Skip to main content

Genesis 36

Esau verlaat die beloofde land en slaan sy eie koers in

Teks en konteks

Hierdie hoofstuk bevat die kort vierde fase van die verbondsgeskiedenis (hoofstuk 12-50) soos dit telkens met die frase: “die familiegeskiedenis”, in Genesis aangedui word. Die eerste fase was dié van Tera waarin die verhaal van Abraham egter heeltemal oorheers het aangesien hy die volle pad tot in Kanaän aangedurf het. Die tweede fase was dié van Ismael wat net kort vertel is, aangesien hy nie in Kanaän bly woon het nie, maar in Arabië. Die derde fase was die verhaal van Isak waarin die verhaal van Jakob baie prominent was wat geëindig het met Jakob weer terug in die land ná sy omswerminge in Haran.

Hierdie vierde fase van die verbondsgeskiedenis word ook kort vertel en fokus op die nageslag van Esau wat uiteindelik ook nie in die land Kanaän agter gebly het nie, maar hulle eie grondgebied in Seïr betrek het, die gebied van die latere Edomiete. Die frase word hier twee keer gebruik, maar handel oor dieselfde nasie. Die volgende hoofstuk sal die vyfde en laaste fase van die verbondsgeskiedenis vertel, die verdere geskiedenis van Jakob waarin Josef ‘n prominente rol gaan speel.

Dit is duidelik dat die ontwikkeling van die families vir Genesis belangrik is, veral die families van die uitverkore geloofsgemeenskap van Israel. Daarom word die geslagsregisters van beide die “verkose” families en die “verwerpte” families aangegee, maar met die verskil dat die “verkose” families se verhale ook vertel word, maar net die geslagslyste van die “verwerpte” families aangegee word. Die verkose families raak dus daarmee deel van God se verhaal met hierdie wêreld.

Die familiegeskiedenis van Esau word in vier afdelings hanteer.

  1. Esau se direkte familiegeskiedenis – 36:1-19
  2. Die nageslag van Seïr – 36:20-30
  3. Die konings van Edom – 36:31-39
  4. Die Stamhoofde van Esau – 36:40-43

Kort bespreking

  1. Die name van die drie vroue wat hier aangegee word, verskil van die drie name vir Esau se vroue in Gen. 26:34 en 28:9. Daar is gesê dat Esau getrou het met Jehudit dogter van Beëri, en met Basemat dogter van Elon, sowel as met Magalat dogter van Ismael, Abraham se seun. Sy was die suster van Nebajot. Hier word gesê dat Esau getrou het met Ada dogter van Elon en met Oholibama dogter van Ana, dogter van Sibonen en met Basemat dogter van Ismael en suster van Nebajot.

Dit kan wees dat hier verskillende tekstradisies agter die verskille in name lê of selfs dat die vroue meer as een naam gehad het. Die belangrike punt om hierdie vroue se afkoms weer te beklemtoon, is om aan te dui dat Esau – en ook Ismael – met die plaaslike bevolking ondertrou het wat hulle vatbaar gemaak het vir afgodery en onsedelikheid.

Die “uitverkore” families het deurgaans dié uitdaging die hoof gebied, hoewel daar ook soms afdwalings was, soos ons onder andere in hoofstuk 38 gaan lees in die verhaal van Juda wat met Bat-Sua, die Kanaänitiese vrou, trou en toe met die uitgeslape Tamar, waarskynlik ook ‘n Kanaänitiese vrou, te doene gekry het. Hoewel die latere wet dié voorvaderlike gebruik om nie met Kanaäniete te ondertrou nie, vasgelê het (Deut. 7:3), het Tamar haar met haar optrede skielik binne die Messiaanse lyn bevind. Wonderlike uitkoms!

  1. Die name van die seuns en kleinseuns wat vir Esau gebore is, kom ooreen met die geslagsregister wat in 1 Kronieke 1:35-42 aangegee word sowel as die konings en stamhoofde wat hier genoem word wat ooreenkom met die lys in 1 Kronieke 1:43-54. Dit bevestig die oorlewering hiervan as gesagvol.

  2. Esau se nageslag se verkiesing van konings lank voor Israel dieselfde gedoen het, is betekenisvol. Koningskap in Israel was ‘n laat ontwikkeling en op versoek van die volk, soos die verhaal van Saul vir ons uitwys. Dit is ook duidelik dat hierdie lys van Edomitiese konings wys dat die konings mekaar nie direk opgevolg het nie. Elke keer is daar ‘n ander stad betrokke en die konings se name kom nie ooreen met die vorige koning nie. Dat daar later net met stamhoofde geregeer is, is waarskynlik aan die veldtogte van Dawid te wyte, wat Edom aan hom onderhorig gemaak het (1 Kron. 18:13; 2 Sam. 8:13-14).

  3. Die verdere belang van die geslagsregister van Esau op dié punt in die verhaal is om die historiese verbintenis van Israel aan sy buurvolkere te beklemtoon. Hoewel Esau – en ook Ismael – nie die uitverkore seuns in terme van die Godsvolk was nie, is hulle steeds deel van die antieke verhale van die oorsprong van die Godsvolk. Die geskiedenis van Israel kan dus ook nooit losgemaak word van dit wat rondom hulle gebeur nie, selfs vandag nog.

  4. Die belangrikste punt van hierdie eerste beskrywing van Esau se geslagsregister is waarskynlik dat dit die trek na ‘n ander land verduidelik. Daarmee het hy enige reg op die beloofde land verbeur. Hy het met sy vrouens en sy seuns en dogters en al die mense by hom sowel as met sy kleinvee en grootvee en al sy besittings wat hy in Kanaän bymekaargemaak het, weggetrek na ’n ander land toe, weg van sy broer Jakob af.

Die rede wat aangegee word, is dat hulle twee se besittings te veel was, sodat hulle nie saam kon boer nie. Die land waar hulle as vreemdelinge gebly het – let op die belangrike feit van “vreemdelingskap” na al die jare in die land! – kon nie hulle vee dra nie.

Die feit is egter dat Esau, die voorvader van die Edomiete die beloofde land verlaat het en in die Seïrberge gaan woon het. Enige aanspraak op die beloofde land word daarmee versaak, soos hy in der waarheid ook afstand gedoen het van sy eersgeboortereg.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.