Skip to main content

Psalm 140

Hou my veilig teen geweldenaars

Die Psalm pas goed by Dawid se afgryse oor Joab se geweld teenoor Abner in 2 Samuel 3 – vgl sy beskrywing van hulle as “manne van geweld.”

Teks en konteks

Die Psalm is opgedeel in vyf dele.

  • Die eerste drie vorm ‘n eenheid en beskryf die situasie van aanvegting waarin die Psalmis (Dawid) verkeer en vra telkens dat die Here hom daaruit sal verlos. Die drie dele word telkens afgesluit met ‘n Sela (140:4, 6, 9).
  • Die vierde deel vra dat die Here teen hierdie geweldenaars sal optree (140:10-12).
  • Die vyfde deel bevestig die getrouheid van die Here aan magteloses en behoeftiges en neem dit as ‘n belofte waarop regverdiges en opregtes altyd weer kan staatmaak (140:13-14).

Hou my veilig teen geweldenaars – vers 1-9

Vers 1-4: Die Psalmis bid dat die Here hom sal red van slegte mense, van geweldenaars, van mense wat booshede beplan, wat gevegte aanhits. Hulle tonge is so skerp soos dié van slange en die gif van adders skuil agter hulle lippe. Die skerp punte van slange se gevurkte tong word dus as metafoor vir bitsigheid gebruik, en die gif vir die dodelikheid daarvan.

Interessant genoeg word dié beskrywing van giftige woorde in Romeine 3:13 gebruik as prentjie van die tipe sondes waaraan ons almal skuldig is, en waarvan die Here Jesus ons kom bevry het. Niemand is dus vanself regverdig nie, selfs nie een nie, sê Paulus. Ons het God se redding nodig, selfs van ons eie gevurkte tonge en giftige woorde.

Vers 5-6: Die Psalmis bid dat die Here hom sal beskerm van die hande (mag) van goddeloses en hoogmoedige mense. Woorde verwond, maar magspeletjies verguis en kan ‘n mens maklik ontspoor. Die Psalmis vra dus dat die Here hom sal bewaar van die vangstrikke wat mense vir hom stel, sodat hy op die pad kan bly wat die Here vir hom aanwys.

Vers 7-9: Die Psalmis bely dat die Here alleen sy God is. Daarom kan hy met oorgawe sy smeekgebed aan die Here bid. Hy vra dat die Here hom sal beskut in die tyd van oorlog en nie die goddelose mense sal gee wat hulle begeer nie, dat hulle bose planne nie sal slaag nie, anders sal hulle nog meer verwaand raak.

Vers 8 se laaste deel lui eintlik só: “U beskut my kop op die dag van oorlog.” (2020-vertaling). Dit is wat agter die 1983-vertaling se dinamiese vertaling lê: “U beskerm my wanneer die goddeloses my aanval.” Dit is belangrik om die meer letterlike vertaling in gedagte te hou in die lig van die kontras wat in vers 10 getrek gaan word met die koppe van die aanvallers.

Mag een ná die ander ramp geweldenaars inhaal – vers 10-12

Die pleitgebed dat die Here sal optree teen geweldenaars werk met die eksplisiete veronderstelling dat daar ‘n wetmatigheid in die wêreld werksaam is. Iets wat van God af kom. Dit is, dat geweld uiteindelik altyd die geweldenaars self vernietig. Soos Jesus ook in die NT sê: “almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom.” (Matt. 26:52).

Daarom bid die Psalmis dat die een ramp ná die ander die geweldenaars sal inhaal: verleentheid (vurige kole – dit laat my dink aan Paulus se beskrywing van skaamte in Rom 12:20), vernietiging (vuur en bodemlose putte), verslaentheid (nie weer opstaan nie), en ontworteling (nie gevestig nie).

Terloops: vers 10 se eerste deel in die 1983-vertaling dra nie regtig die betekenis van die Hebreeus reg oor nie. Dit word in die 1983-vertaling as volg vertaal: “Dié wat my van alle kante bedreig, verhef hulle teen U; laat hulle dreigemente hulleself tref.” Die laaste deel is wel korrek, maar die eerste deel word meer korrek vertaal in die 2020-vertaling: “Die koppe van hulle wat my omring, laat dit oordek word met die onheil wat hulle ander toewens (of meer letterlik: die onheil van hulle lippe).” Die frase: “verhef hulle teen U”, kom nie in die grondteks voor nie.

Dié vers is duidelik in kontras met die uitspraak in vers 8 waar die Here gevra word om sy kop in ‘n tyd van oorlog te beskut, soos dit letterlik daar lui. Hy vra dus dat die Here hom sal beskerm teen die geweld van geweldenaars, maar nie dieselfde sal doen vir dié wat voortgaan om onheil oor ander uit te spreek nie.

Ek weet die Here behartig die regsaak van magteloses – vers 13-14

Die Psalmis verklaar stellig dat hy weet dat die Here Homself deur die geskiedenis bewys het as dié een wat die regsaak van magteloses en behoeftiges (armes) behartig het. Daarop kan regverdiges en opregtes staatmaak. Dit sluit uiteraard goddeloses en geweldenaars uit. Maar regverdiges sal die Here kan loof en opregtes sal God se teenwoordigheid as ‘n tuiste ervaar.

Boodskap en betekenis

Psalm 140 is ‘n baie gepaste gebed vir jou eie ervaring van geweldenaars wat jou bedreig. Dit is ook gepas in die lig van die bedreiging van wêreldvrede op só baie plekke. Geweldenaars is Godloënaars, en dié Psalm verkondig ‘n God wat die regsaak van magteloses en behoeftiges behartig. Jou eie, sowel as dié van mense wat lei onder geweldenaars op ander plekke in hierdie wêreld.

Kom ons bid daarvoor. En bely saam met Dawid in vers 14 dat die Here die belofte sal vervul: “Waarlik, regverdiges sal u Naam prys; opregtes sal in u teenwoordigheid woon.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…