Skip to main content

Jesaja 24-27

Van tragedie na triomf

Die ses orakel boodskappe teen die nasies in Jesaja 21-23 word opgevolg met die “Apokalips van Jesaja” in Jesaja 24-27 waar die oordeel van die Here universeel uitgebrei word na die hele aarde toe.

  • Jesaja 24 se boodskap is dat God oor gaan begin, hoewel dit met grootskaalse kosmiese ontwrigting gepaard sal gaan (Jes 24:1-20). Die hemelse en aardse magte sal geoordeel word (Jes 24:21-22).
  • Jesaja 25 fokus op twee gevolge van die ontwrigting: 1) oorloë sal ophou en 2) die Here sal deur almal geëer by ‘n feesmaal wat Hy voorberei.
  • Jesaja 26-27 besing in drie dele die verlossing wat God se volk beleef: 1) gefokus op die oorwinning wat vir hulle behaal is deur God 2) gefokus op die opstanding uit die dood wat moontlik word deur God se krag en 3) die moeisame vestiging van die volk as die wingerd van die Here wie se vrugte vir die aarde bedoel is. Jesaja 5 se tragedie word in ‘n triomf omskep!

Die hele gedeelte word geskryf in taal wat herinner aan die ander apokaliptiese gedeeltes in die Bybel (Daniël, profetiese redes in die evangelies en Openbaring). Apokalips beteken “om die sluier te lig” en kan daarom ook met die woord openbaring vertaal word.

Teks en konteks

Jesaja 24:1-13

Die hele aarde is in die profeet se oog. Die voorkoms verander – dit word verwoes, geplunder, verdroog, en vergaan. En dit sluit die hemel in:

  • omdat die aarde verontreinig is deur sy inwoners deur ongehoorsaam te wees aan God se voorskrifte en die verbond met Hom verbreek is, en
  • omdat die inwoners die magte in die hemel aanbid het en nie vir God nie (vgl Jes 24:21). In ontstellende taal word vertel dat ’n vloek die aarde sal verteer en die inwoners vir hulle sonde sal laat boet – min mense sal oorbly.

Dit gee ’n mens ’n perspektief op hoe God werk met ongehoorsame mense. Waar Hy nie gedien word nie, verontreinig dit die land, sodat die land net gereinig kan word deur die inwoners op een of ander manier te straf of weg te dryf. Dit het reeds só met die Kanaäniete gebeur (Lev 18:25) en word nou hier in die vooruitsig gestel vir al die volke van die aarde, weens die grootskaalse minagting van God en sy gebod (Jes 24:5).

Wingerde verdroog, wyn word skaars, vrolikheid verander in versugtinge, selfs musiek word stil (vgl Open 18:22 waar dit ook van die mense in Babilon-[Rome] gesê word – laat my dink aan die liedjie van Don Mclean The day the music died waar hy die dood van drie musikante, Buddy Holly, Ritchie Valens, en The Big Bopper in 1959 verwoord). Daar is geen vreugde meer nie, en die inwoners is verstrooi. Alle sosiale en ekonomiese lae van die samelewing word geraak.

Die oordeel sluit in dat die stad (Jes 24:12) afgebreek en onbewoonbaar word met afgebreekte stadspoorte. Hierdie stad kan óf met ’n wêreldstad verbind word (soos Babilon vir Rome staan in Openbaring) óf met ’n stad in Moab (kyk Jes 25:12).

  • Indien dit eersgenoemde interpretasie is, kan dié gedeelte (24-27) eintlik die “verhaal van twee stede” genoem word, waar die wêreldstad (Jes 24) met Jerusalem (Jes 26) gekontrasteer word.
  • Indien dit laasgenoemde interpretasie sou wees, die hoofstad van Moab, staan hulle egter eintlik steeds as ’n simbool van die ander stede van die wêreld se opstand teenoor God. Beide interpretasies maak dus sin.

Jesaja 24:14-16a

Die oorblyfsel van die mense regoor die aarde – let op hoe van die weste, die ooste en die eilande gepraat word – sal na die oordeel voltrek is, bly wees en God se mag en regverdigheid besing.

Jesaja 24:16b-23

Die profeet word egter nie deur die blydskap van sy eie boodskap meegevoer nie, omdat dit hom so seermaak om dit te moet verkondig, Hy ervaar dat hy wegkwyn daardeur. Maar hy besef dat troueloosheid onafwendbaar deur God gestraf moet word. Daar is geen wegkomkans nie.

Let op hoe hy weereens kosmies praat oor die tragedie wat mense gaan tref, amper soos dit was in Noag se tyd. Wolkbreuke en aardbewings lei die verwoesting in wat so groot is dat die aarde in stukke breek en heen en weer waggel en wankel, slinger, en heen en weer wieg. Klink amper asof dit verwys na ’n soort wentelbaan van die aarde, hoewel dit natuurlik metaforiese taal is.

Terloops, die Grieke – onder ander Pythagoras uit die 5de eeu vC, en Plato en Aristoteles na hom – hoewel ’n bietjie later as Jesaja se geskrifte, het al van vroeg af van die aarde as ’n bolvormige sfeer gepraat. Eratosthenes het die omtrek in die 3de eeu uitgewerk en was net 5% uit met wat ons vandag weet! Nie almal het dus gedink die aarde is plat nie – gebruik dus die pre-moderne kategorie met omsigtigheid!

Ook die magte in die hemel word gestraf. Dit verwys heel moontlik na die hemelliggame wat deur die omringende volke aanbid is, en deur Deuteronomium 4:19 verbied is. Daniël praat waarskynlik ook van hierdie magte in die gedaante van “astrale” engele wat ‘n invloed uitoefen op die aarde deur mense se aanbidding van hulle (vgl ook Ef 6:12).

Die konings op die aarde word ook gestraf en deur die regering van God self vervang. Geen wonder nie dat een van Jesus se hoof boodskappe was dat God se koninkryk in Hom ‘n aanvang geneem het! God verenig alle mense onder Sy heerskappy met die Een wat Hy daarvoor uitgekies en aangestel het, Immanuel, God-met-ons.

Jesaja 25:1-5

Let op dat dit in praise-and-worship taal geskryf is. God se beplanning (Wonderbare Raadsman – 9:5) en beskerming (Ewige Vader – 9:5) word geloof wat tot die staking van oorlog lei. Jesaja se beelde is regtig verbluffend.

Jesaja 25:6-12

Die lof gaan oor in ‘n feesmaal waarna alle volkere uitgenooi is, behalwe Moab. Let op hoe mooi die 2020-vertaling dit beskryf, met heerlike geregte, vol murg, en gesuiwerde, beleë wyn:

“Die Here, Heerser oor alle magte, sal op hierdie berg vir al die volke ‘n feesmaal van ryk geregte voorberei, ‘n feesmaal met beleë wyn, met ryk geregte vol murg, met gesuiwerde, beleë wyn. Op hierdie berg sal Hy die sluier verswelg, die sluier oor al die volke, die geweefde bedekking oor al die nasies. Hy sal die dood vir ewig verswelg; my Heer, die Here, sal die trane van alle gesigte afvee. Die bespotting van sy volk sal Hy van die hele aarde af verwyder. Ja, die Here het gespreek. Hulle sal op daardie dag sê: ‘Kyk, dit is ons God op wie ons gewag het, en Hy het ons gered; dit is die Here op wie ons gewag het! Laat ons juig en bly wees oor sy redding. ‘” (Jes 25:6-9 AFR20)

Let ook op hoe die sluier of doek van onbegrip verwyder word. Die meeste kommentare interpreteer dit eerder as ‘n doek van hartseer oor die wêreldwye oordeel, na aanleiding van Dawid wat sy kop met ‘n doek toegemaak het in sy smart – 2 Samuel 15:30 – en wat nou weggeneem word en die konteks wat praat van trane wat verwyder word.

Daar is egter vir my baie raakpunte in hierdie doek met die sluier waarna Paulus verwys wat die Jode verhinder om die waarheid in die Skrifte raak te sien. Dié sluier word verwyder, sê Paulus, wanneer die glans van Christus van sy mense af weerkaats word na die wêreld en hulle in ons lewenswandel Christus duidelik kan sien – 2 Korintiërs 3. Daarom kies ek vir die interpretasie van sluier van onbegrip, wat ook inpas met die versluierde boodskap wat Jesaja se roeping inhou – Jesaja 6. ‘n Mens vind ‘n soortgelyke interpretasie in Jesaja 29:10-11 wat my vermoede hier versterk.

Die dood word ook vernietig (vgl 1 Kor 15, Openb 20-21 bv), en God se volk in ere herstel wat tot ‘n erkenning van God se getrouheid sal dien.

Die enigste wars noot is die oordeel oor Moab waarmee steeds volhard word (vgl Jes 15-16). Aan die een kant blyk dit dat die sonde van Numeri 22-24, waar Moab Israel se Intog in die Beloofde Land probeer stuit het, steeds teen hulle tel. Aan die ander kant is hulle eintlik ‘n simbool van alle nasies wat hulle in hoogmoed teen God verset.

Let weereens op na die treffende – hoewel natuurlik ook uiters tragiese – beelde waarmee dit beskryf word. Dit gebeur weens hulle trots (of hoogmoed – soos van Moab in Jes 16:6 gesê word, en reeds ook aangeroer is as die een ding wat alle volke tot ‘n val sal bring en hulle die heil van God sal laat ontbeer – Jes 2:6-22. Vergelyk ook Jer 48:26 wat dieselfde motief onderstreep: “Moab het hom groot gehou teen die Here”). Hoogmoed bly die een ding waarmee God nooit vrede sal maak nie.

Jesaja 26:1-15

Die eerste deel van die perikoop is in die vorm van ‘n pelgrimslied geskrywe. Let op die wisselwerking tussen verlossing en vertroue in vers 1-3. In dié vertroue moet volhard word, ‘n sleutelboodskap van Jesaja. Om die waarheid te sê, daarin moet selfs in gevaar en oordeel volhard word. Dit bring veiligheid en beskerming – vers 4-6.

Let ook op dat dié vertroue insluit om regverdig te lewe (Jes 26:7). Selfs God se oordeel teen die nasies is immers gemik daarop om die belang van geregtigheid te onderstreep (Jes 26:9b), al steur hulle hul nie daaraan nie (Jes 26:12-15).

Jesaja 26:16-21

Om God aan te roep, is die begin van die lewe, beide in goeie as in slegte tye. Waar ‘n mens jou toevlug tot God neem, vind jy dit, al is daar ook oordeel aangekondig oor die mense van wie jy deel is (Rut, die Moabiet, is ‘n glinsterende voorbeeld daarvan).

Hierdie gedeelte is in die vorm van ‘n skuldbelydenis geskrywe, wat lei tot die verstommende geloofsbelydenis dat daar opstanding uit die dood moontlik is – ‘n skaars perspektief in die OT (vgl Job 19:25-27; Ps 16:9-11; 49:15-16; Dan 12:2). Dit word aan God se krag toegeskryf. Die laaste verse – 20-21 – is moeilik om te interpreteer, maar dra waarskynlik die boodskap oor van ‘n wagtydperk voordat dit ‘n werklikheid raak.

Jesaja 27:1-13

Jesaja 5 se tragedie – God se wingerd wat suur druiwe voortgebring het – word in ‘n triomf omskep deurdat die Here daarvoor sorg sodat die aarde vol sal word van hulle vrugte (Jes 27:6).

Die gedeelte word ‘n apokaliptiese betekenis gegee deur die verwysing na die Leviatan, die monster van die see, wat hier in vers 1 as ‘n vinnige, kronkelende slang beskrywe, en deur die Here doodgemaak word. Hierdie mitologiese monster – die Kanaäniete het van Lotan gepraat – is ‘n simbool vir al die magte wat teen God opstaan (vgl Jes 24:21 – vgl ook die draak waarvan in Open 12 gepraat word).

Let ook op na die voorwaardelike toon wat Jesaja aan hierdie heilsaankondiging gee. Die volk van die Here sal sy beskerming en versorging geniet AS hulle by God kom skuil en met Hom vrede maak (Jes 27:4b-5) Dan sal die aarde vol word van hulle vrugte (Jes 27:6).

‘n Onderskeid word getref tussen die manier wat God sy volk straf teenoor sy straf vir ander volke (vers 7-9). God straf sy volk met die hoop dat hulle sal luister, en is baie gou om, as dit gebeur, hulle met Hom te versoen. Bekering lei tot Bevestiging. Verset lei tot Vernietiging.

Jesaja keer terug na die werklikheid van die verwoesting, en wyt dit aan die volk se gebrek aan begrip van wat God doen (Jes 27:11 – vgl Jes 1:3), wat hoewel dit tot ‘n tyd van ongenade sal lei, nie God se einddoel sal verydel nie, dat Israel – weliswaar één-één (oorblyfsel-motief) – terug sal kom na sy heilige berg in Jerusalem om Hom te aanbid. Ons kry dieselfde gedagtes in die NT se hantering van die eindtyd in Matteus 24:31; 1 Korintiërs 15:52; 1 Tessalonisense 4:16, toegepas op gelowiges verspreid oor die aarde.

Lees meer oor Paulus se perspektief oor die Jode in Romeine 9-11.

Boodskap en betekenis

Jesaja 24-27 handel oor oordeel en seën in die laaste dae, die tyd van God se finale oorwinning oor die magte van die bose. Daarmee word Jesaja 13–23 afgesluit met die kosmiese oordeel oor die hele aarde. Soos daar eenmaal ‘n wêreldwye ramp was in die tyd van Noag en die toring van Babel (Gen 6-11), so kom dit weer vóór die Here ‘n nuwe hemel en nuwe aarde in aanskyn sal roep, ‘n tema wat veral in die tweede deel van Jesaja ‘n fokuspunt sal wees.

Jesaja wil ons dus oproep tot ‘n lewe wat sal uitmond in burgerskap van die hemelse koninkryk wat God besig is om te skep. En ons motiveer om – soos Jesaja – alles in ons vermoë te doen dat die nasies dié boodskap hoor.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar