Skip to main content

Job 33

Elihu 1: God hoef nie rekenskap aan jou te gee nie

Elihu begin sy eerste toespraak met ‘n bevestiging van sy eie menswees.  Dit gee hom die reg om met Job te mag praat, hoewel dit ‘n gelyke reg is, omdat hy ook maar uit klei gevorm is.  Maar vanuit dié posisie wil hy weet hoekom Job dan vir God beskuldig.  Hy hoef mos nie rekenskap aan Job te gee nie? (33:1-13).

Elihu brei dan die drie vriende se oorsaak-en-gevolg teologie uit met twee basiese fundamentele beginsels van God se rol in die voorspoed of verlies wat mense ervaar: 1) God spreek die mens aan deur ‘n openbaring om hom te waarsku van ‘n verkeerde koers (33:14-18).  2) God spreek die mens aan deur ernstige siekte dat hy hom tot God kan wend om deur vergifnis weer gesondheid te kan ervaar (33:19-30).

God hoef nie rekenskap aan jou te gee nie – 33:1-13

Elihu begin deur sy status as skepsel van God te erken en te bevestig: “Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige het my die lewe gegee.” (33:4).  ‘n Duidelike verwysing na die twee skeppingsverhale, Genesis 1:1 en 2:7.

Aan die een kant bevestig Elihu sy menswees om sy reg om te praat met Job te verdedig: “Voor God is ek en jy gelyk.” Interessant genoeg is hy ook die enigste een van die gesprekgenote wat Job direk op sy naam noem.  Die ander – Elifas, Bildad, en Sofar – het dit nie gedoen nie.

Aan die ander kant bevestig Elihu sy menswees om te verklaar dat hy nie uit die hoogte kan of gaan praat nie: “Ook ék is maar net uit klei gevorm.”  (33:6).  Hy kan nie aanspraak maak op een of ander status of maatstaf wat sy woorde noodwendig van groter of meer belang as die ander s’n gaan maak nie.  Daaroor sal ander self moet nadink.

Dit gaan egter nie voorkom dat hy reguit gaan praat en eerlik gaan sê wat hy weet nie.  Job moet hom antwoord as hy kan.  Elihu wil dit nie vir hom moeilik maak nie, maar Job sal moet verduidelik hoekom hy homself as onskuldig beskou.  Elihu dink nie Job sal homself kan handhaaf voor God met só ‘n houding nie: “God is meer as die mens … Hy hoef nie vir jou rekenskap te gee van sy dade nie.” (33:13).

God spreek die mens aan deur ‘n openbaring om hom te waarsku van ‘n verkeerde koers (33:14-18).

Elihu is ernstig daaroor dat God op verskillende maniere met mense praat.  Hy openbaar Homself bv. deur ‘n droom of ‘n gesig in die nag, veral oor die koers wat mense se lewens inslaan.  Hy doen dit eerstens om mense van verkeerde dade af weg te hou en tweedens om hulle van hoogmoed te weerhou.

God se bedoeling met sy waarskuwings is nie om seer te maak of af te kraak nie, maar tot insig te bring, om mense van die dood te weerhou, die dood sonder Hom.  Hy wil niemand laat verlore gaan nie, soos Petrus jare later God se geduld in Christus sou verduidelik: “omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Pet. 3:9).  Daar kom natuurlik ‘n dag waarop dit te laat kan wees vir bekering, maar God se intensie is altyd vir genade, so lank as wat dié genadetyd nog beskikbaar is.

God spreek die mens aan deur ernstige siekte dat hy hom tot God kan wend om deur vergifnis weer gesondheid te kan ervaar (33:19-30).

Op dieselfde manier moet ‘n mens oor ernstige siekte dink, sê Elihu.  God spreek ook mense aan deur ernstige siekte sodat hulle hulle tot God kan wend om deur vergifnis weer gesondheid te kan ervaar.  Al wat nodig is, is ‘n boodskapper (NAV het “engel” – die teks sê egter net boodskapper – dit kan dus ‘n hemelse of ‘n aardse persoon wees), iemand wat as middelaar kan optree, om nie net vir hom te kan pleit by God nie, maar ook by hom te kan pleit vir gehoorsaamheid aan God se wil.

Waar só ‘n persoon se verhouding met God herstel word en hy of sy weer reg leef voor God, dáár het die siekte sy doel gedien en dien dit tot ‘n getuienis van God se genade: “tog het God my nie gestraf soos ek verdien nie.” (33:27).

Dit alles doen God met die mens, selfs meer as een keer.  So keer God die mens weg van die graf af en laat Hy hom weer lewe.” (33:28).

‘n Mens sien Paulus op ‘n soortgelyke manier praat oor God se toorn wat ‘n openbaring is van die koers wat hy afkeur in terme van sedelike onreinheid, skandelike drifte, en onbetaamlike optrede (Rom. 1:18-32).  Niemand word van dié waarskuwings uitgesluit nie: “Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe; maar aan dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.” (Rom. 2:6-8).

En dan in taal wat eintlik met dié van Elihu ooreenkom, sê Paulus: “Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen … Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen … God trek immers niemand voor nie.” (Rom. 2:9-11).

So far, so good.”  Elihu is nog “spot-on” in terme van sy teologisering.  Hy is ook baie meer genuanseerd as die drie vriende, ten spyte van sy jonkheid.  Die probleem gaan kom met sy ontleding van Job se situasie, wanneer hy sy uitsprake oor God se bedoeling omdraai, en uit die lyding en benoudheid wat Job ervaar, sal aflei dat Job inderdaad móés gesondig het … en sy teologie op dieselfde wyse as die drie vriende onbarmhartig en onwys raak.

Dít sal ‘n mens in die volgende hoofstuk met sy tweede toespraak begin sien wanneer hy Job aanraai om die saak met die Here uit te maak, deur te sê: “ek sal nie weer oortree nie.” (34:31).  En sy oordeel oor Job raak net so skerp soos die drie vriende s’n as hy in die vierde toespraak sê: “Moet ook nie jou toevlug neem tot sonde nie, jy verkies dit immers bo swaarkry.” (36:21).

Elihu sluit af met ‘n halwe uitnodiging aan Job om te praat, want eintlik wil hy hê dat Job net moet stilbly dat Elihu sy sê kan klaar sê.  Hy praat dus vir Job eintlik dood: “Maar as jy niks het om te sê nie, luister na my, bly stil, laat ek jou leer wat wysheid is.” (33:33).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda