Skip to main content

Job 42:7-17

Die Here verander die omstandighede van Job

Hierdie laaste hoofstuk vorm eintlik die sesde en sewende toneel van die prosa vertelling wat reeds in hoofstuk 1-2 aan die orde gestel is.  Dáár was vyf tonele wat  afwisselend uit Job en God se perspektief geskryf is.  Hier kom dié twee wêrelde bymekaar en praat God direk met Job se drie vriende – nogal ‘n bonus vir hulle! – en verander hulle almal se lot.  God gebruik nie net vir Job om versoening vir sy drie vriende te doen nie (42:7-9), maar verander ook sy situasie heeltemal (42:10-17).

My dienaar Job sal vir julle bid – 42:7-9

Let op hoe God uiteindelik vir Job tog in die gelyk stel teenoor sy vriende en Job as God se dienaar beskrywe.  Die Here is kwaad vir Elifas en sy twee vriende – Elihu word nie genoem nie – en beveel hulle om Job as priester te gebruik om deur offers in die reine te kom met God, en sy vergifnis te ontvang.  Twee maal word gesê dat hulle nie die waarheid oor God gepraat het nie, maar Job wel.

Hulle doen wat die Here vra en word vergewe ná Job vir hulle gebid het.

Die Here verander die omstandighede van Job – 42:10-17

Die Here verander Job se omstandighede en gee vir hom twee keer soveel as wat hy gehad het, en onthou, Job was verstommend ryk om mee te begin – veertien duisend stuk kleinvee in plaas van sewe duisend, ses duisend kamele in plaas van drie duisend ensomeer!

Sy materiële voorspoed word geëggo in die herstel van sy familie en sosiale verhoudinge: “al sy broers en susters en vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet.  Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het.” (42:11).  Hy het ook duur geskenke van hulle gekry.

Job se vrou se lot word natuurlik ook verander, omdat dié nuwe stel van tien kinders waarskynlik by haar was.  Hy het immers geen ander vrou of byvrou gehad nie.  Dus, hoewel haar naam nie genoem word nie, deel sy in die lotsverandering.  Hulle einde was selfs beter as hulle begin.

Job was reeds aanvanklik baie ryk en ook invloedryk: “Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man”! (Job 1:3).  Ná sy lyding het dié rykdom en invloed egter nog verder toegeneem: “Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste.” (Job 42:12).

Veral sy drie dogters wat ná sy worsteling gebore is, was merkwaardig.  Nie net word hulle name genoem nie: Jemima (= duif), Kesia (= Kassia – die bas waarvan ons kaneel kry), Keren-Puk (= oogskadu of maskara) – die seuns se name word verswyg! – en was hulle besonder mooi nie, maar hulle het ook saam met hulle broers geërf, soos die geval later ook was met die dogters van Selofgad, as gevolg waarvan dié reëling in die wet ingeskryf is (Num. 27; 36).

Hierdie lotsverandering van Job is dus ook waarskynlik die rede waarom Jakobus – een van die skeptiese broers van Jesus wat tot inkeer kom – in die NT vir Job aanhaal as ‘n voorbeeld van volharding.   Ons lees in Jakobus 5 hoe hy die gelowiges aanspoor om die Here se koms te bly verwag, om nie moeg te word en nie moed te verloor nie, ook nie oor mekaar te kla nie, en te volhard totdat die Here die uitkoms stuur aan die hand van die voorbeeld van Job.

Job word dus as voorbeeld van volharding vir hulle voorgehou, veral met die oog daarop dat sy verhaal wys waarop die Here dit laat uitloop het, naamlik, dat die Here gewys het dat Hy ryk is aan barmhartigheid en ontferming.

Jakobus se verwysing na Job as die een wat volhard, wys vir ons daarom ook nie net iets van Job nie, maar van die karakter van God self.  Geseënd is dié, sê Jakobus, wat ten spyte van hulle pyn en lyding, ten spyte van die onreg wat hulle moet verduur, steeds geduldig volhard in hulle verwagting van die koms van die Here. Want hulle sal, soos Job, ervaar dat die Here ryk is aan barmhartigheid en ontferming.

“Job het nog honderd en veertig jaar gelewe.  Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien.” (42:16).  Hy was dus ‘n groot-groot-groot-grootoupa voor sy oë toegemaak is!  Geen wonder die boek sluit af met die opsomming:

“Hy het ‘n vol lewe gehad.”

Vir verdere nadenke

Die LXX voeg ‘n geslagsregister aan die einde by wat Job ‘n nageslag maak van Abraham via Esau.

17a And it is written that he shall rise again with the ones whom the Lord shall raise up. 17b This man is described by the Syriac book as dwelling in the land of Uz on the borders of Edom and Arabia. And his name before was Jobab. 17c And, having taken an Arabian wife, he beget a son, whose name was Enan. And he himself had as father Zerah, from of the descendants of Esau. And his mother was Bosorra, so that it made him fifth from Abraham.

17d And these were the kings who were ruling in Edom, which country also he himself ruled: first, Bela, the son of Beor, and the name of his city was Dinhabah. And after Bela, Jobab, who was called Job. And after this, Husham, who was serving as leader from the country of Thaiman. And after this, Hadad, son of Bered, who destroyed Midian in the field of Moab, and the name of his city was Avith. 17e And the friends who came to him were Eliphaz, of the descendants of Esau, king of the Temanites; Bildad, the sovereign of the Shuhites; and Zophar, the king of the Naamathites. (Brannan, R. et al. (eds.) (2012) The Lexham English Septuagint. Bellingham, WA: Lexham Press, p. Job 42:12–17.)

Die oudste Hebreeuse manuskripte sowel as die Aramese vertaling wat by Qumran gevind is, het egter nie dié uitbreiding nie. Dit kom net voor in die LXX.

Die Joodse filosoof, Philo, ‘n tydgenoot van Jesus, noem ook nie Job se geslagsregister in sy bespreking van Job nie. Hy hanteer Job meer as ‘n simbool van deug en beproewing, eerder as om klem te lê op sy historisiteit.

Die Joodse historikus Josephus bespreek ook nie die LXX se geslagsregister van Job in sy Antiquities (93-94 n.C.) nie, terwyl hy wel baie ander Bybelkarakters met hulle geslagsregisters in die Bybel verbind. Hy ignoreer dus Job se geslagsregister.

In die Joodse Babiloniese Talmoed (Baba Bathra 15a-16b – ongeveer 550 n.C.) word daar ook nie na hierdie geslagsregister verwys nie, alhoewel die moontlikheid dat Job uit die nageslag van Esau gebore is, saam met ander opsies genoem word. Maar die Talmoed oorweeg hierdie moontlikheid onafhanklik van ‘n eksplisiete verwysing na die LXX se geslagsregister van Job.

Dieselfde geld al die Christelike kommentare uit die eerste eeue.

Dit is wel interessant dat die die eerste vers in hierdie gedeelte van die LXX wat verwys na Job se opstanding in die toekoms ‘n groter invloed gehad. In Afrikaans vertaal, staan daar geskrywe:

“En dit is geskryf dat hy weer sou opstaan saam met dié wat die Here vrees.” (Job 42:17b, LXX)

Hierdie toevoeging, wat ook nie in die Hebreeuse teks van die OT is nie, gee aan Job ‘n eskatologiese dimensie wat later Christelike gedagtes oor die opstanding en ewige lewe beïnvloed het.

Vroeë Christene, soos die kerkvaders Origenes (185-253 n.C.) en Chrysostomos (347-407 n.C.), het eksplisiet die LXX se eskatologiese uitspraak oor Job se opstanding aanvaar, maar die geslagsregister self was nie vir hulle ‘n belangrike eksegetiese element nie.

Hierdie kerkvaders, sowel as die latere kerkvader Augustinus (354-430 n.C.), het ook Job eerder as ‘n teologiese of tipologiese figuur behandel en nie veel klem gelê op sy historisiteit met ‘n spesifieke geslagsregister nie.

Die Latynse vertaling van die Bybel, die Vulgaat (405 n.C.), het nie die LXX gevolg nie, maar ‘n keuse gemaak vir die Hebreeuse teks. Daarom is die LXX se geslagsregister weggelaat, wat beteken het dat dit later in Christelike eksegese nie ‘n deurslaggewende rol gespeel het nie.

Dit bly dus ‘n interessante en weliswaar antieke historiese getuienis oor Job se moontlike insluiting in die nageslag van Esau. Maar, dit het nie ‘n groot invloed gehad in die interpretasie van die betekenis van Job vir gelowiges deur die eeue nie.

 

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar