Skip to main content

2 Timoteus 1:1-18

Getrou aan die evangelie

Ná Paulus se vierde sendingreis word hy weer gevange geneem, en in ‘n onbekende tronk in Rome opgesluit, want Onesiforus moes lank soek om Paulus daar op te spoor (2 Tim. 1:17). ‘n Paar van die geestelike leiers het hom ook bygestaan (2 Tim. 4:10-13): Demas (tot hy Paulus in die steek gelaat het), Kresens (na Galasië gestuur), Titus (na Dalmasië gestuur), Lukas (sorg vir Paulus tot sy dood), Tigikus (gestuur na Efese) en van die gemeente: Eubulus, Pudens, Linus, Claudia (2 Tim. 4:21). Paulus vra ook dat Markus en Timoteus hom kom bystaan (2 Tim. 4:11-13).

Die datum van die brief is moeilik bepaalbaar, maar omdat Paulus tereggestel is deur Nero, is dit ten minste voor die einde van Nero se dood in 68 n.C. Omdat Petrus na Paulus in sy tweede brief verwys, en ons daaruit kan aflei dat Paulus tydens die skrywe van 2 Petrus nog gelewe het, plaas ek 2 Timoteus dus ná die briewe van Petrus. Hoe dit ook al sy, hierdie brief aan Timoteus is ook in die middel-sestigerjare geskryf.

‘n Interessante feit van Paulus se bediening om oor na te dink, is dat hy ongeveer ‘n kwart van sy bedieningstyd in die tronk of in huisarres gespandeer het. Dit het hom egter nie gekeer om selfs vanuit die tronk sy roeping om die evangelie te verkondig, na te kom nie.

Hierdie brief is soos die laaste testament van Paulus waarin hy Timoteus oproep om getrou aan Jesus Christus en sy evangelie te bly, sowel as aan Paulus.  Timoteus word hiermee die testateur wat Paulus se laaste wense moet uitvoer, en ook die erfgenaam van die roeping wat God vir Paulus gegee het, om die evangelie regdeur die wêreld te neem.  Paulus weet immers dat die tyd van sy dood voor die deur is (2 Tim. 4:6,18), moontlik weens die verraad van Aleksander (2 Tim.4:14) wat vroeër uit die gemeente gesit is saam met Himeneus (1 Tim 1:19-20; 2 Tim 2:17).  Daarom is die brief anders as die ander gevangenskap briewe, waar Paulus verwag om weer vrygelaat te word (bv. Fil. 1:24; 2:23-24; Filemon 22).  Dié keer is hy oortuig die einde is naby.

Paulus skryf die brief uit die tronk in Rome (2 Tim.1:8,17) in die middel sestigerjare nC en is heel waarskynlik kort hierna deur keiser Nero tereggestel.  Paulus se verwysing in 2 Timoteus 4:17 na ‘n leeu, word deur baie geleerdes met Nero of die Romeinse ryk verbind.  Dit is uit dié leeu se bek wat die Here hom gered het om hom behoue in die hemelse koninkryk te bring.  Die brief word in die eerste plek aan Timoteus gerig (2 Tim.1:2) en in die tweede plek aan die gemeente in Efese (2 Tim.1:18).  Let op Paulus se seënbede aan “jou” en aan “julle” in 2 Timoteus 4:22. Die boodskap is gefokus op getrouheid te midde van teenstand deur dwaalleraars (2 Tim.2:16-18; 3:13), die afvalligheid van baie mense (2 Tim.1:15) en Paulus se eie naderende dood (2 Tim.4:6-8).

Teks en konteks

Seëngroet – 2 Timoteus 1:1-2

Paulus begin met ‘n seëngroet waarin hy sy verbintenis aan sy roeping bevestig om die evangelie te verkondig.

Moenie skaam wees vir die evangelie nie – 2 Timoteus 1:3-18

Let op hoe Paulus fokus op getrouheid aan die evangelie.  Die getrouheid hou in dat hy:

  1. bereid is om vir die evangelie te ly (vers 8) en
  2. hom aan sy roeping sal toewy in afhanklikheid van die Heilige Gees wat in hom woon (vers 13-14).

As motivering en onderskraging noem hy:

  1. die seën wat hy steeds ervaar deur ‘n gelowige familie te kan hê (sy ouma Loïs en sy ma Eunice) en hom van kleins af in die Woord onderrig het (3:5) – vers 5,
  2. die krag en liefde en selfbeheersing wat God se Gees in hom losgelaat het – vers 7,
  3. die onverganklike lewe wat God vir ons belowe het – vers 10,
  4. die voorbeeld van Paulus (as prediker, apostel en leraar) wat hom aanspoor om te leef in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het – vers 13.

Timoteus moet homself aan dié dinge herinner om sy getrouheid aan die evangelie te versterk en weer die passie van sy roeping te herontdek deur dit soos ‘n vuur aan te blaas in afhanklikheid van die Heilige Gees.  Dan sal hy nie skaam wees om die evangelie te verkondig nie, en sy deel van die ontberings dra vir die evangelie, met die krag wat God gee.  Dié getrouheid moet volgehou word in die konteks van mense wat juis die teenoorgestelde doen: onder andere Figelus en Hermongenes (ons weet verder niks van hulle nie).  Daarteenoor is daar getroues soos Onesiforus, van Efese, wat op sy beurt vir Paulus in die tronk kom bemoedig het.

Boodskap en betekenis

Paulus herinner Timoteus dat sy roeping is om onbeskaamd en getrou by die evangelie te bly, selfs al bring dit swaarkry mee. Hy spoor hom aan om die “vuur” van sy roeping aan te wakker, en met die krag van die Gees sy deel van die lyding te dra. Hy moet moed skep uit die voorbeeld van bv. Onesiforus wat Paulus in die tronk kom opsoek het, sodat hy nie moedeloos raak vanweë die afvalligheid van ander wat van Paulus en die evangelie af weggedraai het. Só sal die krag van die Heilige Gees sorg dat hy getrou kan bly aan Christus en sy evangelie, ongeag teenstand of swaarkry.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.