Skip to main content

1 Korintiërs 7

Dis beter om nie te trou nie ter wille van die koninkryk

Paulus begin in hoofstuk 7 reageer op sake wat in die brief van die Korintiërs aan hom gerig is. In vers 1-24 hanteer hy vrae oor die huwelik en verwante sake. In vers 25-40 plaas hy sy antwoorde in die konteks van die koninkryk wat onverdeelde aandag verdien.

Teks en konteks

Getroudes moet in die huwelik aan mekaar getrou bly – 1 Korintiërs 7:1-7

Paulus begin met hulle vrae oor die huweliksreg van seksuele gemeenskap. Daar het ‘n idee by die Korintiërs ontstaan dat dit goed is vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe, dit wil sê sonder seksuele gemeenskap. Sommige het blykbaar selfs besluit het dat die huwelik nie strook met hulle opvatting van Christenwees nie en wou sonder seks in die huwelik lewe of dan skei om beter die Here te kan dien.

Daarom praat Paulus eers oor getroudes, en beveel aan dat hulle steeds in die huwelik sal bly, en steeds seksueel met mekaar sal verkeer in die huwelik, veral weens die gevaar van onsedelikheid. Ons liggame behoort wel aan God (1 Kor. 6:19), maar in die huwelik ook aan ons huweliksmaat. Daarom moet huweliksmaats mekaar nie seks weier nie, behalwe om ’n (kort) tyd lank te bid. Die duiwel moet nie kans kry om hulle te verlei weens hulle gebrek aan selfbeheersing nie, veral nie in ’n stad wat so berug vir sy prostitusie was nie.

Hy sê dit weliswaar as toegewing, nie as voorskrif nie, want hy wens alle mense kon soos hy wees wat ter wille van die koninkryk homself ‘n huwelik ontsê het.

Wewenaars en weduwees sal goed doen om ongetroud te bly – 1 Korintiërs 7:8-9

Dan spits hy hom toe op die wat voorheen getroud was, die wewenaars (ongetroudes) en weduwees. Paulus gebruik in vers 8 ‘n ander woord (agamos) vir “ongetroudes” as in vers 25 (parthenos – maagd), wat baie geleerdes laat vermoed dat hy eintlik in vers 8 van wewenaars praat, wat in die konteks ook beter pas as die gelykluidende raad wat hy vir die weduwees gee. So gee die NIV dit ook in ‘n voetnoot weer.

Paulus werk basies met twee beginsels:

  1. Paulus dink dit is beter om nie te trou nie (vers 1,8), maar relativeer dit deur homself as voorbeeld te gebruik, en te erken, soos hy self sê in vers 7, dit hang van ons gawes af, dinge wat die Here vir ons gee (vgl Matt. 19:11 “Wie dit kan doen, laat hom dit doen”);
  2. As jy jouself nie kan beheer nie, dink Paulus, dit is dan beter om te trou as om deur hartstog verteer te word (vers 9). Daarom dan ook dat huweliksmaats mekaar in ag moet neem (vers 2-5), sodat ’n gebrek aan seks nie hulle blootstel aan verleiding deur die duiwel nie.

Let egter op dat albei beginsels uit sy eie ervaring kom, en nie as ’n bevel van die Here aan hulle gegee word nie. Dit is dus eintlik meer sy eie mening, hoewel daar baie geleerdes is wat steeds die gesag van hierdie woorde handhaaf, op grond van wat Paulus in vers 40 sê: ”Ek dink dat ek ook die Gees van God het.”

Getroudes mag nie skei nie – 1 Korintiërs 7:10-16

As jy egter getroud is, is die vaste reël dat ‘n gelowiges nie van sy of haar lewensmaat mag skei nie. Daarmee erken Paulus wat regdeur die Bybel as beginsel aangegee is, dat God nie wil hê huweliksmaats die band tussen hulle moet verbreek nie.

Let ook op dat Paulus werk met die beginsel van een man en een vrou (“elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man”), dws die monogame huwelik.

Uiteraard kan egskeiding gebeur in die geval van egbreuk soos Jesus dit erken het (Matt. 19:1-10). ‘n Mens kan moontlik in sommige gevalle ook die wet in ag neem wat voorgeskryf het dat die band tussen ‘n man en sy byvrou in die geval van mishandeling losgemaak kan word. Dit is gevalle soos die weerhouding van kos, klere en die huweliksreg (Eksodus 21:10-11).

Indien ‘n mens egter tot egskeiding kom, is dit dan ook beter om nie weer te trou nie soos hy in die laaste perikoop sal motiveer.

Dan spreek hy die probleem van ’n ongelowige maat in die huweliksverhouding aan, en sê basies dat die ongelowige, nie die gelowige nie, die keuse het om te skei of te bly. Hy dink daar is ’n voordeel vir die ongelowige om te bly – bv. die kontak met die huweliksmaat wat die Here dien – maar die gelowige huweliksmaat is nie gebind aan die huwelik, as die ongelowige huweliksmaat wil skei nie.

Daar is ook ’n voordeel vir die kinders, deurdat hulle in die sfeer van die Christelike gemeenskap groot word, en daardeur beïnvloed kan word. Anders sou hulle in ’n heidense omgewing grootword, wat eweneens ’n groot invloed op hulle sal hê.

Ek verkies die vertaling van vers 16 soos dit in die 1953- en 1983-vertaling vertaal is: “Jy, vrou, weet immers nie of jy jou man sal red nie. Of jy, man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red?” Daarmee gee Paulus ‘n rede waarom die ongelowige toegelaat moet word om te skei, d.w.s. dat die gelowige geen waarborg het dat die ongelowige tot bekering sal kom nie.

Die NLV en 2020-vertaling se weergawe gee ‘n heeltemal teenoorgestelde betekenis wat nie vir my sin maak nie: “Want hoe weet jy, vrou, of jy nie jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie jou vrou sal red nie?”

Paulus sal in 2 Korintiërs 6 verder hieroor skryf en gelowiges begelei om in die eerste plek nie met ongelowiges te trou nie: “14Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? 15Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan ’n gelowige dieselfde belange hê as ’n ongelowige?” (2 Kor. 6:14-7:1; vgl. ook die een keer in die Bybel waar egskeiding toegelaat is weens die gevaar van die kinders wat afvallig sou raak met ongelowige moeders – Esra 9-10).

Gehoorsaamheid aan die Here word in alle situasies van gelowiges gevra – 1 Korintiërs 7:17-24

Hoe dit ook al sy, gelowiges moet nie oorhaastig hulle sosiale of kulturele situasie probeer verander nie en eerder die Here daarbinne begin dien – of hulle nou Jode (besnede) is of Grieke (onbesnede). Elkeen in gehoorsaamheid aan God se gebooie leef. Selfs slawe moet nie ongelukkig wees as hulle situasie dieselfde bly nie, hoewel vryheid verkieslik is, en hulle gerus (2020-vertaling sê: “ten alle koste”) daarvan gebruik mag maak.

Die belangrike is dat ‘n mens ongeag jou situasie – slaaf of vry – as vrygemaakte van die Here moet leef en nie langer slawe van mense sal wees nie.

Die koninkryk verdien ons almal se onverdeelde aandag – 1 Korintiërs 7:25-40

Maar dan is Paulus natuurlik ook baie bewus van die uitdagings wat wag vir die kerk, en hy wil eintlik mense die bekommernisse spaar wat baie keer met die huwelik saamgaan.

Weereens gee Paulus sy eie mening, hoewel hy dit as betroubaar – deur die genade van die Here – beskrywe (vers 25) en hom beroep op die feit dat hy ook die Gees het (vers 40). Maar hy relativeer dit deur sy mening te onderskei van ’n direkte bevel van die Here.

Hier praat hy nou oor die werklik ongetroudes (parthenos – maagde). Met die oog op die swaarkry van die eindtyd dink hy dit is vir hulle beter om nie te trou nie. Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie, jy maak dit net vir jouself swaar. ’n Mens hoor Paulus hier die soortgelyke gedagtes eggo wat Jesus geopper het oor swanger vroue in die eindtyd (Mrk. 13:17). Jesus sowel as Paulus het waarskynlik in die eerste plek die vervolging onder die Romeine in gedagte gehad.

As jy dus jou lewensmaat deur die dood verloor, kan jy weer trou, maar jy doen beter deur eerder te fokus op die koninkryk en al jou aandag daaraan te gee, soos ‘n Anna in die tempel waarvan ons met Josef en Maria se besoek aan die tempel met Jesus se geboorte lees: “Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.” (Luk 2: 36-38).

Paulus relativeer daarmee eintlik die hele normale gemeenskapslewe en maak dit ondergeskik aan ’n lewe vir die koninkryk. Selfs om iets vir jouself te koop, word gerelativeer, omdat hierdie wêreld soos ons ken aan die verbygaan is, en ons vry van sorge moet wees om aandag aan die koms van die koninkryk te kan gee. Die dinge van die Here moet voorop in ’n mens se gedagtes wees, nie die dinge van die wêreld, soos die huwelik en dergelike dinge nie. Ons aandag moenie verdeel wees nie.

Hoewel baie met Paulus sou wou verskil, sê hy hierdie dinge na sy mening tot ons beswil, nie om ons aan bande te lê nie, maar om ons toewyding aan die Here te beskerm. Wie trou doen dus goed, maar wie nie trou nie, doen beter – aldus Paulus.

Boodskap en betekenis

Paulus gee hier pastorale raad oor die huwelik, egskeiding en ‘n ongetroude lewe vanuit die groter perspektief van die koninkryk van God wat onverdeelde toewyding vra. Hy erken die waarde van die huwelik en beskerm met sy raad die instelling en waarde daarvan teen seksuele losbandigheid en egbreuk. Maar, hy stel tegelykertyd voor dat dit in sommige gevalle beter is om nie te trou nie, nie as ’n gebod nie, maar as wyse raad gegrond op sy eie roeping binne die koninkryk en die verwagting van swaarkry in die eindtye.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar