Skip to main content

Handelinge 1

Wag op die gawe van die Heilige Gees

Handelinge is deel twee van die verhaal van Lukas. Dit vertel die verhaal van die redding deur Jesus soos dit deur die Gees en die kerk voortgesit word van Jerusalem af tot in Rome.

Lukas laat die twee dele van sy verhaal – Lukas en Handelinge – baie vernuftig met mekaar korrespondeer:

  • Handelinge 1-12 vertel van die verspreiding van die evangelie deur gelowiges en korrespondeer met Lukas 1-9 se verkondiging van die evangelie deur Jesus in veral die platteland van Galilea – die geografiese beweging is net omgekeer: die verspreiding deur gelowiges begin in die stad Jerusalem en versprei na die platteland in Judea en verder tussen ongeveer 33-46 n.C.
  • Handelinge 13-20 is reisverhale van veral Paulus en korrespondeer met Lukas 10-19 se reis na Jerusalem wat Jesus onderneem – Paulus neem die evangelie na Asië (Turkye) en Europa op drie sendingreise en eindig in Jerusalem soos Jesus (uiteindelik op pad na Rome) tussen ongeveer 47-57 n.C.
  • Handelinge 21-28 vertel van drie verhore en korrespondeer met Lukas 20-24 se drie verhore van Jesus – Paulus verskyn voor dieselfde drie tribunale as Jesus (die Joodse Sanhedrin [Luk 22/Hand 22], die Romeinse goewerneur [Luk 23/Hand 25], en een van die Herodes konings [Luk 23/Hand 25 {Julius Markus Agrippa}]) – die resultaat is dat die evangelie tot in die hart van die Romeinse ryk versprei ongeveer teen 60 n.C.

Lukas fokus in Handelinge op die redding wat Jesus bring aan die wêreld, van Jerusalem af (hfst. 1) tot in Rome (hfst. 28). En ons leer hier dat die goeie nuus van God se redding vir beide Jode en heidene is. Soos ons ook gaan agterkom, is hierdie redding God se saak en niks kan dit keer nie, hoewel dit steeds, soos in die evangelie van Lukas, deur sommige met woede verwerp sal word.

‘n Mens kan Lukas se verhaal in Handelinge ook verdeel in 6 fases na aanleiding van sy opsommende opmerkings in Handelinge 6:7, 9:31, 12:24, 16:5 en 19:20 wat Jesus se belofte in Handelinge 1:8 dat die gelowiges sy getuies sal wees, bewaarheid. Elke keer is dit asof Lukas ‘n pouse daarmee skep voor die verhaal in ‘n nuwe rigting beweeg:

  1. Handelinge 1:1-6:7 – die goeie nuus oor Jesus versprei na ander Jode in Jerusalem.
  2. Handelinge 6:8-9:31 – die goeie nuus oor Jesus versprei geografies na Jode in Judea, Galilea en Samaria sowel as Afrika (Etiopiese amptenaar) met die Griekssprekende evangelis Filippus wat ‘n groot rol speel.
  3. Handelinge 9:32-12:24 – die eerste uitbreiding na gelowiges uit die heidene, die Italianer Kornelius, in Sesarea (Noord-Palestina) met Saulus wat ook tot bekering kom op die pad na Damaskus.
  4. Handelinge 12:25-16:5 – die goeie nuus versprei geografies na Asië met Paulus en Barnabas se eerste sendingreis in 47-48 nC en bring etiese vraagstukke, oor die besnydenis, na vore wat deur die Jerusalem “sinode” (hfst. 15) in ongeveer 49 nC besleg word.
  5. Handelinge 16:6-19:20 – die goeie nuus versprei geografies na Europa deur twee verdere sendingreise van Paulus (49-52 nC en 53-57 nC) wat tot gevolg het dat die kerk al hoe meer uit Christene uit heidense volkere bestaan.
  6. Handelinge 19:21-28:31 – op die derde sendingreis besluit Paulus om na Jerusalem te gaan en het die vervolging daar tot gevolg dat die evangelie ook politieke leiers begin bereik en versprei uiteindelik tot in Rome, die hoofstad van die Romeinse ryk (60 nC).

Teks en konteks

Die verspreiding van die goeie nuus oor Jesus begin uiteraard in die eerste fase in Jerusalem, die plek waar God Homself deur die eeue geopenbaar het. Let op hoe die fondasie van die kerk se werk verbind word aan:

  1. die lewe van Jesus, alles wat Hy gedoen en geleer het,
  2. die lyding, sterwe en opstanding van Jesus,
  3. die nuwe lewe van Jesus wat Hy met “baie onbetwisbare bewyse” aan hulle gedemonstreer het,
  4. die belofte en gawe van die Heilige Gees waarsonder hulle die werk nie kan aanpak nie,
  5. die beskrywing van die binnekring dissipels as apostels – dws gestuurdes, en
  6. die verkiesing van ’n 12de apostel om simbolies die verteenwoordiging van die 12 stamme van Israel weer voltallig te maak.

Let ook op dat hulle nou in huise begin bymekaarkom, die begin van die skuif van die teenwoordigheid van God nie net in die tempel nie, maar in elke huis waar Hy gedien word. Hoewel die eerste fase van hulle werk steeds gereeld by die tempel sal plaasvind, sal dit toenemend in huise wees regdeur die Romeinse ryk.

Dit is ook opmerklik dat vroue en mans saam bid, terwyl dit nie die gebruik in die Joodse sinagoges was nie. Soos Jesus gelowiges uit die heidene in die uitbreiding van die evangelie na die eindes van die aarde deel maak van sy kerk, só sluit Hy van die begin af mans en vroue as medewerkers in.

Die opdrag van Jesus aan die apostels om te wag (vir die gawe van die Heilige Gees), spreek my sterk aan. Natuurlik wag ons nie meer presies soos hulle op die uitstorting van die Heilige Gees nie. Ons het Hom as gelowiges immers ontvang en word daagliks deur Hom vervul. Maar dit beklemtoon ook die voortdurende ingesteldheid om nie op eie inisiatief en met eie insig die werk van die Here te probeer doen nie. Dit is juis wanneer ons stil genoeg raak en wag op die leiding van die Here dat ons begin raaksien waar Hy werk en sy stem hoor om daarby betrokke te raak.

Dit tref my ook besonderlik dat Jesus se broers hierdie keer by is en deelneem aan die eensgesinde gebed. Josef word nie genoem nie, wat waarskynlik beteken dat hy al dood is. Jakobus, die een broer van Jesus, sal in die loop van die verhaal ’n baie belangrike en ook leiersrol begin speel in die vroeë kerk.

Die verwysing na Judas is ietwat grusaam met die beskrywing van wat met hom gebeur het. Dit verskil ook van die prentjie wat Matteus skets (Matt. 27:5 – opgehang). Augustinus het gereken dat albei beskrywings waar was, naamlik, dat Judas homself opgehang het, en later op die grond geval en oopgebars het. Maar ons weet nie regtig wat presies daar gebeur het nie.

Jy is welkom om die twee Psalms, Psalm 69 en 109, wat in vers 20 aangehaal word, te gaan lees, veral vir die breër prentjie wat dit jou sal gee van die lyding van die Messias wat reeds lank tevore voorspel is. Hierdie aanhalings bevestig ook weereens dat wat ons in die voortgaande verhaal van Jesus sien, ook die Ou Testamentiese beloftes vervul. Dit bevestig die enorme betekenis van Jesus se voortgaande werk.

’n Mens kan ook sien dat die kerk van die begin af inval by God se reddingsplan wat die heidene gaan insluit, hoewel dit ’n rukkie vir die kerk sal duur voor die insluiting van gelowiges uit die heidene met oorgawe omhels word.

Boodskap en betekenis

Handelinge 1 lê die grondslag vir die verspreiding van die evangelie vanaf Jerusalem tot aan die uithoeke van die aarde. Lukas verbind die lewe, opstanding, en hemelvaart van Jesus met die werk van die kerk deur die Heilige Gees. Jesus beveel sy dissipels om in Jerusalem te wag op die uitstorting van die Gees, wat hulle met krag sal toerus om sy getuies te wees. Hierdie eerste fase van die evangelie se verspreiding vestig die kerk se fokus op Jesus se lewe en leer, sy verlossingswerk, en die dinamiese rol van die Gees.

Die vroeë kerk funksioneer met ‘n nuwe dinamiek: gelowiges bid saam in huise, nie net in die tempel nie; mans en vroue dien eensgesind; en Jesus se broers neem nou ook deel. Die keuse van ‘n twaalfde apostel weerspieël God se voortgesette verlossingsplan vir Israel én die nasies. Hierdie hoofstuk wys hoe die kerk aan God se beloftes en leiding onderdanig bly.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda