.
  • Die gawe van onderrig moet vir onderrig van ander ingespan word.
  • Die gawe van bemoediging moet vir bemoediging van ander ingespan word.

Met die laaste drie gawes beklemtoon Paulus die integriteit waarmee die gawes aangewend moet word:

  • Wie mededeelsaam kan wees, moet dit met opregtheid doen, dws sonder bybedoelings.
  • Wie leiding kan gee, moet dit met toewyding doen, dws met ywer en motivering.
  • Wie barmhartigheid kan betoon, moet dit met blydskap doen, dws sonder om te kla.

Lewe in liefde teenoor alle mense en dien die Here met volharding (12:9-21)

Die derde perspektief is om in alle verhoudings in die gemeenskap van die gelowiges sowel as in die samelewing in liefde te leef en die Here te dien.

Let op hoe die ongeveer 30 opdragte hier van hoek tot kant met verhoudings te make het, uiteraard steeds met medegelowiges (Rom. 12:10,13,15,16), maar ook met vervolgers (Rom. 12:14) en vyande (Rom. 12:19-21), kortom alle mense in die wêreld (Rom. 12:17,18).

Paulus bring ook die verhouding met God in spel waarin toewyding en gebed ’n belangrike rol speel (Rom 12:11-12). Die laaste paar verse in Romeine 12:19-21 beklemtoon die vertroue op God wat regverdig sal oordeel (vgl. Deut. 32:35) en transformerend sal optree in ons verhouding met vyande (vgl. Spr. 25:21-22).

God is regverdig EN kan die kwaad deur die goeie oorwin.

Boodskap en betekenis

In Romeine 12 roep Paulus gelowiges op om in heiligheid, geloof en liefde te leef, geïnspireer deur God se barmhartigheid. Hy beklemtoon die noodsaak van verandering. Hulle liggame moet beskikbaar gestel word as lewende offers aan God. Hulle denke moet vernuwe word om God se wil te onderskei en gehoorsaam. Hulle gawes moet beskeie, verstandig, doelgerig en met integriteit in diens van die gemeenskap aangewend word, volgens die geloof en genade wat aan elkeen gegee is. Paulus beklemtoon ook liefde as ‘n sentrale beginsel in alle verhoudings – binne die geloofsgemeenskap, sowel as teenoor vervolgers en selfs vyande. Deur vertroue in God, gebed en toewyding kan die kwaad oorwin word met die goeie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…