Skip to main content

Deuteronomium 29

Kom die woorde van die verbond na en voer dit uit

Teks en konteks

Die derde preek van Moses (Deut. 29:1-30:20) begin in Hebreeus soos by die eerste preek met die woorde: “Dit is die woorde (van die verbond)” en voer dit verder. Moses moedig Israel aan om te volhard in hulle gehoorsaamheid aan die Here in die toekoms in ‘n vernuwing van hulle verbond met Hom: Deuteronomium 29. Dit sal vir hulle die lewe beteken. Ingesluit daarby is die aanmoediging om te vertrou op die beloftes van God ook vir die toekoms. Ongehoorsaamheid sal egter oordeel vir hulle beteken. In ‘n vernuwing van die verbond verbind die volk hulle aan die seën en straf daarvan: Deuteronomium 30.

Hierdie derde preek van Moses bevat ook ‘n terugverwysing na sy preek van die vorige 25 hoofstukke. Daarmee onderstreep die redakteur van die boek die beslissende belang van Moses se woorde. Net soos die Tien Gebooie van God by die berg Horeb (Sinai) die basis van sy verbond met Israel gevorm het, só vorm Moses se uitleg van die Tien Gebooie, wat hy hier by Moab so voortreflik gedoen het, die basis van die verbond wat die Here hier deur Moses met Israel sluit.

Trouens, ‘n mens kan die verbond by Moab eintlik ‘n verbond van Moses noem, een wat hy met Israel sluit op grond van die Here se bevel. Vers 1 lui só in ’n meer direkte vertaling: “Dit is die woorde van die verbond wat die Here Moses beveel het om met die Israeliete te sluit in die land van Moab, afgesien van die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het.” (Deut. 29:1).

Moses begin dus met sy derde preek om hulle geskiedenis tot by die Jordaan in perspektief te stel (Deut. 29:2-8) as begronding van sy oproep aan hulle om te sorg dat hulle alles uitvoer wat die verbond vir hulle as volk van God bepaal (Deut. 29:9-21). Anders sal die toorn van die Here teen hulle ontvlam (Deut. 29:22-29).

Hy voltooi die preek in hoofstuk 30 deur die gevolge van hulle gehoorsaamheid al dan nie uit te spel in terme van die vloek en die seën van die Here (Deut. 30:1-10) en volg dit op met ‘n bemoedigende woord dat gehoorsaamheid moontlik is. Dit is nie moeilik nie. Dit is nie buite bereik nie (Deut. 30:11-14). Al wat hulle moet doen, is om te kies vir die lewe saam met God, om Hom nougeset te gehoorsaam. Die hemele en die aarde is getuies daarvan, sê Moses, dat hy niks teruggehou het van dít wat God wou hê dat hy vir hulle moes deurgee nie (Deut. 30:15-20; vgl. Jesus wat ‘n soortgelyke uitspraak maak in Joh. 15:15).

Die res van die boek is ‘n epiloog wat sal aandag gee aan die aanwys van Josua as die nuwe leier van die volk (Deut. 31; 34) sowel as aan twee liedere wat Moses: “tot die laaste woord toe” aan die volk voorgehou het. Die een is ‘n loflied op die karakter van God in sy ewewigtige hantering van Israel ten spyte van hulle wispelturigheid (Deut. 32). Die ander ‘n seënbede (Deut. 33).

Die verbond van God word deur sy wet begrond – Deuteronomium 29:1

Dit is duidelik dat die inhoud van die verbond onomwonde deur God se wet gevorm is. Soos die Tien Gebooie die basis van sy verbond met Israel by Sinai was, só is dit steeds hier by Moab, hoewel in ‘n meer uitgebreide geïnterpreteerde vorm.

Dit sal ook nooit verander nie, selfs nie in die NT nie, want soos Jesus in die Bergrede die wet as sy uitgangspunt neem (Matt. 5-7), só skryf die Gees die wet in ons harte as deel van die nuwe verbond (Jer. 31:31-34; Hebr. 8:7-13). Die nuwe verbond se voordeel lê in die verlossing in Jesus Christus wat ons harte verander om dié wet te kan nakom (2 Kor. 3:3; Hebr. 10:22). Maar, God se wet bly vir ewig staan, Hy: “by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.” Immers: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer.” (Jak. 1:17).

Moses gee vir hulle insig in die pad tot hier – Deuteronomium 29:2-8

Moses plaas daarom hulle geskiedenis tot by die Jordaan in perspektief. Let op hoe Moses hulle leer dat ervaring nie genoeg is om God se wese en werk te kan verstaan nie. Hulle het immers al die wonderdade van Egipte tot en met die vooraand van die Intog beleef: “En tog het die Here tot nou toe nie vir julle verstand gegee om te verstaan, oë om te sien en ore om te luister nie.” Dit is eers met Moses se prediking wat hulle die insig gekry het van wat regtig aan die gang was in terme van God se pad met hulle.

Moses lig ‘n paar verdere wonderwerke van God uit: klere wat nie verslyt het nie, skoene wat nie stukkend geraak het nie. Hy wys ook hoe hulle sekere dinge moes ontbeer: brood, wyn en bier: “sodat julle kon leer dat die Here julle God is.” Dit was die belangrikste les wat hulle in die woestyn moes leer. Ook in die oorwinnings in die verskillende oorloë tot hier, met die ekstra grondgebied wat hulle gekry het, het God vir hulle gewys dat hulle van Hom afhanklik kan wees.

Kom die woorde van die verbond na en voer dit uit – Deuteronomium 29:9-21

Moses roep hulle op om te sorg dat hulle alles uitvoer wat die verbond vir hulle as volk van God bepaal. Dit is die wesenlike van hulle godsdiens, om die woorde van die verbond na te kom en dit nougeset uit te voer. Dit sal hulle voorspoed in die teenwoordigheid van die Here bepaal óf nie.

Let op dat almal deel kry aan hierdie verbond: “hoofde, stamme, leiers, beamptes, elke Israeliet, ook julle kinders en julle vrouens, selfs die vreemdeling wat by julle in die laer is, dié wat julle hout vir julle moet kap, en dié wat julle water vir julle moet aandra.” Die verbond is nie ‘n individuele aangeleentheid alleen nie, maar sluit letterlik almal in wat in en om die familie en huishouding geleef het.

Let op dat die verbond ook nie net die verlede betrek in terme van die voorvaders nie, maar ook almal wat nog gebore moet word. Daarom is daar ‘n onontwykbare verpligting op almal om te sorg dat die Here gedien word deur almal wat hulle met die Godsvolk assosieer. Die rede is dat enigiemand wat afvallig word soos ‘n gifwortel alles kan vergiftig.

So leer die Hebreërskrywer ons in die NT ook: “Pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” (Hebr. 12:15). Iemand wat afvallig word, kan maklik hom- of haarself wysmaak dat alles reg is: “Ek is veilig al volg ek my eie harde kop.” Maar dit sou ‘n valse gerusstelling wees en tot ellende en swaarkry lei: “want die Here sal nie so iemand wil vergewe nie.

Moses laat die volk onder geen illusie nie. Die toorn en verontwaardiging van die Here sal so iemand tref. Die Here sal sorg dat die vloeke van Deuteronomium só ‘n persoon sal tref.

Anders sal die toorn van die Here teen hulle ontvlam – Deuteronomium 29:22-29

Gehoorsaamheid is ononderhandelbaar deel van die verbond. Enige gebrek daaraan sal die toorn van die Here teen hulle laat ontvlam. Dit sal vir hulle wees soos die vernietiging wat die vier stede in Lot se tyd getref het: Sodom, Gomorra, Adma en Sebojim. Hulle sal deur die Here in sy gloeiende toorn verwoes word.

As die nasies verwonderd is oor die felheid van God se toorn teenoor sy volk, sal die boodskap aan hulle wees dat die volk die verbond met hulle God verbreek het en hulle hulle verdiende loon gekry het, soos die Here dit aan hulle geopenbaar het. Dit is duidelik dat die straf van die ballingskap hier in die oog is.

Moses maak baie van die feit dat dié dinge geopenbaar is. Daar is dinge wat net God weet, en dít moet ons nie bekommer nie. Maar die dinge van die wet is geopenbaar. Trouens, dit: “is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag.” Daarom moet ons: “lewe volgens al die woorde van hierdie wet.

Boodskap en betekenis

Johannes verbind in die NT sy waarneming dat baie mense nie in Jesus geglo het nie eksplisiet aan die profesie van Jesaja 6 dat God hulle oë blind gemaak het en hulle verstand laat afstomp het weens hulle sonde (Joh. 12:40).

Dit is egter ook duidelik dat die agtergrond vir dié profesie van Jesaja implisiet in Deuteronomium lê waar Moses dieselfde sê van die volk wat al die wonderdade van God gesien het: “En tog het die Here tot nou toe nie vir julle verstand gegee om te verstaan, oë om te sien en ore om te luister nie.” (Deut. 29:4).

Paulus sal later presies dieselfde argument in Romeine 11:8 gebruik en ook uit Deuteronomium 29:4 aanhaal.

Dit is deur daardie blindheid dat ongelowiges die ewige lewe verbeur wat in Jesus opgesluit lê, want wie in Jesus glo, glo in Hom wat Jesus gestuur het, en sien en hoor die God wat Jesus gestuur het (Joh. 12:44-54). ‘n Mens leef immers van elke woord wat uit die mond van God kom (Deut. 8:3)!

Daarmee maak Jesus aanspraak daarop dat wat Hy sê van dieselfde God af kom as wat met Moses gepraat het, en dat sy woorde in pas is met die woorde wat aanvanklik vir die volk van God in die woestyn selfs vóór die Intog in die beloofde land gegee is. Soos Johannes al aan die begin van sy evangelie gesê het: “God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Joh. 1:17).

Jesus kan dus ook aanspraak maak daarop dat ons sy woorde sal gehoorsaam, soos Moses dit ook eenmaal vir die volk uitgespel het in Deuteronomium 32: “Neem al die woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte. Julle moet julle kinders beveel om dit te gehoorsaam en te lewe volgens hierdie hele wet. Dit is nie ’n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle, en deur hierdie gebod te onderhou, sal julle julle verblyf verleng in die land wat julle in besit sal neem wanneer julle die Jordaan deurtrek.” (Deut. 32:46-47).

  • Wat is die kern van die boodskap van dié hoofstuk vir jou dag en lewe – insigte, beloftes, of opdragte?
  • Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar