Skip to main content

2 Konings 14:1-22; 2 Kronieke 25

Amasia doen reg, maar nie met sy hele hart nie

Oorsig oor die konings en profete van die 8ste eeu vC

In 2 Konings 14-20 word die verhale van die laaste sewe konings in Israel tot en met hulle ballingskap en vyf konings van Juda tydens die 8ste eeu vertel (in die 7de eeu sal daar nog sewe konings in Juda wees tot en met die ballingskap waarvan 2 Konings 21-25 en 2 Kronieke 33-36 ons sal vertel):

Israel

  • Jerobeam II (41 jaar – 786-746 vC)
  • Sagaria (6 maande – 746 vC)
  • Sallum (1 maand – 746 vC)
  • Menahem (10 jaar – 746-736)
  • Pekahia (2 jaar – 736-735 vC)
  • Peka (20 jaar – hy moes saam met van die vorige konings regeer het om die kronologie te laat inpas – tot min of meer 731 vC)
  • Hosea (9 jaar – 731-722 vC)

Juda

  • Amasia (29 jaar – 796-767 vC)
  • Ussia (52 jaar – 792-742 vC)
  • Jotam (16 jaar – 742-735 vC)
  • Agas (16 jaar – 735-715 vC)
  • Hiskia (29 jaar – 715-686 vC)

In 2 Kronieke 25-32 word net laasgenoemde verhale van die vyf konings in Juda vertel: Amasia, Ussia (Asarja), Jotam, Agas en Hiskia.

Ek gaan die verhale uit Konings en Kronieke kombineer soos ek tot dusver gedoen het. Vandag se stuk oor Amasia is daarom langer, en die volgende een oor Jerobeam II korter, weens die relatiewe voorrang van die konings van Juda vir die skrywers.

Dit is ook die tydperk waarin vyf belangrike Skrifprofete optree:

  • Jona (786-746 vC)
  • Amos (762-746 vC)
  • Hosea (758-722 vC)
  • Jesaja (742-681 vC)
  • Miga (742-686 vC)

Daar was natuurlik ook ander profete (Sagaria – 2 Kron 26:5; Oded – 2 Kron 28:9), waarvan sommige anoniem genoem word (bv 2 Kron 25:15), wat in dié tyd opgetree het.

Slegs Jesaja en Jona word egter eksplisiet in Kronieke en Konings genoem. Jesaja het veral ’n groot rol gespeel het in die lewe van Hiskia en onder andere saam met hom en vir hom gebid – 2 Kronieke 32:20. Die ander vier profete is net bekend uit hulle boeke, maar hulle het telkens hulle werk gekoppel aan die konings van Israel en Juda.

In terme van hulle kronologie het die vyf profete soos volg opgetree:

  • Die Skrifprofeet Jona (786-746 vC) word vermeld in 2 Konings 14 en in die Bybelboek Jona, en het opgetree in Israel in die tyd van Jerobeam II, die eerste koning van Israel in die 8ste eeu.
  • Die Skrifprofeet Amos die skaapboer van Tekoa (762-746 vC), het net hierna opgetree in Juda in die tyd van Jerobeam II en later in die tyd van Ussia (Amos 1:1).
  • Die Skrifprofeet Hosea (758-722 vC) tree in dieselfde tyd as Jesaja op van die tyd van Ussia tot en met dié van Hiskia van Juda sowel as in die tyd van Jerobeam II van Israel (Hos 1:1).
  • Die Skrifprofeet Jesaja (wie se pa ook Amos genoem is) het oor ’n besonder lang tyd opgetree (742-681 vC) in die tyd van vier van die konings van Juda: Ussia, Jotam, Agas en Hiskia. Sy beroemde visie op God in Jesaja 6 is juis in die sterfjaar van die melaatse Ussia ontvang.
  • Die Skrifprofeet Miga (742-686 vC) het opgetree in die tyd van Jotam, Agas en Hiskia in Juda (vgl Jer 26:18; Miga 1:1), maar moet onderskei word van die vroeëre profeet wat in Agab se tyd opgetree het (1 Kon 22; 2 Kron 18).

Eers fokus ek op die verhaal van koning Amasia van Juda (2 Kon 14:1-22; 2 Kron 25). Daarna op Jerobeam II van Israel (2 Kon 14:23-29). Omdat die profeet Jona in die tweede deel van 2 Konings 14 genoem word met ‘n boodskap vir Jerobeam II, hanteer ek sy boek daarna.

Teks en konteks

2 Kronieke 25 gee die oordeel oor koning Amasia: “Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie met sy hele hart nie.” Telkens was daar aspekte van sy regering wat ’n mens laat frons en wonder hoe hy dinge só verkeerd kon kry.

Aan die eenkant begin sy regering met positiewe beskrywings, bv die verwysing na sy ma, Jehoaddan, ’n vrou van Jerusalem, waarmee bevestig word dat die gevaar van die Agabshuis afgeweer is. Hy bedwing homself in sy wraak op sy pa se moordenaars deur hulle kinders te spaar, in gehoorsaamheid aan die wet van Moses (Deut. 24:16) soos Jeremia (Jer. 31:29-31) en Esegiël (Eseg. 18:1,19-24) dit ook later sou eggo.

Aan die ander kant oorheers die negatiewe en veral in drie gebeure.

  • Hy soek toenadering tot die noordelike ryk deur soldate van hulle te huur wat die gevaar van die Agabshuis weer onmiddellik in spel gebring het.
  • Hy kies om op heel irrasionele wyse die onnosel ding te doen om die gode van die Edomiete te begin aanbid na sy oorwinning en strooptog teen hulle. Die Here gee hom oorwinning en hy aanbid die gode van dié oorwonne vyand. Hoe tragies!
  • En hy werp hom in ’n onlogiese en onvolwasse oorlog teen die noordryk (hy het net tevore hulle soldate gehuur!) waarin hy liederlik die onderspit delf en in oneer teruggebring word na Jerusalem deur sy teenstander Joas van Israel.

Dat die Here ’n man van God in sy eerste oorlog na Amasia stuur om hom te oorreed om nie te veg nie, of ten minste nie met die soldate van Israel saam te span nie, getuig van God se groot en eintlik onnaspeurbare genade.

Dieselfde gebeur in die tweede oorlog met die profeet wat hom kom aanspreek, maar wat Amasia tot sy skande stilmaak. Die Here gebruik uiteindelik selfs die koning van Israel, Joas, om Amasia van sy oorlogsugtigheid te probeer afsien.

Let op die pragtige metafore waarmee Joas Amasia probeer keer om tot oorlog oor te gaan: “Die sydissel wat op die Libanon is, het vir die seder wat op die Libanon is, laat weet, ‘Gee jou dogter aan my seun as vrou.’ Die wilde diere wat op die Libanon is, het egter verbygegaan en die sydissel vertrap.”

Hy lê dit uit vir Amasia dat hy inderdaad die Edomiete ‘n nederlaag toegedien het, maar dat sy hart hom nou verlei om nog meer eer vir homself te probeer inoes: “Geniet die eer en bly tuis! Waarom wil jy jouself in die ongeluk dompel en tot ‘n val kom, jy en Juda saam met jou?”

Hoewel Joas uiteindelik Amasia se lewe spaar, is dit ten koste van ’n deel van die muur rondom Jerusalem en ’n groot klomp goud en silwer uit die huis van die Here. Ook ’n paar gyselaars is na Samaria geneem, waarskynlik om te verseker dat hulle aan hom belasting betaal.

Maar Amasia volg sy eie harde onbuigsame kop en kom sterk tweede. Hy luister net nie en delf daarom telkens die onderspit. Dieselfde lot wat sy pa, Jehoas, getref het, ’n sameswering, tref egter vir Amasia ook, heel waarskynlik vanweë die dwase oorloë wat hy onderneem. Sy vlug help niks nie, en hy sterf in Lakis. Sy seun Asarja (Ussia) word koning.

Boodskap en betekenis

Daar is verskillende wyses waarop bloedskuld in die OT hanteer is.

Soms is met korporatiewe of familie-skuld gewerk soos ons lees in Josua toe hy en die volk Akan en sy familie uitgewis het na Akan se sonde (Jos 7:24). Akan se sonde het natuurlik die hele volk in gevaar gestel wat waarskynlik dié drastiese keuse tot gevolg gehad het, begrond in die Tien Gebooie (Deut 5:9; Eks 20:5), hoewel dit darem ook daar gekontrasteer word met die omvangrykheid van God se korporatiewe genade wat nog met oorvloedig deur die geslagte en families werk. God se genade is immers groter as sy oordeel.

Daar is egter reeds in die OT al hoe meer gewerk met individuele skuld soos ook in die wet van Moses (Deut. 24:16) beklemtoon is, en deur profete soos Jeremia (Jer. 31:29-31) en Esegiël (Eseg. 18:1,19-24) later geëggo is. Amasia het hom aan dié tradisie van individuele skuld gesteur (2 Kron 25:4), moontlik omdat hy gevoel het dat deur wraak te neem op die kinders van die moordenaars, hy eiegeregtig sou optree. Wraak moet in die hand van die Here gelaat word.

Dit is hierdie tradisie van genade wat uiteindelik die voorrang sou geniet en in die NT die botoon sou voer met die vergifnis wat in die Naam van die Here Jesus Christus verkondig sou word. Wraak en vergelding behoort aan die Here.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…