Skip to main content

2 Kronieke 30-31:1

Hiskia stel die Paasfees weer as nasionale fees vir die hele Israel in

Die volgende stap van Hiskia was om dié fees wat die volk van Israel gedefinieer het, die Paasfees, te vier. Dit is die fees waarin die uittog uit die slawerny van Egipte herdenk is en wat ’n kragtige simbool van die werklikheid van God se verkiesing van hulle as volk was, sowel as van hulle eenheid as volk.

Teks en konteks

Hiskia stuur terstond ’n uitnodiging aan die hele Israel om hulle almal uit te nooi om die Paasfees, “vir die Here die God van Israel te vier.” Interessant genoeg wag Hiskia nie tot die bestemde tyd (die eerste maand) nie, omdat dit sou beteken dat hulle bykans 11 maande moes wag en dít net te lank sou wees en die hervorming wat hy aangekondig het momentum sou kon laat verloor.

Hy raadpleeg sy amptenare en die hele gemeente van Jerusalem of hulle die Paasfees in die tweede maand sou kon vier en almal het dit goedgevind om dit so te doen. Dit was belangriker om ná ‘n lang tyd van afvalligheid die fees in die teenwoordigheid van die Here te vier, as om dit op die regte tyd te doen. Die volgende jaar sou hierdie uitsondering weer in lyn gebring word met die riglyne van die wet.

Hardlopers is deur die hele Israel en Juda met briewe van die koning om hulle uit te nooi waarin die Paasfees as bekeringsfees geteken word: “kom terug na die Here … dan sal Hy ook terugkom na julle toe.” Roerend word selfs die terugkoms van hulle broers en seuns uit die ander lande waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, aan die genade van barmhartigheid van die Here gekoppel, as die volk net hulleself onder God se heerskappy in aanbidding by die Paasfees sou kom stel.

Wisselende reaksies begroet die boodskappers. Sommige lag en spot, ander het berou gekry en teruggekom Jerusalem toe. En die Kronis sien daarin “die hand van God werksaam.” Hulle eendragtige gehoorsaamheid word aan God se werk gewyt en baie mense het by Hiskia hulle in Jerusalem kom aansluit.

In die proses is ook Jerusalem skoongemaak van afgodsaltare en het die Leviete en priesters (van wie daar waarskynlik nog mense was wat maar langtand aan dié nuwe hervormings gekou het) skaam gekry en hulle aan die Here gewy om hulle plek in die tempel te kan inneem.

Omdat die meeste van die skare mense wat opgedaag het hulle egter nie gereinig het nie en dit in stryd was met wat die wet oor die Paasfees voorgeskryf het, het Hiskia vir hulle gebid dat die Here in sy goedheid (dit is die enigste plek in die Bybel waar letterlik staan: “die goeie Here” of in Engels “the good Lord”) self vir hulle versoening sou doen, al is hulle nie volgens die reinheidsvoorskrifte aan Hom gewy nie.

En die Here het dié gebed van Hiskia om sy goedheid verhoor en die volk nie gestraf nie.

Die feesvierings duur die vereiste sewe dae, maar dit was so lekker dat hulle besluit het om dit na veertien dae te verleng! Let op dat selfs die vreemdelinge (moontlik die mense wat deur die Assiriërs in Samaria gevestig is, iets wat deur die wet toegelaat is – vgl Num 9:14) wat uit die land Israel gekom het, en die immigrante wat nou in Juda gewoon het, welkom was!

Geen wonder nie dat daar groot vreugde in Jerusalem was en dat die seënbede van die priesters en Leviete die hemel bereik het en God dit met goedkeuring gehoor het. Watter fees!

En vir die eerste keer word die hoogtes in Juda verwoes op die pad terug na elkeen se eie stukkie grond toe in Juda en Israel! ’n Monumentale hervorming wat op feestelike wyse die volk weer aan God verbind het.

Boodskap en betekenis

Die wyse waarop die Paasfees eenheid tussen ‘n diverse groepe mense bring, is van groot belang. Daar is nie net ‘n hele klomp uitsonderings wat gemaak word in terme van die vaste voorskrifte van die wet – met instemming van die hele gemeenskap wat vergader – maar ook in terme van wie mag deel word van die Paasfees. Die feesgangers kom uit die Jode wat in beide Israel as Juda gewoon het, ook uit die Israeliete wat as immigrante hulle in Juda gevestig het, sowel as uit die vreemdelinge wat in Samaria deur die Assiriërs gevestig is.

Die wet het van die begin af vreemdelinge ingesluit in die viering van die Paasfees, maar hier word dit op groot skaal pertinent deel van die geloofspraktyk gemaak. Iets soortgelyks word in Handelinge 15 gedoen waar geen beperkings geplaas word op gelowiges uit die heidendom om deel van die kerk te word nie, behalwe dat afgodery en immoraliteit nie toegelaat word nie.

Die soepelheid in die hantering van die wet se vaste voorskrifte tref my. ‘n Mens kan dit op talle plekke sien. Vgl bv Selofgad se dogters vir wie die erfreg verander word om onbedoelde gevolge wat tot verlies aan grond kan lei, te voorkom (leer meer daaroor in Num 27; 36). Dit beteken nie dat die wet daarmee relatief gemaak word nie, maar dat uitsonderings toegelaat word om die gees van die wet tot sy reg te laat kom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda