Bybelskool

Oor my

Ek het in 1978 op Stellenbosch teologie gaan studeer en in 1984 klaargemaak.  Terwyl ek verder gestudeer het, is ek in 1986 as studenteleraar na die gemeente Somerstrand, Port Elizabeth, beroep.  Ek het my studies in die Ou Testament voortgesit en my doktersgraad in 1993 behaal.  My onderwerp was “Die vervulde landsbelofte as literêre en teologiese motief in die boek Jeremia“.

Met die groei in die gemeente Somerstrand het ek in 1990 gemeenteleraar geword, ‘n pos wat ek tans nog beklee.  Ek is ongelooflik bevoorreg om so ‘n groot groep gelowiges te hê wat saam met my die pad stap, en my toelaat om nie net in die gemeente nie, maar ook wyer my gawes aan te wend en die Here op dié manier te dien.

My bediening het in die laaste paar jaar op twee vlakke ontwikkel.

  1. Ek is al hoe meer in leiersposisies ingetrek in die sinode en Algemene Sinode en dien tans op die moderatuur van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
  2. Ek het ook by fasilitering van gemeentes en die ontwikkeling van materiaal vir geestelike verryking betrokke geraak, onder andere by GDN, Communitas en die Seisoen van Luister, waarvoor ek ook steeds as webmeester optree.

My betrokkenheid veral by die ontwikkeling van die luistersiklus van die Seisoen van Luister – en met die skrywe van ‘n hele paar boeke saam met Nico Simpson en Frederick Marais – het my passie vir die Bybel en die lees van die Bybel eksponensieel laat groei.

Met ‘n besoek aan die gemeente Willow Creek in Chicago, Illinois, in 2008 het hulle Midweek byeenkoms my uitgedaag om iets soortgelyks te probeer in Somerstrand.  En met ons beplanning in die gemeente is die gedagte van ‘n Bybelskool gebore.

En die res is geskiedenis, soos hulle sê. Ons het elke week bymekaar gekom tot in 2018!

Ek is deur my kollegas ondersteun met die uitdaging: Werk die hele Bybel deur! … en deur die Here se genade is dit presies wat ek kon doen. Bydraes oor al 1 189 hoofstukke van die Bybel is hier beskikbaar.

Skryf het uiteraard in die dekade-lange fokus op die Bybel al hoe meer belangrik geraak vir my. Ek het ‘n webtuiste geskep waar jy inligting oor al my boeke kan kry: chrisvanwyk.co.za. Jy kan die boeke ook daar aanskaf met die skakels wat ek verskaf.

Chris van Wyk

     

Comments (14)

  • Avatar

    Theresa

    |

    chris, ek is tans in iets wat soos n nagmerrie voel wat nooit einde kry nie, en my hoop en geloof is teen die grond. ek sal graag met jou wil gesels oor hoop en geloof want ek weet nie met wie om te praat oor die hoekoms en waaroms van die Bybel nie..asb sal jy my kan help met my vrae? dankie

    Reply

  • Avatar

    Past L Titus

    |

    Dit word meer en meer duidelik dat die Here sy bruid bymekaar maak.Hy roep meer en meer manne en vroue uit bestaande gevestigde kerke en bedieninge om die evangelie te verkondig.Die enkele groot hiervoor is dat die dwaalleër net so vurig verkondig word.Die Here seën u Bediening ek was self jaar met die AGS en nou is ons Seed of Abraham Ministries.Vir Theresa is Jer 23v23 so relevant

    Reply

  • Avatar

    Danie Malan

    |

    Chris
    Jou bydraes is kernagtig, verstaanbaar en geestelik baie verrykend. Mag die Here jou vandag in die gesig kyk en sy genade oor jou laat val soos ‘n sagte winterreen.

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Dankie Danie. Die genade van die Here is juis vir my vandag soos ‘n rivier waaraan ek my oorgee. Het vanoggend met 5 tekste gewerk saam met die Seisoen van Luister span, en die wysheid van Spreuke het ons meermale op nuwe weë geneem.

      Reply

  • Avatar

    Pierre

    |

    Chris

    Dankie vir jou bybelskool. Ek gebruik jou insig baie in my eie bybelstudie.

    Salwing fassineer my in die laaste tyd. Het jy enige materiaal daaroor. Ek sal graag die geestelike verstaan van salwing wil weet maar ook die praktiese toepassing in vandag se tye.

    Bie dankie

    Pierre

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Salwing
      1. Salwing met (olyf)olie is op verskillende wyses in ou Israel gebruik: as offer (Eks 29:40; Lev 8:26; Num 7:19), as simbool van toewyding vir voorwerpe (Eks 40:9–11 – die tabernakel, die altaar en ander voorwerpe), priesters (Lev 8:12, 30), en konings (1 Sam 10:1; 1 Kon 1:39). Die salwing met olie simboliseer in die OT dus veral die amptelike bevestiging of toewyding van iets of iemand aan die Here. Dit is nou benewens die gebruik van olie in die kosmaak proses (1 Kon 17:12), as medisyne en as salf vir sere (Jes 1:6; Mark 6:13; Luk 10:34) en by die versorging van die liggaam (2 Sam 12:20; Ps 104:15). Olie simboliseer ook voorspoed en oorvloed (Deut 33:24; Job 29:6; Eseg 16:13).
      2. Die OT praat ook van ‘n salwing met die Heilige Gees wat die ontvanger bemagtig en toegerus vir sy werk en roeping (Jes 61:1). Dit is ook wat gebeur het met die kerk in die NT toe die Heilige Gees uitgestort is (Hand 2). Só is gelowiges gesalf/bemagtig vir die taak wat God vir hulle in sy koninkryk gehad het (1 Joh 2:22 – “Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle almal ken die waarheid” -vgl ook vers 27).
      3. Jesus word natuurlik by uitstek die Gesalfde genoem (Luk 2:26), wat in Aramees met Messias en in Grieks met Christus weergegee word. Al drie hierdie name: Gesalfde, Messias en Christus, beteken dus dieselfde, dat Jesus deur God as Verlosser van die wêreld gesalf en bemagtig is (Luk 4:18-19; Hand 10:38). Dit is wat Petrus ook van Jesus bely, “U is die Christus” (Mark 8:29).
      4. Die NT noem gelowiges natuurlik ook gesalfdes, omdat ons volgelinge van Christus is (2 Kor 1:21). Die Heidelbergse Kategismus vra in Vraag en Antwoord 32: “Waarom word jy ’n Christen genoem ?”, en antwoord: “Omdat ek deur die geloof ’n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het, sodat ek sy naam kan bely, myself as ’n lewende dankoffer aan Hom kan toewy en in hierdie lewe met ’n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer.” Christen beteken dus beide volgeling van Christus en gesalfde van Christus.
      5. Salwing met olie is ook deur die dissipels gebruik in die proses om siekes gesond te maak, dit waarvoor die Here hulle uitgestuur en bemagtig het (Mark 6:13). Hierdie salwing met olie was dus aan die een kant die benutting van ‘n bekende geneesmiddel, maar ook ‘n simbool van die genesing wat God deur Sy Gees gee.
      6. Dit is waarskynlik ook waarom salwing met olie gebruik is as deel van die gebed om genesing deur ouderlinge (Jak 5:14). Omdat olie ‘n geneesmiddel was, was dit ook ‘n kragtige simbool van die gebed om genesing.

      Salwing het dus ‘n geestelike betekenis waar dit aan die werk van die Heilige Gees verbind word, en as deel van ‘n gebedsaksie gebruik word. Die krag lê natuurlik nie in die olie nie, maar in die Heilige Gees en in die gebed. Gebed sonder olie is daarby ook net so kragtig, soos vele plekke in die Bybel dit vir ons uitspel (bv Jak 5:16).

      Reply

  • Avatar

    Chris Visser

    |

    Hi Chris, jammer om n besige man te steur; Kan jy dalk raad gee; Ek skep n Blog op WordPress (sien skakel-adres) Ek soek raad uit jou ervaring met twee vrae:
    1) Watter raad het jy vir die baie Scam wat ek in my comments ontvang, en ek is nog nie eers aan die gang nie.
    2) Is dit wys om jou eposadres op jou Blog te gee?

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Gebruik Akismet. Dis briljant en gratis. Kry ‘n ander adres, bv by gmail, en wys dit daar. Of gebruik ‘n vorm in WordPress waarmee mense met jou kan kommunikeer sonder om jou adres te sien. Contact Form 7 werk lekker.

      Reply

      • Avatar

        Chris van Wyk

        |

        O ja, en gebruik Wordfence vir sekuriteit. Dit gee jou ook ‘n goeie oorsig van wie jou blog besoek, en jy kan daarmee ongewenste mense uit hou. Dit het selfs ‘n Firewall, maar wees versigtig hoe hoog jy die sekuriteit stel.

        Reply

  • Avatar

    Petro Reynders

    |

    Beste Ds Chris

    Ek is so opgewonde oor hierdie nuwe webtuiste wat ek vanoggend ontdek met dank aan Radio RSG.
    Was besig om ontbyt vir my gaste by my B&B te maak en my radio is langs my stoof toe ek U hoor praat oor die bybelskool. Ek is tans besig om Rev. David Pawson van Engeland se You Tube Videos te kyk en ook sy boek Unlocking the Bible te bestudeer. Hy neem ook die Bybel van Genesis tot Openbaring en werk elke boek deur.

    Ek bid U seen toe en goeie gesondheid vir die werk van die Here waarmee U besig is asook vir hierdie webtuiste en die Bybelskool, dat dit sal groei en die uithoeke van die wereld sal bereik.

    Vriendelike Groete

    Petro Reynders
    ESTCOURT KZN

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Dankie! Ek het ook David Pawson se boek geniet, en het verskillende ander soortgelyke boeke in Engels, onder andere Larry Richards se uitstekende Bible Reader’s Companion en sy Teacher’s Commentary asook Gordon Fee en Douglas Stuart se fenomenale How to Read the Bible Book by Book. Laasgenoemde was die inspirasie vir my aanpak, hoewel ek vir ‘n hoofstuk-vir-hoofstuk metodiek gekies het, en nie net boek-vir-boek nie. Dié twee reuse het ook ‘n uitstekende boek How to Read the Bible for All its Worth. Geniet!

      Reply

  • Avatar

    Jan

    |

    Om watter rede gebruik mense die Here se naam in die algemene gesprek voering.
    Ek praat van in fleiks, mense in nood- wat nie noodwendig tot God roep nie, maar net die hele tyd, in engels sê”O my God”, ens.
    Hoekom dan nie sê ” O my Allah” of wat ookal nie?

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Mense gebruik die Here se naam ydelik om verskillende redes, soos in “O my God”. Sommige gebruik dit as ‘n stopwoord, uitroep of kragwoord. Hulle beklemtoon daarmee hulle verbasing of afgryse. Dit is egter gewoonlik onnadenkend en het geen godsdienstige betekenis nie. Hulle weet baie keer nie eers wat hulle sê nie. Jy sal egter min kinders van die Here kry wat sy Naam só ydelik gebruik. Ons weet immers dat ons van elke ydele woord rekenskap moet gee. Mense in die Weste gebruik nie die woord “Allah” op dieselfde manier nie, want dit het nie vir hulle dieselfde betekenis nie. Allah is wel net die Arabiese woord vir God, maar baie dink verkeerdelik dat dit ook die persoonsnaam vir die Moslem God is.

      Reply

Leave a comment

Onlangse kommentaar

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    1. Die evangelie van Lukas is deur “die geneesheer Lukas, die geliefde” geskryf wat Paulus soms vergesel het (Kol 4:14). Aangesien baie onderneem het om ’n verhaal op te stel oor die dinge wat onder die gelowiges al vervul is, op grond van die getuienisse van hulle wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, het Lukas dit ook goedgedink, nadat hy van voor af alles noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan Teofilus te skrywe, sodat hy met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent hy onderrig is. (Luk 1:1-4).

    Lukas het ook die Handelinge van die apostels geskryf. Dit was bedoel as ‘n aanvulling van alles wat Jesus begin doen en leer het en nou deur die apostels en gelowiges onder leiding van die Heilige Gees voortgesit is (Hand 1:1). ‘n Mens kan agterkom wanneer Lukas dinge eerstehands beskryf. Hy gebruik die voornaamwoord “ons”. Ander kere kom die verhale uit sy navorsing, soos ons agterkom uit die gebruik van die voornaamwoord “hulle” in Handelinge.

    2. Lukas was dus ‘n geneesheer, navorser, en reisgenoot van Paulus wat die voorreg gehad het dat sy skrywe só goed ontvang is deur die eerste gelowiges dat hulle aan beide die evangelie van Lukas as aan die Handelinge van die apostels kanoniese status toegeken het. Die kerk het baie gou van sy boeke bely dat dit die Woord van God was.

    3. Lukas skryf sy boeke waarskynlik vóór die val van Jerusalem in 70 nC. Dit lei ons af uit die feit dat hy van die val van Jerusalem in die toekomstige tyd skryf (Lukas 21:20), en selfs aan die einde van Handelinge nog van Paulus se wedervaringe in Jerusalem skryf (Hand 28:17). Hy gebruik dele van Markus wat beteken dat sy boeke waarskynlik in die voorafgaande dekade geskryf is, tussen 60-70 nC.

    4. Lukas 15:1-32 het drie gelykenisse van Jesus. Die tema van aldrie is die blydskap as verlorenes gevind word. Jesus vertel die drie gelykenisse spesifiek aan die skrifgeleerdes en Fariseërs (Luk 15:2) en wys hulle tereg dat hulle die tollenaars en sondaars wil verhoed om in sy verlossende teenwoordigheid met God versoen te word.

    4.1 Soos ‘n herder vir sy verlore skaap gaan soek, só is Jesus besig om die verlorenes onder die sondaars en tollenaars te soek. Die Fariseërs behoort dit te kan insien, omdat dit is hoe God altyd werk (Luk 15:3-7). Die gelykenis beklemtoon dat dit God se werk is. Die skaap word deur Hom gevind.

    4.2 Soos ‘n vrou juig oor die vind van ‘n verlore muntstuk, só juig die hemel as ‘n verlorene onder die sondaars en tollenaars gevind word. Die Fariseërs en skrifgeleerdes behoort dit ook te kan insien, en saam met God juig oor mense wat deur Hom gevind is (Luk 15:8-10 – terloops, net Lukas het hierdie gelykenis sowel as die volgende een van die verlore seun). Weereens word God se werk beklemtoon. Hy is bly oor die muntstuk wat gevind is!

    4.3 Soos ‘n vader bly is oor sy verlore seun wat sy pad terugvind in berou en bekering na die vaderhuis, só moet die Fariseërs en skrifgeleerdes dit ook raaksien, en saam met God juig oor verlorenes wat gevind word. Met die implisiete waarskuwing van die ouer broer se onaanvaarbare reaksie op sy verlore broer, waarsku Jesus hulle dat hulle onbehae in God se genade vir verlorenes hulle die genade kan laat verloor (Luk 15:11-32 – uniek aan Lukas).

    Hierdie gelykenis beklemtoon dus die volle prentjie. Die verlore seun kom tot inkeer van sy rebellie, vra om vergifnis en word volledig versoen met sy Vader. Só ook ons as ons die boodskap van hierdie gelykenis ter harte neem en tot inkeer kom van ons sonde en God om vergifnis smeek en sy verlossing aanvaar.

  • Avatar

    Rienie Kruger

    |

    1. Wie het Lukas 15 vers 1-32 geskryf
    2. Wat was sy omstandighede
    3. Wanner is die boek geskryf
    4. Hoe beinvloed bogenoemde ons verstaan van die teks

  • Avatar

    johanb

    |

    Hi Chris –
    net ‘n kort verwysings-tabel om die 10 Gebooie in die Ou en die Nuwe Testamente te illustreer – die Gebooie bly vir ewig staan – daar is nie met dit weggedoen nie soos sommige beweer.

    Old Testament New Testament
    First
    Commandment Exodus 20:3; Deut 5:7 Matt 4:10; Luke 4:8; Rev 14:7

    Second
    Commandment Exodus 20:4-6; Deut 5:8-10 Acts 15:20-21; 1 Corinthians 6:9-10;
    Gal 5:19-21; Eph 5:5; 1 Joh 2:15
    Third
    Commandment Exodus 20:7; Deut 5:11 Matt 5:33-37; 1 Tim 6:1; James 2:7

    Fourth
    Commandment Exodus 20:8-11; Deut 5:12-15 Luke 4:16; 23:55-56; Acts 17:1-2;
    18:4; Heb 4:9; 1 Joh 2:6 1 Joh 2:15-17

    Fifth
    Commandment Exodus 20:12; Deut 5:16 Matt 15:4-9; 19:19; Mark 10:19;
    Luke 18:20; Rom 1:29-30; Eph 6:1-3

    Sixth
    Commandment Exodus 20:13; Deut 5: 17 Matt 5:21-22; 19:18; Mark 10:19;
    Luke 18:20; Rom 1:29-30; 13:9
    Seventh
    Commandment Exodus 20:14; Deut 5:18 Matt5:27-28; 19:18; Mark10:11-12,19;
    Luke 16:18; 18:20; Rom 7:2-3; 13:9

    Eighth
    Commandment Exodus 20:15; Deut 5:19 Matt19:18; Mark 10:19; Luke 18:20;
    Rm13:9; Eph4:28; 1Peter 4:15; Rev9:21

    Ninth
    Commandment Exodus 20:16; Deut 5:20 Matt19:18; Mark 10:19; Luke 18:20;
    Acts 5:3-4; Rom13:9; Eph 4:25

    10th
    Commandment Exodus 20:17; Deut 5:21 Luke 12:15; Rom1:29; 7:7; 13:9;
    1Cor 6:9-10; Gal 5:19-21; Eph5:3, 5
    1 Joh 2:15-17

  • Avatar

    Miriam de Beer

    |

    Ek wil graag eposse ontvang. Hoe maak ek asb.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Giel – jy kan lees wat ek by my bydrae oor Deuteronomium 24 skryf. Ek raak daar die onderwerp aan en behandel ook van die NT perspektiewe daarop.

  • Avatar

    Gieljam

    |

    graag wil ek hoor wat is u seining oor geskeides wat weer trou

  • Avatar

    JacquesT

    |

    Dankie, vir jou getroue en reguit praat metode. Laat die een sonder sonde die eerste klip optel. Ons almal is net vlees en bloed. Ek glo dat dit n baie groot verantwoordelikhied is om die “Skrif” uitle. Dankie vir die konteks en dat jy nie doekies om draai wanneer dit oor ons almal gaan wat sonde pleeg nie.

  • Avatar

    johanb

    |

    Dankie Chris vir die pragtige stukkie oor die koninklike bladmusik – dit is die eerste keer dat ek dit so sien – ons moet die “note” reg lees en “speel” in ons lewens en onder leiding van Sy gees dan sal ons saam pragtige musiek maak wat die Koning graag sal will hoor – prys die Here.
    “aan hulle vrugte (die musiek wat hulle voortbring) sal julle hulle ken”

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Adri, jy kan meer lees by my bydrae oor Eksodus 30. Hier is ‘n kort aanhaling daaruit: “Die salfolie was ‘n besondere geurige parfuum wat van spesiale speserye: mirre (aromatiese hars), kaneel, kalmoes (geurige moerasplant van die Acoraceae familie), kassia (Chinese kaneel) en olyfolie gemaak is. Dit was net vir spesifieke godsdienstige gebruik deur gemagtigde persone. Die wierook is gemaak van hars (harpuis), naeltjies (dit kan ook die skulp van ‘n seedier wees), galbanum (die gom van ‘n plant van die Ferula familie) en suiwer wierook. Dit moes ook net vir die gebruik in die Heilige deel van die Tabernakel gebruik word. Die uitvoering hiervan word in Numeri 4:15-20 beskrywe.”