Habakuk 1
Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument
Inleiding
Die profeet Habakuk, tydgenoot van Jeremia en Obadja, maar verder onbekend, worstel met die vrae wat Nahum op die tafel sit. As God dan só streng en grusaam kan oordeel oor die nasies, soos in die geval van Nineve, hoekom doen Hy dit nie ook nou waar die onderdrukkende werklikheid van die Galdeërs (Hab 1:6) die Jode se voortbestaan bedreig nie?
Hoe kan die Here hoegenaamd sê dat hy nasies inspan – “Kyk, Ek gaan die Galdeërs laat optrek … (Hab 1:6) – terwyl hulle nie in Hom glo nie? Hoe kan die Here hulle toelaat om op gewelddadige en bose maniere op te tree? En hoe lank sal die onreg en geweld selfs onder die Godsvolk die oorhand hê? Kortom, hoe lank kan God nog toelaat dat onreg en boosheid gedy en regverdiges daaronder ly? Geregtigheid is immers ‘n grap in die land en die wêreld, soos Peterson in The Message skryf (Justice is a Joke – opskrif vir hoofstuk een).
Die Here oortuig Habakuk egter in sy gebedsworsteling dat al lyk dit op die oog af asof alles ten gronde gaan, God die regverdiges nie sal versaak nie. Op God se verlossing moet hulle wag, selfs al lyk dit asof dit/Hy talm. In volhardende wag, al dieper wordende luister en worstelende gebed met die Here lê hulle toekoms opgesluit.
Habakuk kan uiteindelik sê dat al lyk dinge op die oog af asof dit nie regkom nie, en eerder vererger: “nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag.” (Hab 3:18-19). God versaak dus nie dié wat hulle toevlug tot Hom neem nie.
Die boek toon daarom eintlik meer ooreenkomste met van die Psalms as met van die ander profetiese boeke. Dit is, soos die Psalms, meer ‘n gesprek met God as wat dit ‘n woord van God af is. Habakuk reflekteer dus meer van sy intersessorskap by God as dat hy as woordvoerder van God optree. Uit hfst. 2:1 blyk dit egter dat dit ook op ‘n woord vir die geloofsgemeenskap sal uitloop: “Ek wil wag om te verneem … wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.”
Weereens, soos die Psalms, is Habakuk daarom ook woorde wat God vir ons gee om vir Hom terug te sê. Kan ons Habakuk se woorde ons eie maak in watter uitdagende situasie ons ons ook al bevind. Trouens, Habakuk skryf sy gebed in hoofstuk 3 in die vorm van ‘n liturgie wat die geloofsgemeenskap kan gebruik in die erediens as klaaglied om by God in te tree vir watter situasie hulle ook al in verkeer (vgl. vers 1 en 19 – “Op die wysie van ‘n klaaglied … Vir die koorleier. Met snarespel.”).
Op dié manier is die boek op ‘n besondere manier ‘n boek van hoop, al weet ons dat die ballingskap uiteindelik wel gekom het en die volk vir sewentig jaar moes wag vir die uiteindelike verlossing. Uiteindelik het die Here hulle lot verander en kon hulle Hom weer dien in hulle eie land. En daarin lê ook vir ons die hoop vandag opgesluit.
Teks en konteks
Die eerste twee hoofstukke is ‘n roerende gesprek tussen Habakuk en God. Habakuk praat twee keer in hoofstuk een en die Here een keer. God praat twee keer meer uitgebreid in hoofstuk twee wat deur ‘n kort voorneme van Habakuk om te wag en te luister, ingelei word. Dit verloop as volg:
- Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument – 1:1-17
- Habakuk: Hoe kan u onreg verdra? – 1:2-4
- Die Here: Jy sal verstom staan oor wat Ek gaan doen – 1:5-11
- Habakuk: U kan tog nie niks doen aan die ellende nie? – 1:12-17
- Die Here stel Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf met oordeel ook oor die Galdeërs – 2:1-20
- Habakuk: Ek sal wag vir u antwoord vir die geloofsgemeenskap – 2:1
- Die Here: Julle moet geduldig bly wag, reg doen en getrou bly – 2:2-4
- Die Here: Ellende wag altyd vir die wat plunder, knoei en onreg pleeg – 2:5-20
Ons lees dit oor twee bydraes met die boodskap aan die einde van die volgende bydrae.
Habakuk 1:2-4 – Habakuk: Hoe kan u onreg verdra?
Habakuk se eerste woorde weerklink reg deur die eeue in gelowiges se gebede: “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here.” Wat Habakuk se klag nog meer intens maak, is dat dit nie net sy persoonlike nood is wat voor die Here gebring word nie, maar dié van die gemeenskap waar die gebrek aan geregtigheid ‘n grusame grap geraak het, a la Peterson. Waar Habakuk ook al kyk, is daar onreg en ellende, onderdrukking en geweld, getwis en gebaklei.
Sy ervaring is dat die wet geen krag meer het nie en dat die slegte mense die oorhand het oor die goeies. Nêrens geskied daar meer reg en geregtigheid nie. Die reg word verkrag. En dit is nie die Galdeërs en die nasies wie se onreg Habakuk van praat nie. Dit is sy eie mense, die mense van Juda!
Wat Habakuk egter nog dieper ontstel, is dat dit lyk asof die Here van ‘n afstand af net toekyk en niks doen aan die ellende en geweld in die Joodse geloofsgemeenskap nie. Waarom tree die Here nie op nie? Hy kan tog sien dat dinge nie só kan aangaan nie?
Habakuk 1:5-11 – Die Here: Jy sal verstom staan oor wat Ek gaan doen
Die Here antwoord vir Habakuk, maar nie met ‘n antwoord wat hom regtig gerus gaan stel nie. Die Here gaan Habakuk verstom met wat Hy gaan doen. Die Galdeërs sal as die Here se oordeelsinstrument optree en vrees en ontsag inboesem reg oor die aarde, ook in Juda: “Hulle perde is vinniger as luiperds, vuriger as honger wolwe.” Hulle sal die hele aarde verower en lag vir die weerstand wat van die nasies probeer bied teen die geweld van hulle aanslag.
Let egter op die ingeboude kritiek wat reeds in God se beskrywing van hulle mag ingesluit is: “Hulle ken net een wet, een trots, hulle eie … Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god.” Daarmee wys die Here dat Hy baie bewus is van die problematiek van hulle gebrek aan die regte Godsbewussyn en die gestalte daarvan in gehoorsaamheid aan God in die lewe. Daarin lê alreeds die oordeel van die Here oor die Galdeërs ingesluit, al gebruik Hy hulle tans as sy oordeelsinstrument.
Habakuk 1:12-17 – Habakuk: U kan tog nie niks doen aan die ellende nie?
Habakuk kan egter nie vrede maak met die feit dat dié oordeelsinstrument wat God gebruik eintlik slegter mense is as dié waarteen die Here hulle gebruik nie: “Waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is?” Die Here is tog ewig, heilig, soewerein en bekend daarvoor dat sy oë te rein is om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word: “U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie!”
Habakuk gryp terug op die skeppingsverhaal, soos onder andere verwoord in Ps. 8, dat die mens tog nie soos die diere is nie: “Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is, asof hulle kruipende insekte sonder leier is?” Hy wys ook op die goddeloosheid van die Galdeërs, wat selfs offers vir hulle nette bring, waarmee hulle hulle opstand teen God bewys, soos dit ook uitmond in hulle minagting vir die mense wat God geskep het.