Skip to main content

Ester 9-10

God red die Jode deur die leierskap van Mordegai en Ester

Die dertiende dag van Adar breek toe aan met die tafel gedek vir grootskaalse oorlog. Omdat die Jode egter voorbereid was, kon hulle weerstand bied en het hulle hul vyande oorweldig. Niemand kon voor hulle standhou nie.

Een van die redes vir die omkeer van die situasie was natuurlik dat Mordegai nou ‘n hoë posisie aan die hof van die koning beklee het en hy mag oor die goewerneurs van die provinsies gehad het. Trouens dit het bekend geword dat hy al hoe meer mag kry. Niemand wou dus van hom ’n vyand maak nie en al die leiers, verteenwoordigers, goewerneurs en ander in diens van die koning het die Jode daarom uitgelos oral in die 127 provinsies waar hulle in beheer was.

Daar was egter steeds gevegte. Selfs in die vestingstad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak, waaronder lede van die familie van Haman. Interessant genoeg word daar ’n paar keer gesê dat die Jode nie op die oorwonne vyande se besittings beslag gelê het nie.

Selfs die koning het ’n heilige ontsag gekry vir die weerstand van die Jode, sodat hy vir Ester sê: “Is daar iets wat jy nog wil vra? Dit sal aan jou gegee word. Het jy ‘n verdere versoek? Dit sal uitgevoer word.” Dit illustreer sy wispelturigheid en beginselloosheid. Hy is eintlik maar net besorg oor homself en hoe dinge homself gaan raak.

Ester is egter nie links nie en vra dat die Jode in Susan nog ’n dag toegelaat word om hulle self te verdedig, waarskynlik omdat sy meer eerstehandse kennis gehad het van die weerstand wat hulle daar ondervind het. Sy vra ook dat ’n voorbeeld gemaak word van die tien seuns van Haman wat eintlik alreeds doodgemaak is, maar nou ook verder verneder word deur hulle aan die galg te laat ophang.

Nog drie honderd man is daarom in Susan doodgemaak, maar weereens nie op hulle besittings beslag gelê nie. In totaal is vyf en sewentig duisend man doodgemaak in die Jode se verdedigingsproses reg deur die ryk.

Die 14de dag (15de dag in Susan, omdat hulle oorlog langer geduur het) is daarom ’n dag van feesviering en vreugde gemaak, weens die noue ontkoming van die Jode. Uit vreugde het hulle ook die gebruik gevestig dat dit ’n feesdag is waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur uit dankbaarheid vir die oorwinning.

Die Purimfees

Mordegai het hierdie feesdag geformaliseer deur al die gebeure te laat neerskryf (hy is daarom ook waarskynlik die skrywer van die boek Ester) en briewe te stuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, en die Jode te gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is ook bevestig deur ’n brief van Ester. Die Jode moes hierdie twee dae, dae van feesviering en vreugde maak, en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur. Dit het toe só ‘n vaste gebruik geword, iets wat vandag nog só gevier word.

Daar was ook ’n geestelike kant met voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Eintlik staan daar in die gebruikte grondteks nie die woord God nie, maar wel die volgende sin: “soos hulle vir hulself en hul nageslag die voorskrifte aangaande die vastyd en die daarby behorende weeklag vasgestel het.” Die weeklag het natuurlik met God te make, maar dit word nie eksplisiet só gestel nie.

Een van die voorskrifte vir die fees is dat die boek Ester telkens voorgelees moet word om die geskiedenis in hulle geheue te verfris. Daarby is een van die tradisies dat die Jode geleer word om elke keer dat Haman se naam genoem word, uit te roep: “Vervloek is Haman!” Elke keer wat Mordegai se naam gelees is, moet hulle uitroep: “Geseënd is Mordegai!” Die voorskrif lui verder, dat daar op dié fees baie wyn gedrink mag word, om die waarheid te sê, soveel wyn, het die rabbi’s gesê, totdat niemand meer die verskil sou ken tussen “vervloek is Haman” en “geseënd is Mordegai” nie. Kan jy nou meer!

Die boek sluit af met ’n paar verdere mededelings oor Ahasveros se regering, gekenmerk deur dwangarbeid, asook oor Mordegai se hoë pos, die tweede in bevel onder die koning, soos in die annale van die konings van Medië en Persië aangeteken is: “Hy was hoog in aansien by die Jode en gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die welvaart van sy mense beywer en die veiligheid van al hulle nakomelinge verseker.

Die boodskap van die boek

Die diepste indruk wat die boek op my laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere teenwoordig is in alles wat rondom ons en met ons gebeur. Soos Richard Niebuhr sê: “God is acting in everything that is happening to you. So respond to everything that happens as if to respond to God’s action” (Responsible Self). Dit is ’n baie raak beskrywing van wat ons in dié boek Ester aantref, al word God se naam nie een keer eksplisiet genoem nie.

God se hand is in alles teenwoordig, verborge en amper onopvallend, maar werklik en deurslaggewend. Hy laat die regte ding op die regte tyd gebeur, want Hy wil: “alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” (Rom 8:28). Dit doen hy deur omstandighede, onverwagte wendinge en die keuses van mense, ook jou eie keuses. Ons noem dit God se voorsiening. Hy IS die voorsienigheid! Buitengewone toevallighede is eintlik Godsvallighede!

Die boek leer ons ook hoe EEN persoon ’n verskil kan maak. Dit is ten diepste wat leierskap is, die besluit om ’n verskil te maak en dit uit te voer al bars die bottel. God gebruik ons waar ons is, al is ons alleen. Dit help natuurlik om ’n ondersteuningsnetwerk te hê soos Mordegai dit vir Ester is. En daar is dinge wat Ester kon doen, wat Mordegai nie kon nie en omgekeerd. Maar een mens wat doen wat God vra, wat met oorleg en wysheid optree en nie terugdeins van die verantwoordelikheid om dit te doen nie, maak ’n groot verskil, veral waar dit gedoen word in vertroue op die Here. Sela!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda