Skip to main content

1 Timoteus 3:14-4:16

Die gemeente is die basis en ondersteuning van die waarheid

Paulus herinner in hierdie gedeelte die gemeente dat hulle die huis van die Lewende God is – die pilaar (ondersteuning) en fondament (basis) van die waarheid. Timoteus se roeping is om hierdie waarheid konsekwent voor te hou en self ’n voorbeeld te wees in leer, toewyding en karakter. Só word die gemeente versterk om haar roeping as draer van die evangelie en as sigbare getuienis van Christus in die wêreld te vervul.

Teks en konteks

Pilaar en fondament van die waarheid – 1 Timoteus 3:14-16

Dit is insiggewend dat hoofstuk 3 afsluit met ‘n herinnering aan die leierskap dat hulle die oorsprong en doel van die gemeente in gedagte moet hou: dat hulle die gemeente is van die lewende God, en dat die gemeente die pilaar en fondament van die waarheid is (1 Tim. 3:15).

God is die middelpunt van die gemeente, en Hy is die Lewende, die Een wat goed laat gebeur.  Hy kies die gemeente as die basis (fondament) en ondersteuning (pilaar) van die waarheid, wat natuurlik nie net op die waarheid van die evangelie dui nie, maar op die Waarheid in terme van die persoon en werk van Jesus Christus.

Die gemeente word dus met metafore uit die boubedryf beskryf – pilaar en fondament.  Paulus wil dus sê, dat die waarheid van die evangelie en die bewussyn van die Waarheid, Jesus Christus, berus op die bevestiging en ondersteuning wat dit geniet binne die gemeenskap van gelowiges.

Let op hoe Paulus hiermee eintlik ook die doel uitspel van die lewe in geloof (hoofstuk 1), die lewe in gebed (hoofstuk 2) en die lewe met karakter van die leiers van die gemeente (hoofstuk 3).  Alles en almal moet meewerk om die evangelie van Jesus Christus aan hierdie wêreld op ‘n egte en outentieke manier bekend te stel.

Die gevaar van afvalligheid – 1 Timoteus 4:1-5

Die rede dus vir die standvastigheid van die gemeente word nou uitgespel.  Die waarheid moet gekoester word, omdat die gevaar van afvalligheid so groot is.  Die bron van die dwaalleringe oor die huwelik en kos word as leerstellings van bose geeste uitgespel, hoewel die bose geeste moontlik sinoniem met die dwaalleraars self is.  Wat as ‘n diep waarheid verkondig word – om jou van die huwelik en sekere kossoorte te weerhou – blyk skynheilige misleidings te wees, verdraaiings van die waarheid.  En die gemeente moet hulle nie daardeur laat meesleur nie.  God werk nie beperkend nie, maar helend en heiligend.

Die fokus van die bediening – 1 Timoteus 4:6-16

Waar Paulus in die eerste 3 hoofstukke uitgebrei het oor die geloof en gebed van die gemeente, sowel as die karakter van die leierskap, fokus hy Timoteus se aandag nou op sy eie bediening in die gemeente.  En sy hoofopdrag is om hierdie dinge aan die gemeente voor te hou, sodat die gemeente sy funksie as basis en ondersteuning van die waarheid kan vervul.

Om dit goed te kan doen, moet hy nougeset let op sy eie leer en lewe, sodat hy self in totale toewyding aan die Here kan leef, en ‘n voorbeeld vir die gemeente en die gelowiges kan wees.  Die primêre “tools” wat hy het, is 1) die Woord, en 2) die voorbeeld van sy eie lewe, wat van net soveel karakter as die ander leiers, indien nie meer nie, moet getuig.

Boodskap en betekenis

Paulus leer hier vir Timoteus dat die gemeente die evangelie van Christus betroubaar deur hulle lewe en getuienis moet verkondig. Omdat daar altyd die gevaar van afvalligheid en dwaalleringe bestaan, moet hy sorg dat die gemeente die waarheid bevestig en leef. Die kerk se doel is immers om die waarheid van Christus te dra en te onderskryf. Daarom moet ook hy getrou bly in lering en ‘n heilige lewenswandel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar