Skip to main content

Johannes 6

Jesus, die Brood van die Lewe

Johannes 6 wys dat Jesus meer as net ‘n wonderwerker is. Hy is die vervulling van God se beloftes en die bron van ewige lewe. Dié wat in Hom glo, word nie net fisies gevoed nie, maar ook geestelik deur gemeenskap met Hom as die Brood van die lewe.

Teks en konteks

Jesus se vierde wonderteken by die berg: die voeding van vyfduisend (Johannes 6:1-14)

Johannes beskryf Jesus se vierde wonderteken, die vermeerdering van die brood, wat verbind word aan sy verklaring dat Hy die Brood van die lewe is. Johannes gebruik wondertekens om God se werk in Jesus te openbaar en koppel dit aan diepgaande leringe.

6:1-4 Jesus beweeg na die westekant van die See van Galilea en gaan op ‘n berg sit. ‘n Groot skare volg Hom omdat hulle sy wonderwerke gesien het. Die gebeurtenis vind plaas net voor die tweede Paasfees van Jesus se bediening.

6:5-7 Jesus vra vir Filippus hoe die skare gevoed kan word, al weet Hy wat Hy gaan doen. Filippus is oorweldig en bereken dat tweehonderd dagloners se salaris nie eers genoeg sal wees nie. Andreas bring ‘n seuntjie se vyf garsbrode en twee visse, maar is onseker of dit sal help.

6:10-13 Jesus laat die mense op die gras sit, dank God, en deel die brood en vis uit. Almal eet soveel as wat hulle wil. Daarna word twaalf mandjies oorblyfsels opgetel. Dit dui op Jesus se oorvloedige voorsiening.

6:14-15 Die skare herken Jesus as die Profeet wat sou kom (Deut 18:15). Hulle wil Hom met geweld koning maak, maar Hy onttrek Hom na die berg.

Boodskap en betekenis
Hierdie wonderteken bevestig Jesus se goddelike vermoë om te voorsien, soortgelyk aan God se voorsiening van manna in die woestyn. Dit wys ook dat geloof gebaseer op wonderwerke oppervlakkig is, terwyl ware geloof fokus op Jesus self as die Brood van die lewe.

Jesus se vyfde wonderteken: Hy loop oor die see na Kapernaum (Johannes 6:16-21)

6:16-18 Die dissipels vaar met ‘n skuit na Kapernaum. Dit is donker en ‘n sterk wind maak die see rof. Jesus bly op die berg om te bid.

6:19-21 Nadat die dissipels omtrent 5 km geroei het, sien hulle Jesus op die water aankom. Hulle is bang, maar Hy verseker hulle: “Dit is Ek.” Hulle laat Hom aan boord kom, en onmiddellik bereik die skuit die kus, moontlik nog ‘n wonderwerk.

Boodskap en betekenis
Hierdie wonderteken beklemtoon Jesus se dubbele natuur. Aan die eenkant is Hy die herkenbare werklike mens wat saam met hulle in die boot kan vaar. Aan die anderkant is Hy die enigmatiese Goddelike wese wat ook op die water kan loop. Albei kante van Hom is noodsaaklik vir ons verstaan van Hom. As mens kan ons Hom as een van ons aanvaar. As God kan ons Hom as Een met God aanbid. Dit versterk geloof in sy uniekheid as die Seun van God.

Ek is die Brood van die lewe – die eerste “Ek is”-uitspraak (Johannes 6:22-40)

Jesus gebruik die broodvermeerdering as ‘n platform om sy identiteit as die Brood van die lewe te verkondig.

6:22-25 Die skare besef Jesus is nie meer aan die oorkant van die meer nie en soek Hom in Kapernaum.

6:26-27 Jesus wys hulle op die feit dat hulle Hom volg vir die kos wat Hy gee en nie die dieper betekenis van die wonderteken verstaan nie. Hy rig hulle aandag op die ewige lewe en sy rol as die Een wat God gestuur het.

6:28-29 Op die vraag wat hulle moet doen om God se werke te verrig, sê Jesus dat hulle moet glo in Hom wat deur God gestuur is.

6:30-33 Hulle vra watter wonder Hy sal doen, soos Moses wat manna gegee het. Jesus verduidelik dat God nou die ware brood gee wat lewe aan die wêreld bring – Hyself.

6:34-40 Jesus verklaar dat Hy die Brood van die lewe is. Dié wat in Hom glo, sal nooit geestelik honger of dors kry nie. Hy belowe ewige lewe en sal elke gelowige op die laaste dag opwek.

Boodskap en betekenis
Jesus rig die mense se fokus van fisiese behoeftes op die geestelike werklikheid van wie Hy is. Hy is die Brood wat ware lewe gee en gemeenskap met God moontlik maak.

Jesus verklaar dat hy wat glo, die ewige lewe het (Johannes 6:41-59)

6:41-51 Die Joodse leiers (ook “die Jode” genoem) begin teen Jesus murmureer oor sy verklaring dat Hy die brood uit die hemel is. Hulle verwerp sy goddelike aansprake en verwys na sy bekende aardse familie. Hierdie murmurering herinner aan die Israeliete se opstand teen God in die woestyn (Eks 17). Jesus reageer direk en verklaar dat alleen die Vader mense na Hom trek, en slegs dié wat deur God geleer word, sal die ewige lewe ontvang. Hy vergelyk die tydelike manna in die woestyn, wat nie die Israeliete kon red nie, met Homself as die ewige Brood wat ware lewe gee deur sy eie vlees en bloed.

6:52-59 Die leiers stry oor hoe Jesus sy vlees kan gee om te eet. Hulle verstaan sy woorde letterlik, maar Jesus verduidelik verder dat sy liggaam en bloed geestelike voeding bied. Hy verwys metafories na geloof in Homself en beklemtoon die intieme gemeenskap wat gelowiges deur Hom met God het. Hierdie woorde wys ook vooruit na die kruis en die instelling van die nagmaal. Hy verduidelik dat net soos Hy as gevolg van die Vader lewe, sal dié wat in Hom glo, lewe deur Hom.

Boodskap en betekenis
Jesus openbaar dat Hy die middelpunt is van die verhouding tussen God en mense. Dié wat in Hom glo, ontvang nie net die ewige lewe nie, maar ook intieme gemeenskap met Hom en die Vader. Hierdie lering stel hulle voor ‘n keuse tussen geloof en ongeloof, met ewige implikasies.

Simon Petrus verklaar dat Jesus die Heilige van God is (Johannes 6:60-71)

6:60 Nie net die Joodse leiers nie, maar ook baie van Jesus se dissipels sukkel met sy woorde. Hulle aanstoot kom van die implikasie dat Jesus nie net ‘n mens is nie, maar God self. Gemeenskap met Hom beteken dus gemeenskap met God, en sy gesag is absoluut.

6:61-63 Jesus verdiep die gesprek deur sy hemelvaart en die uitstorting van die Gees te voorspel. Hy benadruk dat sy woorde lewe gee deur die werking van die Gees. Die Skrif en die Gees is onafskeidbaar in die lewe van gelowiges.

6:64-65 Jesus wys daarop dat sommige van sy dissipels nie in Hom glo nie, wat later as Judas openbaar sou word. Net dié wat deur die Vader getrek word, kan in Hom glo.

6:66-71 Baie dissipels verlaat Jesus omdat sy leringe te moeilik is om te aanvaar. Hy vra die oorblywende twaalf of hulle ook wil weggaan. Petrus bely namens hulle dat Jesus die woorde van die ewige lewe het en die Heilige van God is. Jesus bevestig die twaalf se lojaliteit, maar waarsku dat een van hulle (Judas) Hom sal verraai.

Boodskap en betekenis
Jesus se woorde vra ‘n diep lojaliteit en geloof, selfs al is dit moeilik om te aanvaar. Diegene wat deur God geleer is, bly aan Jesus verbind, ongeag die koste. Petrus se belydenis toon dat ware geloof ‘n onverbreekbare verhouding met Jesus skep, wat selfs lyding en dood trotseer.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar