Skip to main content

1 Samuel 6:1-7:1

Wie kan bestaan in die teenwoordigheid van die Here?

Hoofstuk 6 fokus op die terugkeer van die ark na Israel. Die Filistyne word dus deur God se oordeel gedwing om eer aan Hom te gee. Ook die Israeliete kom onder God se oordeel weens hulle nuuskierigheid oor die ark wat hulle gebrek aan ontsag vir sy teenwoordigheid vertoon. Eers in Kirjat-Jearim by die huis van Abinadab, met die wyding van Eleasar om die ark van die Here op te pas, word die toorn van die Here afgewend.

Teks en konteks

Na sewe maande se siekte en dood is die raad van die Filistynse priesters en waarsêers dat die ark na Israeliese gebied teruggestuur moet word met ‘n “skuldoffer” (1933-vertaling). Die Hebreeuse woord vir “skuldoffer” – ʾāšām – kan ook met “geskenk” (1983-vertaling) of “skadevergoeding” (2020-vertaling) vertaal word. Die vertaling “skuldoffer” maak meer sin in die lig van Levitikus 5:14-6:7 se verklaring van die doel van die “skuldoffer”. Die Here se hand sal anders nie van hulle wyk nie.

Die skadevergoeding was goud wat in die vorm van die plae gegiet is – vyf swelsels en vyf muise namens elkeen van die vyf Filistynse stadheersers. Dit blyk nou dat daar ook ’n plaag van muise uitgebreek het soos dit inderdaad in die Griekse vertaling van die OT, die LXX, genoem word – “die land was oortrek van muise”. Terloops, die goue afbeeldings herinner aan wyse waarop die brons slang in die woestyn ook die plaag van giftige slange verbeeld het (Num 21:4).

Die doel van die skuldoffer-geskenk was om eer aan die God van Israel te betuig. Daarom waarsku die geestelike leiers hulle met die voorbeeld van Egipte wat hulle harte teen God verhard het en uiteindelik deur Hom gedwing is om die Israeliete te laat trek.

Hulle stel ook ‘n vervoerplan voor wat gemik is daarop om sekerheid te kry dat dit wel die Here se oordeel was en nie iets wat toevallig gebeur het nie. Dat die twee koeie ten spyte van hulle instink om eerder hulle kalwers melk te gee, die pad na Bet-Semes – een van die asiel-stede van die Leviete (Jos 21:16) – in Israeliese gebied neem, bevestig dat die oordeel van die Here was.

Die koeie gaan staan dan ook met die wa by die land van Josua, ‘n man van Bet-Semes, waar die koeie as ‘n brandoffer aan die Here geoffer is om die skuld uit te wis. Die Leviete het die proses bestuur waarna die Filistynse heersers terug is na Ekron. Die groot klip het daar as ‘n getuienis van die verhaal gebly.

Die probleem was egter dat ook die Israeliete die Here nie volledig geëer het nie deurdat hulle nie gesorg het dat die ark in die Allerheiligste van die tabernakel geplaas word nie. Hulle nuuskierigheid laat hulle die ark as ‘n doodgewone simbool hanteer. Daarom het die Here ook sy eie mense geoordeel (vgl Num 1:51 – onbevoegde mense mag nie na die ark toe kom nie, selfs nie eers om te help nie!).

Die grondteks sê direk vertaal: “sewentig man vyftigduisend man” het gesterf. Sommige vertalers laat dit net so al is dit moeilik om te glo dat die dorpie soveel mense kon hê. Sommige vertalers volg die enkele laat Hebreeuse manuskripte wat die vyftigduisend man uit die teks weglaat, maar die getuienis vir die oorspronklike lesing is te duidelik. Sommige harmonieer dit só: “sewentig man (van) vyftigduisend man” het gesterf, maar dan bly die vraag waarna die vyftigduisend verwys. Ek is geneig om dit ook net so te los as iets wat ons nie kan verklaar met ons huidige kennis nie.

Die effek op die mense van Bet-Semes was groot: “Wie kan voor hierdie heilige God, die Here, staande bly?” En hulle reël dat die ark na Kirjat-Jearim gestuur word – op die grens tussen Juda en Benjamin, 13 km noordwes van Jerusalem. Silo was nie meer beskikbaar nie weens die verwoesting daar. Eleasar, die seun van Abinadab, word gewy – “geheilig” of “afgesonder” – om die ark van die Here in sy pa se “huis” – dit dui waarskynlik op ‘n plaaslike tempel of heiligdom – op die regte manier op te pas. Abinadab was waarskynlik uit ‘n priesterlike familie.

Boodskap en betekenis

In Levitikus 10:3 word ‘n soortgelyke verhaal vertel van Aäron se seuns wat in God se teenwoordigheid sterf, omdat hulle ongeoorloofde vuur in die tabernakel ingebring het. Die skrywer spel die betekenis daarvan só uit:

“Wie ’n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”

Die noodsaak vir ontsag vir die Here staan uit in hierdie hoofstuk. Dit geld die heidense Filistyne sowel as die verbondsvolk van die Israeliete. God wil hê dat sy wil en voorskrifte tot in die fynste besonderhede nagekom word. Dit is slegs diegene wat Hom só volg, wat in sy teenwoordigheid kan bestaan.

Soos Dawid later sal skryf dat God bó alles geëer moet word:

“Here, wie mag ‘n gas wees in u tent? Wie mag tuisgaan op u heilige berg? Hy wat onberispelik leef en regverdig optree, wat van harte die waarheid praat. Hy laster nie, doen sy medemens nie kwaad aan nie en bespot nie sy naaste nie. In sy oë is die een wat verwerp is, veragtelik, maar hy eer dié wat vir die Here ontsag het.” (Ps 15:1-4)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…