Skip to main content

1 Samuel 8

Samuel se kinders was nie soos hy nie

Ons sien in hierdie hoofstuk die druk wat van die volk van Israel af kom om van ‘n teokrasie na ‘n monargie oor te gaan. Hoewel dit duidelik is dat die eintlike beweegrede wêreldgelykvormigheid was – hulle wou ‘n mens as koning hê om soos die ander nasies te wees – laat die Here hulle begaan, al kom dit neer op ‘n verwerping van sy Koningskap oor die volk.

Teks en konteks

Regdeur Samuel se lewe en bediening het hy as ‘n man van integriteit opgetree. Hy het met moed, onderskeiding en wysheid die Israeliete gelei om aan God alleen verbonde te lewe. Niemand kon ‘n vinger na hom wys oor iets wat hy verkeerd gedoen het nie. Dieselfde het egter nie sy kinders gegeld nie. Hulle was gierig en korrup, hoewel hulle darem nie in immoraliteit verval het soos Eli se seuns nie. Skrale troos!

Samuel het hulle eers aangestel toe hyself al gevorderd in jare was, en het moontlik gehoop dat sy seuns beter sou doen as volwassenes. Hy het hulle ook aangestel in Berseba, in die verste punt suid van die land moontlik in die hoop dat hulle in ‘n minder uitdagende omgewing kan groei in hulle rol as rigters. Maar, tevergeefs!

Dit kom daarom vreemd voor dat die volk vir ’n koningshuis gebaseer op oorerflikheid kies, gesien in die lig van die gebreke van beide Eli en Samuel se seuns. Geestelike volwassenheid was nie vanselfsprekend ‘n gevolg van fisiese volwassenheid nie. Dit moes hulle teen hierdie tyd deeglik geweet het.

Maar, as die ware rede na vore kom – “Ons wil ook soos al die nasies wees” – verstaan ’n mens dat die integriteit van hulle leiers vir die volk van minder belang was as dat hulleself nie anders wou wees en leef as die heidense nasies nie. Die suigkrag van die wêreldse waardes was vir hulle te veel.

Daar sit egter meer hier agter. Aan die een kant het die koning binne die Kanaänitiese beskouing eintlik die volk en hulle grondgebied besit. Teenoor die Bybelse perspektief dat alles aan God behoort. Die volk kies dus hier vir ‘n wêreld- en Godsbeeld wat vanuit hulle omgewing kom, eerder as van die Here self af.

Ons sien dit ook later verder geïllustreer in die verhaal van Nabot se wingerd waar dié sienings weer ‘n keer teenoor mekaar op die spits gedryf word met Agab wat self ook – onder die aanhitsing van Isebel – ‘n keuse vir die Kanaänitiese beskouing maak, en die Here se beskouing oor grond ignoreer (1 Kon 21; vgl Lev 25).

Aan die ander kant kom ons later in hoofstuk 12 agter dat daar ook ‘n konkrete bedreiging was van koning Nagas (sy naam beteken “slang”) van die Ammoniete wat hulle gedryf het om ‘n koning te vra van die Here. Die verhaal word eers in hoofstuk 11-12 vir ons vertel, waar Samuel terugverwys na hulle versoek om ‘n koning: “Maar toe julle sien dat Nagas, die koning van die Ammoniete, teen julle optrek, het julle vir my gesê, ‘Nee, maar ‘n koning moet oor ons regeer!’ – en dit terwyl die Here julle God julle koning is.” (1 Sam 12:12).

In Samuel se gesprek hier in hoofstuk 8 met die Here hieroor gee die Here hom egter die opdrag om die volk te laat begaan in hulle begeerte na ’n koning. Want, Hy weet dat dit ten diepste oor hulle verbintenis aan Hom gaan. Hulle wil soos die omliggende nasies wees, maar hulle is terselfdertyd bang vir die bedreiging van daardie nasies.

Die Here troos dus nou ook vir Samuel: “dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees. Die Here keer dus dat Samuel die versoek van die volk as ’n persoonlike belediging opneem. Die Here wys hom daarop dat hulle God self beledig.

Die Here wys ook uit hoe hierdie versoek kom uit ’n hart wat aan afgode meer eer gee as aan Hom. Dit is immers wat die keuse vir ’n Kanaänitiese beskouing behels. Dit gee meer eer aan die dooie afgodsdiens se beskouinge as aan dié van die lewende God self.

Die Here gee wel opdrag dat die gevolge van hulle keuse uitgespel moet word in terme van die effek veral op hulle kinders, en hulle eie welvaart. ’n Teokrasie is “goedkoper” as ’n monargie in terme van die ekonomiese las op die bevolking, ten minste soos dit op hierdie stadium die geval was.

Samuel waarsku die volk dan ook dat daar nie vir hulle uitkoms kans sal wees as die koninklike las vir hulle te swaar raak nie. Die waarskuwings draai om die koste van diensplig, dwangarbeid, en belasting. Hy waarsku hulle ook dat die Here hulle dan nie sal verhoor as hulle van plan sou verander nie.

Maar verniet. Die volk het geweier om na Samuel te luister. Hulle wou opsluit ’n koning hê soos die ander volke, iemand wat namens hulle kan optree en hulle oorloë vir hulle kan wen. Dat die Here net met die asem van sy mond – die geluid van die weerlig in die vorige oorlog – die vyand op vlug laat slaan het, het hulle al vergeet.

In nog ’n gesprek tussen Samuel en die Here is die beslissing gevel. Israel sou ’n koning kry. Samuel stuur egter eers al die mense huis toe om op instruksies van hoe dit gaan werk, te wag.

Boodskap en betekenis

  1. Die tema van koningskap kom van vroeg af voor. Reeds in die Pentateug praat die Bybel daaroor: Gen 17:6,16; 35:11; 49:10; Num 24:17; Deut 17:14–20; 28:36 (Wenham).

Dit is iets wat Moses al vier eeue gelede voorsien het en voorskrifte voor gegee het dat dié koning deur die Here verkies moet word, iemand uit eie geledere, en dat die koning moet kies om in gehoorsaamheid aan die Here te regeer. Moses het ook spesifiek gewaarsku teen die verleiding van vroue – wat tot afgodsdiens sou lei – en perde – as simbook van ‘n vertroue op eie vermoëns. Vir daardie doel moet die koning ‘n afskryf maak van die wet – ‘n “deuteronomium”, dws “tweede wet” – sodat hy God se wil nougeset kon nakom (Deut 17:14-20).

Die probleem wat Samuel dus nou met die volk se versoek het, is nie dat daar ‘n koning sou kon kom nie, maar eerder dat die volk dit op die tydstip vir die verkeerde redes wil hê – sodat hulle soos die ander volke kan wees, en die bedreiging van Nagas die hoof kan bied, wat tragies genoeg implisiet en eksplisiet ‘n verwerping van God se koningskap beteken het.

God het immers deurgaans met leiers gewerk. Die aartvaders was immers in die ware sin van die word leiers van hulle familiegroepe gewees. Moses, Josua, al die Rigters, en ook Samuel was sterk leiers in ‘n groter volksverband.

En soos die heilsgeskiedenis hierna sou ontvou, sou God ook hierdie oorgang van die teokrasie na ‘n monargie bestuur sodat Hy uiteindelik deur die Messias in Jesus Christus sy finale teokrasie, die Koninkryk van God sou vestig. Dit was immers sy belofte aan Abraham dat daar konings uit sy nageslag na vore sal kom (Gen 17:6)!

  1. Dit is tragies dat die geskiedenis homself so herhaal. Eli se kinders was nie soos hy nie. Samuel se kinders was weer nie soos hy nie. Hulle is as leiers aangestel, maar het hulle eie belange gedien. Dit is die een rede in die volk se versoek om ‘n koning wat ‘n mens begryp. Maar om darem te sê: “Ons wil ook soos al die nasies wees.” Hulle is dan juis anders, omdat hulle God se nasie is!

  2. Dit wys net vir my hoe domastrant ons kan wees. Ons waardeer nie genoegsaam die wonder van God se teenwoordigheid in ons lewe nie. Ons val ook baie keer vir wêreldgelykvormigheid, en vergeet dan soos die Israeliete God se ingrype in ons eie lewe – soos hulle die oorwinning wat God vir hulle bewerk het in die geveg met die Filistyne, en die vrede wat daarna met die Amoriete gekom het, vergeet het (1 Sam 7).

Dit is ontstellend om die Here drie maal te hoor sê: “Luister nou na hulle…” Die enigste hoop daarin is dat die Here vir hulle gee wat hulle vra dat hulle hopelik uit skade en skande uit wys sal kan word…

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda