Skip to main content

Jeremia 18

Maak julle lewe en julle dade reg

Die volgende drie hoofstukke het met mekaar verband. Hoofstuk 18 en 19 werk met twee verwante metafore van klei – die pottebakker wat die klei kan vorm soos hy dit goeddunk en ’n gekoopte kleipot wat maklik gebreek kan word deur sy eienaar – wat albei God se soewereine mag oor die volk illustreer. Hoofstuk 18 en 20 bevat die laaste drie “Konfessies” van Jeremia – 18:18-23; 20:7-10; 20:14-18. Al drie hoofstukke word ook opgebou as ’n voortgaande en wederkerige gesprek tussen God, Jeremia en die volk.

Hoofstuk 18 bestaan uit drie dele:

  1. Die metafoor van die pottebakker wat die klei kan vorm soos Hy dit wil – 18:1-12
  2. God se klag oor die volk wat Hom vergeet het – 18:13-17
  3. Jeremia wat bid dat sy vyande tot ’n val sal kom omdat hulle nie op sy woord reageer nie – Jer. 18:18-23

Teks en konteks

Jeremia 18:1-12 – Die pottebakker kan die klei vorm soos Hy dit wil

Die volgende woord van die Here kom tot Jeremia in die pottebakker se huis waar die Here sy boodskap aan hom bekend maak deur iets wat op die skyf van die pottebakkerswiel misluk en toe iets anders van gemaak is soos die pottebakker dit wou hê.

Dit is presies wat die Here ook met nasies en koninkryke maak. Die mislukking van die nasie of koninkryk lê in hulle boosheid, en die sukses in hulle gehoorsaamheid. Straf en seën is voorwaardelik aan hulle verhouding met die Here verbonde.

Die Here gee daarom opdrag aan Jeremia om die volk voor te berei vir die ramp wat oor hulle sal kom. Hy sou graag wou hê dat hulle hulle van hul verkeerde lewe bekeer, dat hulle hul lewe en hulle dade sal regmaak, maar hulle wil nie, selfs sien hulle die gevolge van hulle dade raak: “Dit help nie. Ons wil lewe soos ons wil, elkeen wil sy eie koppige, slegte lewe lei.”

Jeremia 18:13-17 – God kla oor die volk wat Hom vergeet het

Die volk se afvalligheid is egter nie net vir hulleself ‘n probleem nie. Dit is, anders as met die pottebakker, vir die Here eintlik onverstaanbaar sleg, dat die volk Hom vergeet en op die ompaaie en ongebaande weë van afgodediens – “gode wat nie bestaan nie”! – begin loop het. Dit gebeur nie in die natuur dat sulke afstootlike dinge gebeur nie. Hoekom dan tussen God en sy mense?!

Dit is waarom die Here nie anders kan as om die volk te verlaat en uit sy land te verwerp nie. Soos die volk vir God nie wou erken nie, so sal Hy dit nie meer met hulle doen nie. Hy sal sy “rug na hulle toe draai en hulle nie raaksien nie”.

Jeremia Jer. 18:18-23 – Jeremia bid dat sy vyande tot ’n val sal kom omdat hulle nie op sy woord reageer nie

Jeremia bid dan in sy vyfde “Konfessie” dat sy vyande tot ’n val sal kom omdat hulle nie op sy woord reageer nie. Dit in reaksie op die skinderveldtog van sommige van die Jode teen Jeremia wat sê: “Daar sal altyd priesters wees om ons die wil van die Here te leer en wyse manne wat vir ons raad kan gee en profete by wie ons die boodskappe van die Here kan hoor.”

Hy vra dat die Here hom sal help en nie sal toelaat dat goed met kwaad vergeld word nie. Hy bid dat die gat wat hulle vir hom grawe eerder hulleself tot ’n val sal bring. Hy doen dit onder andere omdat hy juis vir hulle ingetree het voor die Here, maar hulle dit nie na waarde geskat het nie, trouens nie na die boodskap van die Here soos hy dit vir hulle gebring het, geluister het nie.

Daarom vervloek hy hulle en vra dat die Here hulle nie sal vergewe nie en dat hulle sondes nie ongestraf sal bly nie. Hy sê selfs: “Tree teen hulle op terwyl U nog toornig is,” so ontsteld is hy oor die verwerping wat hy van hulle ervaar.

Boodskap en betekenis

Die Here se soewereiniteit staan uit in dié hoofstuk. Hy kan met nasies en koninkryke maak soos Hy wil, hoewel dit uiteraard regverdig en billik is. Dit wentel om hulle verhouding met Hom al dan nie. Dit is ook waarop Jeremia staatmaak in sy gebed, dat die Here nie goed met kwaad sal laat vergeld nie. Hoofstuk 19 is ’n deel van God se antwoord aan Jeremia – dat hy Israel soos ’n kleipot sal breek – maar ook net ’n gedeelte. Ná die oordeel sal daar weer ’n tyd kom van genesing, en uiteindelik sal die gebed om vergelding vervang word deur die gebed van Jesus om vergifnis: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk. 23:34) Dit is in dié tradisie waarin ons staan.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…