Skip to main content

Kolossense 1:1-14

Om God te ken en vir Hom te lewe

Vier van Paulus se briewe dateer uit die tyd van sy gevangenskap in Rome in die vroeë sestigerjare nC. en word dus nou hier behandel: Kolossense, Filemon, Efesiërs en Filippense. Ons weet egter nie presies in watter volgorde dit geskryf is nie.

Paulus word weer saam met Timoteus as die skrywers van die brief aan die Kolossense aangekondig, soos vroeër ook die geval was met die brief aan 1 Tessalonisense en 2 Korintiërs. Timoteus word ook as skrywer in twee van die ander gevangenisskap briewe aangedui: Filippense, en Filemon. Paulus is amper sestig jaar oud.

Die gemeente van Kolosse is waarskynlik nie deur Paulus gestig nie (Kol. 2:1), hoewel hy op sy derde sendingreis na Efese deur die landstreek van Frigië, waar Kolosse geleë was, gereis het (Hand 16:6). Omdat hy in die brief praat van mense wat hom nog nie ontmoet het nie, is dit egter onseker of hy hulle ooit besoek het (Kol. 2:1).

Uit die brief blyk dit egter dat die Kolossense duidelik sterk onder sy invloed was. Dit is waarskynlik weens die invloed van Epafras, sy medewerker en self afkomstig van Kolosse. Dit is ook baie moontlik dat Epafras die stigter van die gemeente was (Kol. 1:7; 4:12).

Die stad was geleë naby Efese in Klein-Asië (160 km na die ooste), in die suid-weste van hedendaagse Turkye. Hulle was ook nou verbind aan die naburige gemeentes in Laodisea en Hiërapolis wat waarskynlik ook deur Epafras gestig is (Kol. 4:13,15).

Die brief aan die Kolossense is uit die gevangenis in Rome geskryf (vgl. Paulus se boeie in Kol. 4:3, 10, 18). Dit was waarskynlik in die jaar 60 n.C., want ‘n aardbewing het die stad getref in 61 n.C. waarna die stad nie weer opgebou is nie. Dieselfde lot het ook Laodisea en Hiërapolis getref, maar hulle is weer herbou. Jesus skryf later juis ‘n brief aan Laodisea deur bemiddeling van Johannes (Openb. 3).

Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief aan die Kolossense skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk. Hierdie idees en gebruike was ’n interessante vermenging van Joodse, mistiese en ander godsdienstige en filosofiese idees en praktyke.

In Christus is hulle immers dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld, sê Paulus (Kol. 2:20). En hierdie selfgemaakte leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie (Kol. 2:23). Selfs die besnydenis is nie meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (Kol. 3:10).

Daarom maak Paulus beswaar teen enige vermenging van die geloof in Christus met selfgemaakte leerstellings of leerstellings wat van ‘n ander bron af kom, veral wanneer dit nog met jou saligheid verbind word.

Paulus help dus die gemeente en sy leiers om vir dié idees en praktyke te kan nee sê, voor dit te veel aanhangers in die gemeente sou hê. Die brief is dus eintlik een van die vroegste Christelike Apologieë, wat die Christelike godsdiens teenoor leë filosofiese teorieë en vreemde leerstellings en gebruike verdedig.

Paulus wil daarteenoor sterk beklemtoon dat dit in die Christelike geloof net om Christus gaan, iets wat hy ook sterk sal beklemtoon in sy brief aan Filippi (Fil. 3:1 vv.). Dit is waarom hy in die eerste hoofstuk van die brief aan die Kolossense soveel klem lê op die voorrang van die Seun, nie net in betrekking tot die hemel nie, maar ook met betrekking tot die aarde (Kol. 1:15-20).

Die enigste manier om te leef, is om vanuit ‘n verhouding met Christus te leef en Hom toe te laat om alle verhoudinge waarbinne jy leef, te beïnvloed (Kol. 3 vv.). Dit het ‘n invloed op jou eie menswees (Kol. 3:5-17), op jou verhoudings in die huwelik- en gesinslewe, op jou verhoudings in die werksplek (Kol. 3:18-4:1), sowel as op jou verhouding met mense wat nog buite die geloof staan (Kol. 4:5).

Dit is ook interessant dat die brief van Kolossense sterk inhoudelike ooreenkomste het met die brief van Efesiërs. Beide gemeentes se geloof en liefde word vermeld (Kol. 1:4,8 – Ef. 1:15); Paulus bid vir hulle vir nog dieper geestelike insig (Kol. 1:9-10 – Ef. 1:17 – vgl. ook Fil. 1:9-10); Jesus word as Hoof van die kerk beskryf (Kol. 1:18,24 – Ef. 1:22-23) sowel as oor die magte (Kol. 1:16-17 – Ef. 1:21); hulle word tot ‘n heilige lewe opgeroep (Kol. 3:1-17 – Ef. 4:17-5:13). Dit wil voorkom asof Efesiërs verder uitbrei op temas wat in Kolossense aangeraak is, wat baie geleerdes Kolossense voor Efesiërs laat plaas (Lincoln), ‘n gedagte wat ek ondersteun.

Teks en konteks

Geloof, liefde en hoop – Kolossense 1:1-8

Paulus begin, na hy die Kolossense gegroet het, God te dank vir die gemeente se geloof, liefde en hoop waarin hulle volhard na Epafras aan hulle die evangelie verkondig het. Dit is dinge wat hy gereeld voor die Here bring as hy voorbidding vir hulle doen.

Let op na die wyse waarop Paulus oor die drie groot sake van die Christelike lewe skryf: geloof, hoop en liefde (1 Kor. 13:13; 1 Tes. 1:3; vgl. ook 1 Pet. 1:3-9). Hy beskryf hier geloof en liefde as dinge wat op die hoop gebou is. En dié hoop word bewaar (weggelê 1933-vertaling; wag 2020-vertaling) vir ons in die hemel, d.w.s. in God se werklikheid.

Dit is ‘n bietjie anders verwoord as in Paulus se briewe aan Korinte en Tessalonika. Hoop is hier iets waarvoor God instaan. Dit is nie iets wat deur omstandighede weggeneem kan word nie.

Die evangelie het dus regtig onder hulle begin vrug dra en groei, soos dit trouens oral in die wêreld gebeur waar mense van God se genade hoor en dit verstaan.

Paulus gee daarmee ook krediet aan die werk van Epafras onder hulle, een van die manne wat hy in Efese opgelei het. Dit is ook uit sy terugvoer aan Paulus wat hy kon hoor van die liefde wat die Gees in hulle bewerk het.

Sewe gebede – Kolossense 1:9-14

Hy bid dat hulle verder sal groei in hulle geloof en spoor hulle aan om self ook nie op te hou om die Here te dank nie, omdat hulle geskik gemaak is vir sy koninkryk (vers 9-14 is in Grieks een sin!).

Let op na die dinge wat Paulus vir hulle bid. Hy wil hê dat sewe goed van hulle waar sal wees, sewe goed wat ons gerus ook vir mekaar kan bid:

  1. dat hulle vervul mag word met die volle kennis van God die Vader se wil;
  2. deur al die wysheid en insig wat die Heilige Gees gee;
  3. om ‘n lewe te lei wat die Here Jesus waardig is;
  4. sodat hulle die Here Jesus in alles tevrede kan stel (let op die Drie-Enige perspektief);
  5. terwyl hulle vrug dra deur elke goeie werk (Efesiërs 2 sal byvoeg dat God hulle daarvoor voorberei het);
  6. om só te groei in die kennis van God (gehoorsaamheid verdiep ons kennis van God);
  7. en al die krag te ontvang van sy teenwoordigheid (die mag van sy heerlikheid) wat nodig is om geduldig in alles te volhard.

Hierdie dinge moet hulle met blydskap vervul, sodat hulle die Vader voortdurend kan dank, omdat Hy hulle geskik gemaak het om deel te hê aan die koninkryk van die lig. Dit is die erfdeel van die heiliges.

God het hulle immers uit die mag van die duisternis gered. Hulle is nou deel van hierdie koninkryk, die koninkryk van God se geliefde Seun. Hy het ons almal vergewe en bevry van ons sondes.

Boodskap en betekenis

Geloof word hier uitgespel as iets wat in Christus Jesus gewortel is. Liefde word uitgespel as iets wat ons verhouding met al die gelowiges definieer. Hoop word uitgespel as iets wat God voor instaan en in bewaring hou en die geloof en liefde laat gedy.

Wat my laat dink dat Paulus hier na geloof verwys as iets wat gewortel is in die historiese werklikheid van Christus Jesus se eerste koms – die verlede. Dat die liefde weer met die teenswoordige wêreld te make het waar ons mekaar moet vashou in liefde – die hede. Die hoop het weer met die toekomstige wêreld te make het, wat ons die moed gee om hier aan God en mekaar vas te hou – die toekoms.

In kort: Paulus roep ons almal op om in ons kennis van God te groei en in alles vir Hom te lewe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda