Skip to main content

Psalm 74

God self is ons enigste hoop

Waarom hou U aan om ons te verstoot – vers 1-11?

Die 1983 vertaling sê so mooi: “Kom loop tog deur die plek wat so lankal in puin lê,” (vers 3) waarmee die Psalmis die behoefte uitspreek dat hy as’t ware die Here aan die hand wil vat en deur die verwoesting van Jerusalem en veral die heiligdom van God wil neem. Hoekom? Want die Psalmis kan nie dink dat God daardeur onaangeraak sal kan bly nie. Selfs al was God ook hóé kwaad vir sy mense (vers 1), dié mense en dié stad is tog sy eiendom. Hy kan mos nie aanhou om hulle te verstoot nie, of hoe? Soos die 2014 vertaling vers 1 vertaal: “Waarom smeul u woede teen die kleinvee van u weiplek?” En vir hoe lank nog (vers 10)?

Met dié inleiding skets die Psalmis waarskynlik die grootskaalse ontwrigting en vernietigende ontworteling van die Joodse ballingskap van die 6de eeu v.C., ’n tyd toe die stad Jerusalem vernietig is en selfs die heiligdom in die slag gebly het. In plaas van lofsang van die gemeente het die oorwinningskreet van die vyande in die plek van samekoms weerklink (vers 4) en is alles daarbinne verwoes en aan die brand gesteek (vers 5-8). Dit het eintlik regdeur die land gebeur. God se teenwoordigheid in terme van heilige geboue is uitgewis.

Daarom pleit hy by die Here dat Hy tog sal dink aan die gemeente wat Hy lank gelede al vir Hom sy eiendom gemaak het (vers 2). Hy pleit dat die Here Hom weer aan hulle bekend sal maak deur sy profete (vers 9) en hulle sal help (vers 11).

God se sorg, sy verbond en sy verbintenis aan Homself is ons enigste hoop – vers 12-23.

In drie treffende gedeeltes herinner die Psalmis God aan Wie Hy werklik is. Daarmee steek die Psalmis die hoop aan dat die Here miskien van gedagte sal verander as Hy dink aan sy sorg (vers 12-17), sy verbond (vers 18-21) en sy verbintenis aan Homself (vers 22-23).

God sorg immers vir alles en vir almal soos Hy helder gedemonstreer het in sy skeppingsmag en verlossingsdade deur die eeue. Hy is van altyd af die Psalmis se koning, die een aan wie die dag en die nag behoort, wat die seisoene vasgestel het en in beheer bly van alle aardse onstuimigheid en mag.

God se verbond is verder tog met sy mense al is hulle onderdruk, magteloos, en behoeftig in hulle verstrooiing na die donker plekke van die wêreld. Die vyand wat met God spot en sy Naam belaster kan tog nie die oorhand kry oor dié mense met wie God in ’n verhouding getree het nie? Hy noem die volk God se “tortelduif” wat nie aan die wilde diere oorgegee moet word nie (vers 19 in die 2014 vertaling – 1983 vertaal: “dié wat deur U onderrig is”). Die Psalmis doen ‘n beroep op God om sy mense in hulle nood raak te sien en hulle te help sodat hulle Hom weer kan prys.

Die diepste oproep op God is egter sy verbintenis aan Homself, die verbintenis wat Hy het om sy Naam te beskerm teen die gespot van dwase. Die Psalmis maak staat op God se sin vir regverdigheid: “Laat geld tog u reg.” Barbare (dwase in 2014 vertaling) en God se teëstanders en vyande kan tog nie God se aandag ontglip nie!

Boodskap en betekenis

Die ontreddering van die Psalmis strek veel verder as maar net die fisiese verwoesting van die stad, tempel en volk. Sy diepste nood is dat God stil geraak het, dat daar niemand meer is wat God se boodskap verkondig nie, dat dit lyk asof God nie meer omgee nie, dat Hy nie meer (wil) optree nie.

Eerder egter as om die hoop op God te laat vaar, doen die Psalmis die enigste ding wat hy kan. Hy herinner God aan sy mag soos Hy geïllustreer het oor die monsters van die voortyd. Hy herinner God aan sy karakter as die Versorger van alles wat lewe. Hy herinner God aan die feit dat Hy in verhouding getree het met dié volk wat nou verwoesting gesmaak het. En as die toppunt van sy rede aan God, herinner Hy God aan Wie Hy in Homself is, ’n God wat op die reg gefokus is. Sy hoop is dat God getrou aan Homself sal bly, dat Hy sy reg sal laat geld – redding vir sy mense en vergelding vir sy teenstanders.

Die Psalmis herinner ons daarmee aan die feit dat ons nie moet wegdraai van God as ons seerkry nie, selfs nie as ons seerkry omdat ons dit verdien nie. Ons moet altyd weer ons hoop op God plaas, Hom herinner aan sy sorg, sy verbond en sy verbintenis aan die reg. Daarmee moet ons nie ophou nie: “Laat geld u reg.”

Dit is ook gedagte waarmee ek die dag ingaan: “Laat geld u reg.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…