Skip to main content

Jesaja 62

God se beloftes word in vervulling gebid

Ons kom die laaste vyf hoofstukke van Jesaja, Jesaja 62-66.

Dit bly een van die wonderlikste eienskappe van God, dat Hy iets so nuut kan maak, dat dit is asof daar nooit iets verkeerds was in die eerste plek nie. En die rede daarvoor lê opgesluit in sy liefde vir mense, meer spesifiek in hierdie gedeelte, vir die mense van Jerusalem en Sion.

Jesaja 62 volg die wonderlike boodskap van die oorwinning van die Dienskneg van die Here in Jesaja 61 op en lewer ‘n sterk appèl aan die volk om die belofte van oorwinning vir hulleself toe te eien en hulle lewens daarvolgens in te rig:

  • Jesaja 62:1-5 – Jesaja (God?) jubel oor die redding van Jerusalem en maak dit aan almal bekend.
  • Jesaja 62:6-9 – Hy roep die wagters op die mure op om saam te werk en die Here aan sy beloftes te herinner in hulle voorbidding.
  • Jesaja 62:10-12 – Hy roep die mense in die stad op om dié boodskap aan die hele wêreld bekend te maak en gereed te maak om die terugkerendes te ontvang.

Jesaja 62:1-5

Baie geleerdes het voorgestel dat die spreker God sou wees, onder andere omdat die profeet in elk geval ‘n spreekbuis van God is. In die lig van die dinge wat dié spreker vra, veral ten opsigte van die gebedsversoek in die tweede perikoop, dink ek tog dat dit beter in die konteks inpas as die spreker Jesaja sou wees.

Let op hoe die jubeling oor die redding van Jerusalem aan almal bekend gemaak word, voordat dit inderdaad ‘n werklikheid word. Dit is in die uitspreek van die toekoms, wat die toekoms ‘n werklikheid raak.

“Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, ter wille van Jerusalem nie rus nie, totdat haar geregtigheid deurbreek soos ‘n helder lig, haar verlossing brand soos ‘n fakkel.”

Dit is hoe God in die eerste plek geskep het. Hierdie profesie het dieselfde mag, omdat dit op God se beloftes geskoei is.

God se liefde vir sy mense is die rede vir sy redding. Hy maak alles nuut, sy verhouding met hulle inkluis. En weereens is die boodskap ook bedoel vir die nasies.

“Mense sal nie meer vir jou sê ‘Verlatene’ nie, en vir jou land nie meer sê ‘Woesteny’ nie; maar jy sal genoem word ‘My Vreugde is in Haar’, en jou land ‘Getroude’”.

Met die vreugde van ‘n bruidegom oor sy bruid, sal jou God Hom oor hulle verheug.

Jesaja 62:6-9

Soos ‘n mens kan jubel oor die oorwinning wat kom, en daarmee letterlik die toekoms in aanskyn roep, só moet ‘n mens ook bid dat dit inderdaad sal kom.

Daarom word die wagters op die mure op geroep om saam te werk en die Here aan sy beloftes te herinner in hulle voorbidding.

Trouens: “Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, gun julleself geen rus nie! Gun Hom ook geen rus nie, totdat Hy haar gevestig het, totdat Hy Jerusalem ‘n loflied op aarde gemaak het!”

Jesaja 62:10-12

Hy roep die mense in die stad op om dié boodskap aan die hele wêreld bekend te maak en gereed te maak om die terugkerendes te ontvang. Hulle word dus tot geloof en vertroue op geroep, wat hulle moet illustreer in die werklikheid van hulle voorbereiding. Let op dat God saam met sy mense die stad tegemoet loop.

“Hulle sal genoem word Heilige Volk, Losgekooptes van die Here. En jy, Jerusalem, sal genoem word Gesogte, Stad wat nie Verlate is nie.”

Boodskap en betekenis

Die beklemtoning van gebed wys onteenseglik op die belangrike rol wat gebed speel in die verandering wat God belowe. Laat my dink aan Jakobus 4 wat sê dat ons nie het nie, omdat ons nie bid nie! En Lukas 11:5–10 en 18:1-8 wat beklemtoon dat ons met volharding moet bid.

Trouens, watter ongelooflike oproep om na te volg: “Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, gun julleself geen rus nie! Gun Hom ook geen rus nie, totdat Hy haar gevestig het, totdat Hy Jerusalem ‘n loflied op aarde gemaak het!”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar