Skip to main content

Psalm 61

Ek bid tot u van ver; hoor my van naby

Hierdie kort Psalm gee ’n diep-persoonlike beskrywing van die innerlike geestelike belewenis van iemand wat in alle omstandighede met God ’n pad wil stap, ook in konflik. Dit is waarskynlik ’n gebed van Dawid in oorlog ver van sy paleis in Jerusalem (vgl vers 7-8).

Teks en konteks

Die Psalm kan verdeel word in twee dele:

  • die gebed om verlossing in vers 2-5 en
  • die dankgebed vir verlossing in vers 6-9.

Vers 7-8 word in die derde persoon geskryf en herinner aan die belofte aan Dawid dat sy koningskap vir ewig sal wees (2 Sam 7), voordat in vers 9 weer na die eerste persoon teruggekeer word soos in die eerste deel van die Psalm.  Dawid herinner God dus daarmee aan sy beloftes.

Vers 2-5 – U is vir my ’n toevlug

Koning Dawid is waarskynlik ver weg in die vreemde, baie bewus van die dreigende gevaar van sy vyande.  Die oorspronklike Hebreeus in vers 2 wat vertaal is met: “ver uit die vreemde” lui eintlik : “van die einde van die land / aarde af”.  Hy wanhoop aan sy situasie, soos dit in die Hebreeus lui: “Sy hart raak swak.”

En daar is twee behoeftes wat om voorrang spook in sy gedagtes.

  • Die een behoefte is veiligheid van sy vyande – ’n hoë rotsvesting (vers 3). Hy vra God vir “’n rots wat hoër sal wees as hyself” – ’n plek wat hy nie uit eie krag kan bereik nie – waar hy veilig sal wees.
  • Die ander behoefte is ’n toevlug by God – ’n blywende tuiste in sy “tent” soos dit in die oorspronklike staan (vers 4-5).  Daarmee kom ‘n mens agter dat veiligheid ten diepste nie in ’n fisiese plek te vinde is nie, maar in die teenwoordigheid van die Here self.  Daar wil Dawid vir ewig bly, ’n blywende tuiste vind.  Hy wil skuil onder God se vleuels (vgl Ps 91), waarmee hy verwys na die vlerke van die gerubs in die binneste heiligdom van die tent van die Here (Eks 37).

Psalm 27:5 gebruik die metafore (rots/tent) van hierdie twee behoeftes en verbind albei aan die behoefte aan God, die eintlike behoefte van die mens.

Vers 6-9 – U vervul die wens van hulle wat u Naam eer

Hy bely van God dat God die wens vervul van hulle wat sy Naam eer – vers 6.  Die woord wens kan ook as erfdeel geneem word, wat die volgende vertaling gee: “U gee (my) die erfdeel van hulle wat sy Naam eer,” waarmee aan die eenkant Dawid se voorkeur posisie as koning van die volk uitgedruk word.  Hy regeer hulle land, die erfdeel van die Here.  Maar aan die ander kant kan dit ook metafories bedoel word, dat God vir Hom ook gee wat ander wat sy Naam vereer het, gekry het, ’n antwoord op gebede.  Dit is die erfenis van ’n verhouding met God, die kosbaarste besitting wat ’n mens kan ontvang.

Boodskap en betekenis

Let op die rol wat geloftes speel en hoe krities belangrik die nakom van die geloftes in vers 9 uitgespel word.  Geloftes is beloftes wat aan God gemaak word in tye van nood en wat in die vorm van brand- (Ps 66:3) en lofoffers (Ps 50:4) betaal is.  Dit het dus ’n verbintenis van die bidder ingehou, gekoppel aan God se gebedsantwoorde.  Selfs Paulus het só ’n gelofte gemaak en nagekom (Hand 18:18 – hy het waarskynlik sy hare laat groei, totdat die [onbekende] gebed verhoor is, en toe sy hare afgesny om sy gelofte na te kom).

Daar is ’n pragtige Babiloniese gebed wat as volg lui: “Ek bid tot U van ver, hoor my van naby.” (Tate, Word Biblical Commentary, Psalm 51-100).  Dit laat ’n mens oor gebed dink as dié instrument wat die afstand tussen God en mens oorbrug, dat ín die gebedsaksie self reeds die kontak met God en sy gawes gemaak is.  En dié Psalm getuig van die werklikheid daarvan.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar