Skip to main content

Rigters 3:7-31

Otniël, Ehud en Samgar red en rig die volk

Die tweede deel van die boek fokus op variasies op die siklus van verval en verlossing – Rigters 3:7–16:31. In hierdie deel word die verhale van afvalligheid, straf, roep na die Here en verlossing deur 12 verskillende leiers (wat ooreenstem met die aantal stamme van Israel) in die proses van die verowering van die land vertel:

Ses groter rigters

  • Otniël – hy kom uit Juda en veg teen die Arameërs. Sy verhaal is ‘n patroon vir die verhale van die res van die rigters wat hierna vertel word – Rigters 3:7-11;
  • Ehud – uit Benjamin teen die Moabiete – Rigters 3:12-30;
  • Debora (en Barak) – uit Efraim teen die Noordelike koalisie – Rigters 4:1-5:31;
  • Gideon (Jerubbaäl – en sy seun Abimelek) – uit Manasse teen die Midianiete en Amalekiete – Rigters 6:1-9:57;
  • Jefta – uit Manasse teen die Ammoniete – Rigters 10:6-12:7;
  • Simson – uit Dan teen die Filistyne – Rigters 13:1-16:31;

Gideon se verhaal kan as die hart van hierdie gedeelte geneem word, waarmee eintlik ‘n vraag op die tafel gesit word: Wie is Israel se koning? Dit lei ons ook af uit die feit dat Gideon se seun se naam Abimelek is, dit beteken “My pa is koning”.

Ses kleiner rigters

Ons vind hulle verspreid deur die boek in drie (vier) hoofstukke – Rigters 3 (5), 10, en 12.

  • Samgar – Rigters 3:31 (5:6);
  • Tola – Rigters 10:1-2;
  • Jaïr – Rigters 10:3-5;
  • Ibsan – Rigters 12:8-10;
  • Elon – Rigters 12:11-12;
  • Abdon – Rigters 12:13-15.

Teks en konteks

Otniël die held waarop die Gees gerus het

Ons het reeds van Otniël se heldedade kennis geneem waar hy met Aksa, die dogter van Kaleb trou, deur ‘n gebied vir Juda in te neem (Jos 15; Rigt 1). Otniël was waarskynlik ‘n jonger broer óf ‘n nefie van Kaleb. Hier word hy in die rol van ‘n rigter of redder aan ons bekend gestel. Meer nog, sy verhaal is ‘n patroon vir die verhale in die res van die boek. Dit lui die begin van die voortdurende siklus in van verval, straf, roep na God, en verlossing wat God bring deur ‘n rigter.

  1. VERVAL: Omdat die Israeliete doen wat reg is in hulle eie oë, doen hulle wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle hardkoppigheid maak dat hulle die Here hulle God vergeet en die Baäls (afgode verbind aan die god van die storm en die reën) en die Asjeras (“gewyde pale” verbind aan vrugbaarheid, vergelykbaar met maar nie identies aan die godin Astarte nie) gedien het.
  2. STRAF: Dit het die toorn van die Here laat ontvlam sodat Hy kwaad geword het vir die Israeliete. As straf het Hy hulle oorgegee in die mag van koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië. Die tweede deel van sy naam is waarskynlik ‘n bynaam, want Risatajim beteken in Hebreeus “dubbeld-goddeloos”. Die verdrukking het agt jaar geduur.
  3. ROEP NA GOD: Toe het die Israeliete tot die Here geroep en om uitkoms gevra.
  4. VERLOSSING: God het geantwoord en vir hulle ’n redder na vore laat kom, Otniël, wat hulle gered het en veertig jaar “gerig” het. Belangrik, die Gees van die Here was op hom wat nie net in sy roeping bevestig het nie, maar hom regdeur begelei het.

Interessant, Otniël word ‘n môšîaʹ genoem, ‘n “redder”, soos ook Ehud hierna. Sy werk word egter as dié van ‘n “rigter” beskryf in vers 10 waar die normale stam šôp̄ēṭ gebruik word. In Rigters 2:6 word die betekenisse weer omgeruil. Daar word die werkwoord wǎyyôšîʿûmʹ gebruik wat van dieselfde stam as die woord môšîaʹ kom. Redders en Rigters was dus een en dieselfde beskrywing van die mense wat die Here geroep het om sy werk te doen.

Ehud die hotklou boodskapper van God

Die volgende uitdaging kom van buite die land oos van die Jordaan af, waar koning Eglon van die Moabiete (een deel van Lot se nageslag) met die Ammoniete (ander deel van Lot se nageslag) en Amalekiete (deel van Esau se nageslag) saamspan teen Israel.

Ons kan dieselfde patroon as in Otniël se geval sien met die Israeliete wat weer verval het in dinge wat verkeerd was in die oë van die Here en Hy wat die drie nasies as straf teen hulle laat opruk en vir 18 jaar hulle onderdane maak.

Die Palmstad wat Eglon in besit neem, kan met Jerigo verbind word, ‘n stad wat met palms geassosieer is (Deut 34:2). Eglon het dus moontlik die stad in hergebruik geneem, indien die konneksie gehandhaaf word. Die vloek van Josua was waarskynlik egter téén Israel gemik, soos dit later in vervulling gaan (Jos 6:26; vgl 1 Kon 16:34).

Hulle het egter tot die Here geroep om hulp, en Hy het ’n redder-rigter – Ehud word ook ‘n môšîaʹ genoem – vir hulle na vore laat kom om hulle te verlos. Dat hy ’n Benjaminiet was van Gerar is betekenisvol, gegewe die afgryslike verhale wat nog vir ons wag in Rigters 19-21.

Dit is ook ironies dat die woord Benjamin as “seun van my regterhand” uitgelê kan word, en Ehud as linkshandige – ‘n hotklou soos ons in Afrikaans sê – vir koning Eglon vermoor. Trouens, dit was die geheim van sy sukses, want die wagte het die swaard van ‘n halwe meter lank aan sy regterkant gemis en Ehud kon die koning daarmee verras. Die Benjaminiete was na oorlewering dubbelhandig … (1 Kron 12:2).

Op sy pad terug van hulle belasting-betalery het hy sy manne gelos by Die Beelde (moontlik die twaalf klippe uit die Jordaan wat Josua daar as herinnering opgerig het – Jos 4:20) naby Gilgal, die plek vanwaar hulle die land aanvanklik ingeval het, en teruggekeer oor die Jordaan onder die voorwendsel dat hy ‘n geheime boodskap het vir die koning.

Die koning het daarvoor geval en die prys betaal vir sy nuuskierigheid. Let op hoe Ehud sy roeping verbind aan sy optrede: “Ek het ’n boodskap van God vir u.” Ehud kry dit reg om te ontsnap en laat blaas die ramshoring (sjofar) op die Efraimsberge om die Israeliete op te kommandeer om Moab te onderwerp. Dit het 80 jaar se vrede in die land gebring.

Samgar die man met die stok

Die laaste rigter wat in die hoofstuk genoem word, is Samgar. Hy het ses honderd Filistyne doodgeslaan met ’n stok en so vir Israel gered. Dit was ook nie sommer net só ‘n stok nie. Dit was waarskynlik ‘n stok van meer as drie meter lank waarmee osse hanteer is. Dit het ‘n ysterpunt gehad wat as jy dit skerp gemaak het, soos ‘n spies hanteer kon word.

Samgar het waarskynlik in Ehud se tyd opgetree, want in die volgende hoofstuk word nie na hom terugverwys nie, maar net na Ehud. Samgar word ook in Rigters 5:6 in Debora se lied genoem.

Boodskap en betekenis

Ons leer hier dat as Israel regtig swaar begin kry het onder hulle vyande het die Here rigters na vore gebring wat hulle kon red uit die mag van die rowers en vyande. Nie dat die volk altyd na hulle wou luister nie, want hulle opstand teen die Here en hulle ontrou aan sy gebooie was regtig diep. Daarom het hulle baie keer selfs terwyl daar ‘n sterk rigter opgetree het, steeds hulle eie kop gevolg.

Maar, so lank as wat die rigter gelewe het, het die Here medelye gehad met die volk. Met sy of haar dood was hulle egter in ‘n slegter situasie vanweë hulle volhardende hardkoppigheid en ongehoorsaamheid.

Só is die siklus van verval en verlossing in stand gehou. Aan die een kant weens die volk se dislojaliteit en hardkoppigheid. Aan die ander kant weens die Here se besluit om hulle op die proef te stel met hierdie swaarkry om te sien of hulle nie tot inkeer sal kom en gehoorsaam sal word aan sy wil nie.

Hy wou hulle ook leer om oorlog te maak sodat hulle sterker word in hulle eie gehoorsaamheid aan die Here … maar weens hulle ondertrouery met die ander nasies se seuns en dogters was die uitdaging van die afgode net te sterk …

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda