Skip to main content

Psalm 14

Net ‘n dwaas sê daar is geen God nie

Psalm 14 en 53 het basies dieselfde inhoud, met net ’n paar woorde en die opskrifte wat verskil. Die hoofverskil lê in die gebruik van God se naam. Psalm 14 gebruik 4 keer God se persoonsnaam, Jahwe, en Psalm 53 net die algemene naam vir God, Êlôhîm. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan verskillende redakteurs wat afsonderlik gewerk het met ‘n gedig wat hulle toe elkeen op sy eie manier aangepas het. Albei Psalms was in gebruik in die liturgie en is dus ingesluit in die uiteindelike Psalmboek.

Die Psalms is byna perfekte duplikate vir mekaar – dit reflekteer oor die dwaasheid van die ontkenning van God. Die Psalms pas dus goed in ‘n refleksie oor wat ‘n mens hiervan in die lewe van Saul (en Nabal) kon raaksien. Daarom hanteer ek díe twee Psalms hier.

Teks en konteks

Die kontras in die Psalm is nie tussen ryk en arm nie, maar tussen goddeloses en regverdiges, hoewel dit wel wil lyk asof die regverdiges hier ook arm is (hulpeloos) – vers 5. Die kontras is tussen dwases en wyses, tussen onverstandiges en verstandiges, mense wat niks van God begryp nie, en die wat iets van God begryp. En let op dat hierdie kontras nie tussen intellektuele dwases en wyses is nie, maar tussen geestelike dwases en wyses. Intellek en verstandelike vermoëns is nie in die Psalmis se visier nie, wel hulle verhouding met God en begrip vir wat Hy doen, al dan nie.

Om dwaas te wees

Om dwaas te wees, is ook nie ‘n beskrywing uit ‘n menslike perspektief nie, maar uit God se perspektief. Dit is Hy wat hulle as dwaas beskou. Uit ons hoek kan iemand ryk en suksesvol en magtig voorkom. Uit God se hoek kan so iemand arm, ‘n mislukking en swak voorkom.

‘n Dwaas is dus iemand wat lewe sonder om na God te luister om van Hom leiding te ontvang om sy of haar lewe te kan rig en laat begelei. ‘n Wyse is iemand wie se lewe juis draai om die luister na God en die vertroue op die pad waarop Hy sy of haar lewe begelei.

Dwases se lewens word daarom gekenmerk deur liefdeloosheid – pleeg onreg, eet ander op asof hulle brood is! Dwases kan die wyses ook nie uitstaan nie, en vat hulle op allerhande maniere aan. Wyses boet dus onder die aanslag van dwases, net omdat die dwases nie die geloof en vertroue in God, wat wyses se lewens kenmerk, kan vat nie!

Om wys te wees

Wyses se lewens word daarenteen gekenmerk deur ‘n toevlug neem tot God en ‘n vertroue op Sy redding en lotsverandering. Hulle sal juig en bly wees – en in God se teenwoordigheid tot hulle reg kom (dit loop Psalm 15 en 24 vooruit wat hieroor verder nadink).

Ons moet egter nie te gou die dwase in ons omgewing soek nie. Die Psalm is duidelik daaroor dat dwaasheid eintlik ‘n algemene kenmerk van die mensdom is, en dat dit ook vir ons insluit. Dit is waarom Paulus uit hierdie verse aanhaal in Rom 3 en die evangelie van Jesus Christus as ‘n weg uit die dwaasheid verkondig en spesifiek sê dat God deur sy Gees sy liefde in ons harte uitgestort het (Rom 5), om ons dwaasheid in liefde te verander. Kragtig!

Boodskap en betekenis

Die Psalmis se nadenke oor die mens het hom aanvanklik dus na ‘n klaaglied gelei, maar dit mond uiteindelik uit in ‘n bede tot God om verlos te word (van dwase en om self nie dwaas te wees nie), en die verwagting om God se aktiewe teenwoordigheid in sy of haar gemeenskap te ervaar. Dit is waarom Craigie voorstel dat ons die Psalm moet lees as ons geestelike pelgrimstog, waar onsself van dwaasheid tot begrip en liefde beweeg word.

Terloops – die vertaling in vers 6 “God is aan die kant van die regverdiges” lees eintlik letterlik “God is in die vergadering van die regverdiges”. Dws God is teenwoordig in die gemeenskap van die wat Hom dien, as ‘n beskerming teen die wat teen hulle planne beraam.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders