Skip to main content

Josua 11:1-15

Josua vee die grootste deel van Kanaän plat

Teks en konteks

Die veldtog teen die noordelike koalisie van konings is bykans ‘n spieëlbeeld van die suidelike koalisie veldtog. Koning Jabin van Hasor, die belangrikste leier in Kanaän, het gehoor van die oorwinnings wat Josua in die middel en suide van Kanaän oor die konings en hulle stede behaal het. Hasor was ‘n prominente vestingstad sestien kilometer noord van die See van Galilea en het aan ’n belangrike handel- en verbindingsroete gelê.

Jabin het vanuit sy leiersposisie ‘n koalisie gesluit met ‘n aantal konings in die noorde: koning Jobab van Madon, die onbekende konings van Simron en Aksaf, en die konings in die noordelike Bergland.

Dit lei egter tot ‘n vereniging met konings uit ander dele van die land vir ‘n volskaalse aanval teen Israel. Trouens, al die nasies – waarvan die Here vroeër al genoem het dat Hy hulle land vir Israel gee – trek teen Israel op.

Al die konings in die Jordaanvallei suid van Gennesaret, die konings in die Laeveld en die konings op die bergrug van Dor in die weste sluit daarom by Jabin-hulle aan, sowel as die konings van die Kanaäniete in die ooste en die weste, die konings van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die Bergland en die Hewiete onderkant Hermon in die Mispegebied.

Hulle het almal gekom met hulle leërs: “’n groot menigte, so baie soos die sand van die see.” Hierdie Kanaäniete was goed voorberei vir die oorlog met hulle baie perde en strydwaens. Hulle hele leërmag is ontplooi by die Meromwaters, waarskynlik die Hule meer in die noorde van Israel, ‘n groot varswater meer.

As ‘n mens dié groot leërskare met gewone oë aanskou, lyk dit na ‘n oormag van enorme proporsies. Maar in die oë van die Here is selfs die grootste mag op aarde van geen belang nie. Hy is soewerein en die Almagtige. Daarom sê Hy vir Josua: “Moenie vir hulle bang wees nie. Môre dié tyd gee Ek hulle oor aan Israel, dan sneuwel hulle almal.

Die oorwinning oor selfs die grootste oormag lê in die Here se besluit. As Hy hulle oorgee aan sy volk, maak die relatiewe grootte van die onderskeie leërmagte glad nie saak nie. Hy doen dit selfs net soos die vorige keer op een dag, sonder dat dit nodig is vir ‘n son- en maanstilstand!

Die Here gee ook die opdrag dat hulle die perde se hakskeensenings afsny en die strydwaens verbrand. Aan die een kant was dit om die stryd op dieselfde vlak – te voet – te kan voer. Aan die ander kant was dit ook om duidelik te kommunikeer dat die oorwinning by die Here en sy besluit lê, nie by die instrumente wat die konings tot hulle beskikking gehad het nie.

Israel moes nooit op hulle eie mag staatmaak nie, maar op die Here, een van die groot oordele wat uiteindelik oor Salomo se lewe gevel word.

Weereens maak die spoed van ‘n Josua ‘n verskil in die oorlog, want hulle het met al die weerbare manskappe van Israel die vyand skielik oorval by die Meromwaters. Maar dit bly die Here wat die deurslag gee. Daarom kon hulle die hele leërmag van hierdie Kanaänitiese koalisie verslaan, want Hy het hulle in die mag van Israel oorgegee.

Josua het geweet dat hulle nie tevrede kon wees net met die aanvanklike oorwinning nie, maar het daarom die vyand agtervolg tot by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en die Mispelaagte in die ooste – al langs die grense van Galilea – en hulle heeltemal uitgeroei. Nie een het vrygekom nie.

Boodskap en betekenis

Daarna het Josua nog twee deurslaggewende veldtogte geloods. Hy het eerstens die bron van die oorlog teen hulle, die een wat hierdie koalisie gevorm het – koning Jabin van Hasor – met die aarde platgevee deur die stad in te neem en sy koning dood te maak saam met sy mense. Die stad is afgebrand.

Die stad Hasor is wel later herbou en het weer vir ‘n tyd ‘n prominente rol gespeel in Kanaän. Ons lees in Rigters 4 dat die mense van Hasor Israel vir 20 jaar verdruk het totdat Debora en Barak deur die Here geroep is om Israel te verlos. Die vrou Jael het in dié oorlog die aanvoerder van die leër, Sisera, van die koning van Hasor vermoor met ‘n tentpen deur die kop, ‘n stukkie ironie. Hierdie koning het ook die naam Jabin gehad wat ons laat vermoed dat Jabin eerder ‘n titel van die koning van Hasor was as wat dit ‘n eienaam was.

Josua het tweedens ook al die stede van die ander konings ingeneem en hulle uitgeroei. Die skrywer verbind dit aan sy gehoorsaamheid aan Moses, die dienaar van die Here, se opdragte. Niks wat die Here vir Moses beveel het, sê die skrywer, is nagelaat nie.

Maar in Josua 13 sal ons lees dat daar groot dele van die land oorgebly het wat nog ingeneem moes word. Die eerste “platvee”-veldtogte was geslaagd, maar die tweede “skoonmaak”-veldtogte sou ‘n hele paar geslagte van Israel besig hou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda