Skip to main content

Esegiël 8

Die leiers dink die Here sien nie hulle afgodediens raak nie

Meer as ‘n jaar na Esegiël se eerste gesig, terwyl hy in sy huis op ‘n Dinsdag met die leiers van Juda op 15 Augustus 592 v.C. sit en gesels, het die mag (hand) van die Here weer van hom besit geneem.

Hy word in hierdie gesig wat strek van Esegiël 8-11 na die tempel en die stad Jerusalem geneem om nie net die geestelike toestand van die mense wat tot die oordeel gely het, te sien nie, maar ook hoe God se magtige teenwoordigheid uit die stad uit weggeneem word. Daar is ‘n sprankie hoop vir die ballinge dat God “vir hulle ‘n heiligdom” sal bly in die lande waarheen hulle verstrooi is, sowel as ‘n belofte van terugkeer in die toekoms (11:16 vv).

Teks en konteks

Jahwe verskyn weer in ‘n mensvormige gestalte aan Esegiël soos met die eerste visioen. Hy lig Esegiël aan sy hare (waarskynlik terug gegroei!) op en bring hom deur die Gees (die woord kan ook wind beteken) na Jerusalem.

Die Here wys vervolgens vir Esegiël vier tonele wat God se toorn oor Jerusalem laat ontvlam. Onthou dat dit ‘n visioen is en nie noodwendig presies vergelykbaar met wat in werklikheid in Jerusalem op dié moment aan die gang was nie. Die afbreek van die muur gebeur bv. nie werklik nie. Die ander detail, bv. die Asjera altaar en afgodsbeeld en die mense wat hy herken, kon moontlik met die werklikheid verband gehou het, maar dit word in die eerste plek meer simbolies bedoel, soos bv. spesifiek van die verwoesting van hfst. 9-10 die geval is.

  1. Die eerste toneel is van die altaar wat vir ‘n ongenoemde afgodsbeeld gebou is net buite die ingang na die tempel (8:3-6). Dit is waarskynlik Asjera, die hemelkoningin, aangesien dieselfde woord in 2 Kron. 33:7,15 vir afgodsbeeld gebruik word en met haar geïdentifiseer word. Dit het ‘n “heftige toorn” by die Here laat ontstaan teen die volk wat haar aanbid het. Dit nogal met hulle rug na die tempel!
  2. Die tweede is ‘n toneel waarin Esegiël die afbeeldings van allerlei kruipende goed en diere wat teen die mure binne-in die tempel uitgekap is (8:7-12). Die (moontlik Egiptiese) afbeeldings is deur sewentig (‘n verteenwoordigende getal) van die leiers van Israel in die geheim (in die donker!) aanbid met wierookbakke in hulle hande. Die Here se kommentaar op dié afskuwelike afgodediens is: “Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie.” Hulle lojaliteit is dus van God af na ander afgode verplaas.

Esegiël herken vir Jaäsanja, seun van Safan, wat moontlik ‘n vierde seun van dié gevierde staatsekretaris van koning Josia was (2 Kon. 22). Hy volg dus nie in die spore van sy pa nie, maar verplaas sy lojaliteit soos die ander leiers na die afgode. Let wel, hy is nie dieselfde persoon as Jaäsanja, seun van Assur, wat in hfst. 11:1 genoem word nie. Hulle was waarskynlik aan Esegiël bekend uit sy vroeëre verblyf in Jerusalem.

  1. Die derde toneel is die aanbidding van Tammus (8:13-15). Die vroue het gesit en huil oor Tammus, die god Dumuzi. Sover ek kan agterkom uit die verwarrende inligting oor dié mite, was Dumuzi vir ses maande na die onderwêreld verban as plaasvervangende straf vir sy vrou Inanna se indiskresie om op haar suster Ereshkigal se troon te gaan sit. In rituele van rou kon hy herroep word om vir ses maande van die jaar weer die lewe te smaak saam met sy vrou. Sy terugkeer sou dan verband hou met die aanbreek van die reënseisoen. Hoe dit ook al sy, met dié rites het hulle God se voorsiening in die natuur aan ‘n afgod toegeskryf, baie soos dit die geval met die Baälgodsdiens was.
  2. Die vierde toneel is die aanbidding van die son in die binneste voorhof van die tempel (8:16-18). Vyf en twintig man aanbid die son met hulle rug na die altaar van die Here! Nie net het hulle die land vol geweld gemaak nie, maar hulle tart die Here met die druiweranke wat hulle voor hulle neuse rondswaai. Dit is onseker wat die agtergrond vir dié gebruik was, maar die betekenis is seker – dit is ‘n obsene, spottende gebaar (amper soos die “middelvinger” vandag gebruik word). Die LXX (die v.C. Griekse vertaling van die OT) vertaal dit daarom as volg: “Hulle is soos spotters …

In plaas van om voor die Here se teenwoordigheid in die stad en tempel neer te val, aanbid die mans en vroue afgode vanuit die res van die wêreld. Op die koop toe terg hulle die Here met absolute obsene minagtende gebare.

Die Here se woede het nou geen perke nie: “Ek gaan nou doen wat my gramskap eis. Ek gaan nie verskoon nie, nie jammer kry nie. Al roep hulle hoe hard na my, Ek sal hulle nie hoor nie.

Boodskap en betekenis

Esegiël sien hier as’t ware met sy eie oë hoe ernstig die verval in Jerusalem is. Hy het ses jaar vroeër aan sy eie bas die gramskap van die Here ervaar met die wegvoering in ballingskap. Niks het egter verander in Jerusalem nie. Trouens dit het selfs vererger. Dít kon hy nou in die visioen eerstehands ervaar.

Die visioen gee daarom ‘n visuele regverdiging en motivering vir die drastiese veroordeling van die Here. God sien alles, anders as wat die leiers gedink het terwyl hulle in die donker met hulle konkelwerk besig was – kulties in die tempel (Eseg 8:12), en sosiaal in terme van grondbesit (vgl Eseg 11:3 in die volgende bydrae). Dit is ‘n kant van God wat ons goed sal doen om altyd te onthou. Hy is nie net die God wat vertroos nie. Hy is ook die God wat veroordeel.

Daar is ‘n sprankie hoop vir die ballinge dat God “vir hulle ‘n heiligdom” sal bly in die lande waarheen hulle verstrooi is, sowel as ‘n belofte van terugkeer in die toekoms (11:16 vv).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar