Skip to main content

Psalm 136

Want vir ewig duur sy troue liefde

Psalm 136 was waarskynlik bedoel as wisselsang tussen ‘n liturg of tempelkoor en die geloofsgemeenskap in die tempel. Die liturg of koor het die eerste reël van elke vers gesing en die gemeente het geantwoord, telkens met dieselfde frase: “want vir ewig duur sy troue liefde” (BDV) of soos in die NAV: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Dieselfde tipe teologie as in Psalm 135 word ook hier verkondig: God is goed; God is groot in die skepping en in die geskiedenis; God sorg vir sy volk in die gawe van die land sowel as vir almal met sy voorsiening van kos: “wat kos gee aan alles wat leef”. Daarom word dit dan ook hier hanteer.

Teks en konteks

Wat die Psalm laat uitstaan is die absolute fokus op die hêsêd van die Here wat 26 keer herhaal word – sy troue liefde. Só word by die geloofsgemeenskap die hart van die Godsbegrip ingeskerp, dat God liefde is, nie net ‘n liefde wat ‘n reaksie is op hulle gehoorsaamheid nie, maar ‘n liefde wat ten spyte van omstandighede voortgaan en hou.

Die volk sou hieruit ook kon aflei, al is was dit nog asof deur ‘n spieël in ‘n raaisel, dat God se troue liefde nie net iets is wat vir ewig duur in terme van hulle tydsbegrip nie. Sy troue liefde deurstaan ook die toets van die tyd. Dit verander nie. Dit bly altyd dieselfde. Dit bly waar regdeur die geslagte, en regdeur die geskiedenis. ‘n Mens kan altyd op God se liefde staatmaak. God is immers liefde, soos die NT in Jesus Christus later so helder sou bely (1 Joh. 4:8).

‘n Mens kan die Psalm in drie dele opdeel (God is goed – vers 1-3; God is groot – vers 4-20; God sorg vir sy volk – vers 21-25, met die laaste opsommende lofprysing in vers 26), net soos dit in Ps. 135 die geval is, maar ek wil eerder ‘n paar opeenvolgende opmerkings maak om die inhoud van die onderskeie belydenisse wat die liturg te verhelder:

  • God is bo enige god of heer.
  • God is die enigste wat groot wonders doen soos in die skepping met sy groot vernuf gedemonstreer. Dit is duidelik dat die Psalmis uit Genesis 1 aanhaal.
  • Dieselfde klem as in Psalm 135 word geplaas op die plae van Egipte (die dood van die eersgeborenes), ‘n bykomende klem op die tog deur die Rietsee, en die ooreenstemmende begeleiding deur die woestyn wat die oorwinning oor Sihon en Og ingesluit het.
  • Die vertaling Rietsee is ‘n meer akkurate weergawe van die Hebreeuse woord, soos dit reeds in Eks. 13:18 gebruik is. Die frase: “in twee gesny” kan ook vertaal word as: “in stukke gesny”.
  • Vernedering” in vers 23 kan ook vertaal word met “verslaentheid”. Die Hebreeus beteken letterlik: “lae toestand”.

Midde in dié belydenisse kom telkens die bevestigende refrein van die geloofsgemeenskap: “want vir ewig duur sy troue liefde” (BDV) of soos in die NAV: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” ‘n Mens kan dus nie anders as om Paulus se fokus op God se liefde in herinnering te roep nie, soos hy so roerend helder in sy brief aan die huisgemeentes van Rome skryf:

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” u

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom. 8:35-39).

Boodskap en betekenis

Die Hebreeuse woord ḥesed word op baie maniere vertaal, omdat dit só ‘n omvattende beskrywing van God se liefde is. Hier is ‘n paar voorbeelde: goedertierenheid, getrouheid (faithfulness), troue liefde (steadfast love).

ḥesed is baie spesifiek God se verbondsliefde. Dit bevestig dat God getrou bly aan dié met wie Hy in verhouding is, met wie Hy ‘n verbond gesluit het. God bly lojaal aan sy uitverkorenes.

Hierdie liefde is ook vir altyd, vir ewig. Sy liefde hou nooit op nie. Soos Peterson dit vertaal: “His love never quits.” (The Message)

Loof vandag die Here met dié inhoud in gedagte as jy die frase oor en oor in jou gedagtes herhaal: “want vir ewig duur sy troue liefde” (BDV) of soos in die NAV: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.

u Vgl. Ps. 44:23

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…