Skip to main content

Jesaja 54

My liefde vir julle sal nooit vergaan nie

Watter wonderlike boodskap het hierdie hoofstuk van Jesaja nie: “My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie” (Jes 54:10)! Jesaja 54 juig oor hierdie liefde van God wat net nooit vergaan nie.

Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar God se vredesverbond met ons sal nooit wankel nie. Dit is die basis van ons vertroue in God wat sin en betekenis aan ons lewe gee.

Teks en konteks

Jesaja 54:1-5

Let op hoe die volk eerstens met ‘n onvrugbare vrou vergelyk word wat meer kinders gaan hê as ‘n getroude, weens die liefde van die Here. Hulle grondgebied sal moet uitbrei, so baie gaan hulle word. Hulle sal nie meer verleë staan en in die skande kom nie.

God is hulle man! “Want Hy wat met jou trou, is jou Maker; die Here, Heerser oor alle magte is sy Naam. Hy wat jou loskoop, is die Heilige van Israel. God van die hele wêreld word Hy genoem.”

Jesaja 54:6-8

In die tweede plek word die volk met ‘n verstote vrou vergelyk wat eweneens ontferming sal beleef deurdat die Here hulle terugneem onder sy vlerk. Sy liefde vir hulle sal nooit vergaan nie. Haar “sielsongelukkigheid” word verander deur die ewige troue liefde waarmee die Here Hom oor haar ontferm. Hy is haar losser, soos Boas dit vroeër vir Rut en Naomi was.

Jesaja 54:9-10

Die sekerheid van dié beloftes word met ‘n eed gesweer, soortgelyk aan dié wat God eenmaal vir Noag gegee het. Sy liefde sal nie verdwyn nie.

Soos Hy beloof het dat die water nie weer die aarde sal oorstroom nie, só belowe Hy dat sy toorn nie alles sal uitwis nie. Sy troue liefde sal nie van hulle wyk nie. Sy vredesverbond sal nie wankel nie, soos dit ook die geval met Noag was.

Jesaja 54:11-17

Die metafoor verander om van die volk as stad te praat wat vroeër bedreig was en wie se mure nou weer vasgemessel sal word. Kosbare stene sal vir hulle gebruik word wat ‘n mens onmiddellik laat dink aan die hemelse stad Jerusalem (vgl die ooreenkoms met die stad van Openb 21:18-21).

Elkeen van die inwoners sal: “leerlinge van die Here” sal wees (Jes 54:13).

Op die koop toe: “Wie ook al jou aanval, sal oor jou tot ‘n val kom!… Geen wapen wat teen jou gemaak word, sal suksesvol wees nie. Elke tong wat teen jou getuig in ‘n regsgeding, sal jy skuldig verklaar. “Dit is die erfdeel van die Here se diensknegte; dit is hulle geregtigheid van my kant.”

Boodskap en betekenis

Hierdie profesie laat ‘n mens se gedagtes wyd loop.

Die metafore van herstel wat vir die ballinge gebruik word, is inspirerend. Die onvrugbare vrou kry tonne kinders. Die verstote vrou verander in ‘n geliefde. God laat sy toorn vaar soos by Noag. Die stad word onwankelbaar kosbaar.

Dit laat ‘n mens dink aan NT visie van die kerk as bruid van Jesus (Openb 19) en as stad van God (Openb 21; vgl ook Jes 62:5 wat weer met dié metafoor werk). Dit is ‘n totale omkeer van ‘n posisie van vernedering na ‘n posisie van verheerliking!

Terloops, William Carey (1761-1834), die vader van die moderne sendingbeweging, het vers 2b ““lengthen its cords and strengthen its stakes”” as ‘n uitdaging aan die kerk in Engeland gehoor om die boodskap van die evangelie oor die hele wêreld te versprei. Hy het self die res van sy lewe in Indië as sendeling gaan werk. Dit was die stimulus vir die wêreldwye verspreiding van die boodskap van Christus waaraan sendelinge uit Suid-Afrika ook steeds onvermoeid meewerk.

Die feit dat God self sal sorg dat elkeen van die inwoners: “leerlinge van die Here” sal wees (Jes 54:13) laat ‘n mens dink aan Jesus se laaste opdrag om dissipels (leerlinge) van al die nasies te maak (Matt 28:19).

En die belangrikste ding wat hulle moet hoor, is dat God se liefde nooit sal vergaan nie. Dit sal nooit ophou nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…