Skip to main content

Esegiël 16

Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word

Esegiël se boodskap aan Jerusalem neem interessant genoeg nie net die geskiedenis van die Godsvolk in ag nie, maar ook die hele geskiedenis van die stad wat al die volke wat daarmee verbind word, insluit. Erkenning word hier gegee aan Jerusalem se Kanaänitiese geskiedenis waarin spesifiek die Amoriete en Hetiete genoem word (16:3).

Die woord aan Jerusalem is egter in die eerste plek ‘n oordeelswoord: “Mens, sê vir Jerusalem wat se afskuwelike dinge hy gedoen het.” (16:2). Die geskiedenis van God se verkiesing van Jerusalem as die plek waar Hy sy teenwoordigheid op ‘n besondere manier bekendgestel het, vorm dus die agtergrond vir sy veroordeling van hulle afgodery en politiekery.

Om hierdie boodskap oor te dra, word ‘n groot deel van die hoofstuk aan die uitgebreide metafoor van Jerusalem as ‘n verwerpte babadogter wat deur die Here gered is om uiteindelik sy vrou, sy koningin te word, gespandeer (vgl. hfst. 23 waar ‘n soortgelyke metafoor gebruik word).

Die Here het haar laat leef, laat groei, en laat vrugbaar wees. Sy het egter dié verbintenis versaak en haar aan ander minnaars oorgegee. Dít het die ellende van God se woede en haar minnaars – die Egiptenaars, Filistyne, en Assiriërs – se vyandskap oor haar gebring. Dieselfde lot as wat Samaria en Sodom getref het, is ook haar voorland.

Die gedeelte sluit wel in die tweede plek af met ‘n heilswoord, ‘n belofte van ‘n toekoms vir die stad en sy mense: “Ek gaan My met jou versoen ten spyte van alles wat jy gedoen het.” (16:63).

Teks en konteks

Esegiël 16:3-14 – Jy het Myne geword

Die Here herinner die mense van Jerusalem aan hulle verkiesing deur die Here (1 Kon. 11:13; Jes. 54:10). Hy het hulle uitgekies, ongeag hulle heidense agtergrond (Amoriete, Hetiete), om Syne te word (vgl. ook Dawid se rol: 2 Samuel 5).

Sout en olie word vandag nog gebruik in die Midde-Ooste deur vroedvroue om babas in te smeer en dan in doeke toe te draai. Die sout is waarskynlik vir sy antiseptiese kwaliteite gebruik en die olie om die vel te voed. Dié gebruik word nou as ‘n beskrywing van God se besorgdheid oor Jerusalem aangewend teenoor die verwaarlosing van hulle vorige afgode.

Die Here het vir hulle laat leef en laat groei (soos ‘n veldplant) tot sy ‘n pragtige meisie en uiteindelik ‘n volwasse vrou geword het (uitgedruk in seksuele terme: borste en hare). Toe het die Here haar aan Hom verbind (vgl. Rut 3:9 waar Boas ook op soortgelyke wyse Rut onder sy sorg geneem het) en met haar ‘n verbond aangegaan: “Jy het Myne geword.” Haar verkiesing as huweliksmaat word geïllustreer met die gawe van kleurvolle klere en kosbare juwele : “Jy het baie mooi geword, geskik om ‘n koningin te wees.

Esegiël 16:15-22 – Jy het egter syne geword

Jerusalem se skoonheid en beroemdheid het haar egter verlei om die Here te versaak en verbintenisse met ander lande en ook met ander afgode aan te gaan. Die prostitusie dui aan die een kant op die politieke spel wat Jerusalem met verskillende wêreldmagte deur die eeue gespeel het: Egipte, Assirië en Babilonië (Galdeërs). Aan die ander kant dui dit op die afgodery wat op die hoogtes met allerlei afgodsbeelde en offergawes bedryf is.

Die gramskap van die Here ontvlam spesifiek omdat hulle aan die een kant vergeet het van hulle verkiesing as Syne, en aan die ander kant dat hulle vergeet het dat alles van Hom af kom: “Jy het die kos wat Ek vir jou gegee het, voor hulle neergesit.” Daarbenewens het hulle boonop die praktyk van kinderoffers ingevoer wat besonder afskuwelik in die oë van die Here is. Let op dat die Here hulle verkwalik dat: “julle ook nog my kinders moes slag en hulle vir die afgode moes laat verbrand.

Esegiël 16:23-34 – Ellende wag vir jou

Daarom wag daar vir Jerusalem ellende, want hulle het onbeskroomd ander afgode gedien, sowel as met ander lande politieke alliansies gesluit (“hoereer”). Esegiël beskryf die politieke alliansie op baie grafiese seksuele wyse wat in die NAV eufemisties vertaal is: “gretig gelê en wag” en “goedbedeelde bure” (Egipte).

Dié afskuwelike gedrag het die Here só uitgetart dat Hy hulle regte ingekort en aan die willekeur van hulle vyande oorgelaat het – die Filistyne, Assiriërs en Galdese handelaars. Dit het Jerusalem egter nie tot inkeer gebring nie, maar eerder haar skaamteloosheid laat verhoog, sodat sy selfs haar neus opgetrek het vir betaling. Trouens sy het haar minnaars begin betaal! ‘n Duidelike verwysing na die stroping van die stad en tempel deur Nebukadnesar die afgelope dekade of wat.

Esegiël 16:35-43 – Ek gaan jou straf

Die Here gaan Jerusalem straf vir haar ontrou en skaamtelose gedrag – afgodery en politieke alliansies. Die Here gee haar oor aan presies dié mense met wie sy alliansies aangegaan het. Dat die grafiese manier waarop die inval beskryf word inderdaad is hoe dit gebeur het, wys weereens hoe die Goddelike ingrype en die politieke realiteit in mekaar gevleg is.

Die profetiese insig in wat polities aan die gebeur is, dra duidelik die boodskap dat dit eintlik die Here is wat agter die skerms besig is om sy gramskap oor Jerusalem se afvalligheid uit te woed. Jerusalem het die verkiesing en verbond van die Here vergeet, en dra nou die gevolge daarvan: “Ek het wat jy gedoen het, op jou kop laat afkom.

Esegiël 16:44-52 – Jy sal die skande en skaamte dra

Twee stede wat reeds deur die oordeel van die Here getref is, word hier gebruik as voorbeelde vir Jerusalem: Samaria en Sodom. Die feit dat hulle as ouer en jonger beskryf word, het met grootte te make, nie met ouderdom as sodanig nie. Samaria is verwoes in 722 v.C. en Sodom veel vroeër. Saam vorm dié drie stede – Sodom, Samaria, en Jerusalem – die spreekwoordelike “drie lelike susters” waarvan Jerusalem die lelikste is (Allen).

Sodom se sonde was selftevredenheid en hoogmoed, en ‘n gebrek aan deernis vir mense in nood. Die armes het nie gebaat by hulle oorvloed nie. Hulle het afskuwelike dinge gedoen, waarmee waarskynlik na die gebeure rondom Lot verwys word (Gen. 19). Daarom het die Here hulle uitgewis.

Samaria se sonde word nie soseer uitgespel nie, behalwe om te sê dat Jerusalem erger as hulle opgetree het. Jerusalem het aan Samaria (en Sodom) ‘n skyn van onskuld besorg, weens die omvang van Jerusalem se afgodery en afvalligheid in vergelyking met die ander twee stede. Daarom sal Jerusalem ook dié skande en skaamte dra.

Esegiël 16:53-63 – Ek gaan my met jou versoen ten spyte van alles

Tóg is dié straf nie die einde van Jerusalem nie. God se genade troef sy oordeel telkens weer. Hy gaan hulle lot verander, selfs die lot van Samaria (vgl. ook hfst. 37:15 vv.) en Sodom! Die toekoms van die noordryk (Samaria) sowel as dié van die nasies (Sodom) lê ook ná aan God se hart. Hy ontferm Hom ook oor hulle, soos Hy dit vir die suidryk (Jerusalem) sal doen.

God: “sal sy verbond weer laat geld”, en “dit altyd in stand hou.” God se straf is ingebed in sy verbond en hef nie die seën wat Hy vir die volk en selfs vir die nasies bedoel op nie. “Ek gaan My met jou versoen ten spyte van alles wat jy gedoen het.

Boodskap en betekenis

Die taal en metafore van dié hoofstuk is duidelik bedoel om te skok en te ontstel. Dit is baie grafies en seksueel van aard wanneer dit letterlik gelees word. Daarmee word die afgryse van die Here op kru en ontwrigtende wyse oorgedra. Hy duld geen afgodery of afvalligheid nie. Sy mense – en dit sluit uiteindelik almal in, selfs Sodom – is Syne, en Hy sal geen steen onaangeroer laat om hulle deur straf en seën vir Homself op te eis nie.

Let op dat God instaan vir die verbreking van die verbond. God: “sal sy verbond weer laat geld”, en “dit altyd in stand hou.” God se straf is ingebed in sy verbond en hef nie die seën wat Hy vir die volk en selfs vir die nasies bedoel op nie. “Ek gaan My met jou versoen ten spyte van alles wat jy gedoen het.

Dit is dié boodskap wat die toets van die tyd deurstaan het, en waarop die hele openbaring van die NT verhaal van Jesus en die bediening van die versoening gebou is (vgl. 2 Korintiërs 5:11-6:13). Dit is ook die basis vir ons uitreik na die res van God se mense wat nóg nie dié versoening met God aanvaar het nie. Soos ek vroeër geskryf het in 2 Kor. 5:

Paulus skets versoening dus hier as die hart van die bediening – versoening met God in die sin van ‘n vryspraak van sonde en ‘n nuwe verhouding met Hom, en versoening met ander deur hulle harte onderling wyd oop te maak vir mekaar. Maar let op, 1) dit is God se program van versoening waarby Paulus-hulle inskakel – en dit is ook hoe ons die taak van versoening moet behartig, as medewerkers van God, as sy ambassadeurs; 2) dit is bedoel vir die hele wêreld, en moet deur ons na almal geneem word.

Soos Chrisostomus, die groot prediker van Antiochië, later hieroor sou skryf:

“Just as what brings heat makes things expand, so it is the gift of love to stretch hearts wide open; it is a warm and glowing virtue.”

Dit was Jesus se dryfveer … dit was Paulus se dryfveer … en dit is die enigste dryfveer wat ook ons lewens moet rig – die liefde vir God en vir ons naaste.

En sal ek vandag byvoeg – dit is wat God dryf: sy passie om hierdie wêreld met Homself te versoen. Ons is ambassadeurs van daardie versoenende passie van God!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…