Skip to main content

Miga 6:1-7:20

Die Here bring redding vir dié wat Hom vertrou

Miga sluit sy boek af met twee hoofstukke waarin die regsaak wat die Here teen die volk aanhangig maak, aangekondig word sowel as die strawwe wat met hulle skuldigbevinding gepaard gaan.

Teks en konteks

Die strawwe lei aan die een kant tot groot ellende in mense se onderlinge verhoudinge met mekaar waaroor Miga ‘n roerende klaaglied aanhef: “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword.

Aan die ander kant gryp Miga tog – juis ín die nood van die ramp wat hulle gaan tref – aan die genade van God vas en stel sy vertroue en verwagting daarop dat die Here weer sal vergewe en vernuwe. Hy herinner God aan sy Wese: “Wie is ‘n God soos U? … U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde.” En verkondig hierdie Godsbeeld dan as hoop aan die volk: “Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak,” in sy getrouheid aan Jakob en sy liefde aan Abraham volgens sy eed aan die aartsvaders.

Miga 6:1-8 – Die Here sit sy regsaak voort weens hulle gebrek aan reg doen, troue liefde en toewyding

Die eerste vyf verse is God se aanklag teen die volk waarin Hy verskillende dele van die aarde as getuies oproep teen die volk. “Die Here het ‘n saak teen die volk.” Die Here spreek die volk ernstig aan dat hulle sy verlossing uit Egipte onder die bekwame leiding van die twee broers en een suster, Moses, Aäron en Mirjam, sowel as sy beskerming in die woestyn van die planne van Balak en Bileam (as voorbeeld) nie na waarde geskat het. Die verwysing na Sittim en Gilgal herinner hulle waarskynlik aan die tyd van die Intog sowel as die begeleiding regdeur die tyd van die Rigters. Sittim is immers die plek waar Josua die land Kanaän binnegegaan het, en Gilgal is onder andere waar die volk die eerste keer na ‘n koning gevra het.

Vers 6-8 is ‘n liturgiese gesprek tussen die volk en God wat waarskynlik in dié vorm in die tempel gebruik is, maar hier as ‘n verswarende getuienis in die regsaak van God met die volk gebruik word. Waar hierdie liturgie in die tempel die volk kon leer wat die regte manier is om met God om te gaan, word dit hier waarskynlik as getuienis téén die volk gebruik. Hulle het die onderrig van die Here deur die jare in die wind geslaan, want wat anders het die Here van hulle gevra as dat hulle reg doen, troue liefde bewys en toegewyd aan die Here lewe. Dit het hulle egter konsekwent nie gedoen nie.

Die Here stel nie belang in offers nie, van watter aard ook al – radikaal (brandoffers), uitnemend (jaaroud kalwers), oorvloedig (duisende ramme, tienduisende offers van olie) of kosbaar (eersgeborene). Hy word nie daardeur beweeg nie, eerder deur hoe mense teenoor mekaar en teenoor Hom optree.

Die Here se idee van wat goed is, het alles met verhoudings te make: “Hy vra van jou dat reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.” Peterson vertaal: “It’s quite simple: Do what is fair and just to your neighbor, be compassionate and loyal in your love, And don’t take yourself too seriously—take God seriously.” (The Message).

Inderdaad. Neem jou naaste en jou God ernstig, ‘n ander manier om die liefde vir die naaste en vir God te beskryf, dan doen jy wat goed is. Nog anders gestel: leef voluit in die verhoudings waarbinne God jou geplaas het, en jy sal sy seën ervaar. Wat kan nou daarmee kompeteer!

Miga 6:9-16 – Die Here se skuldigbevinding tref die volk met swaar strawwe

Die NAV se vertaling van vers 9 is in omgekeerde volgorde van die sinne in Hebreeus. Dit moet eerder lui, ook meer direk vertaal: “Die stem van die Here roep tot die stad: wysheid is om ontsag vir u Naam te hê …” Daarmee begin Miga die skuldigbevinding van die volk en spel die swaar strawwe uit wat hulle gaan tref.

Die Here lys dan die dinge wat sy eis van reg doen, troue liefde en toewyding aan Hom oortree: valsheid, bedrog, geweld, en leuens. Dié sondes verdien die straf wat in die verbond voorgeskryf word (Deut. 28-30) en word hier in terme van onversadig te wees (honger), verydeling (swangerskap wat op niks uitloop nie), en mislukking (geen oes, olie, of wyn as vrugte vir hulle arbeid nie) uitgespel.

Omdat die volk gekies het om die Here te versaak – soos koning Omri (wat deur ‘n staatsgreep aan bewind gekom het) en sy seun Agab (onthou die gruwelike verhaal van Nabot se wingerd en Isebel se verraderlike planne) gedoen het deur Baäl te aanbid – gaan die Here hulle verwoes.

Miga 7:1-6 – Miga kla oor die ellende wat alle verhoudinge versuur

Die strawwe van die Here lei tot groot ellende in mense se onderlinge verhoudinge met mekaar. Miga hef daaroor ‘n roerende klaaglied aan: “Ellende wag vir my, ek het geword soos ‘n land wat afgeoes is, soos die natrossies in die wingerd.” Die gemeenskap val in mekaar en draai teen mekaar. Daar is nie meer Godvresendes nie. Daar is nie meer opregtes nie. Mense stel strikke vir mekaar en maak mekaar dood. Onreg gedy in die staat en regswese: “Die beste onder hulle is soos ‘n gifplant.” Mensig!

Niemand kan mekaar meer vertrou nie: “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword.

Jesus borduur hierop voort deur Miga 7:6 in Matteus 10:34-39 (vgl Luk 12:53) aan te haal om te verklaar dat sy eie bediening ook hierdie tipe onvrede bring. “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’”

Want: “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie. “Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Ons sal goed doen om hierdie boodskap van Miga uit die OT en Jesus uit die NT te verreken in ons teologie van verhoudings met God en mekaar. Daar is genade moontlik, soos die volgende gedeelte gaan uitspel, maar dit gebeur in ‘n konteks van goddeloosheid.

Miga 7:7-20 – Miga stel sy vertroue en verwagting op God se genade wat weer sal vergewe en vernuwe

Aan die ander kant gryp Miga tog – juis ín die nood van die ramp wat hulle gaan tref – die genade van God vas: “Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” Miga doen dus presies wat van hom as profeet verwag word – hy lewer sy boodskap af as woordvoerder van die Here, maar hy tree ook in vir die volk se bekering en staan in die geloof op die sekerheid van God se antwoord. Woordvoerder en Intersessor tot die end.

Daarom kan hy hom verweer teen mense wat hulle verlekker oor die val van die Godsvolk. Die pad na die vernuwing lei deur die aanvaarding van die straf, maar ook die vasgryp aan die beloftes van vergifnis en vernuwing wat die Here gegee het.

Miga sien dus die toekoms raak en gryp dit in geloof vas dat die juk van Assirië weer afgegooi sal kan word en die volk kan terugkom van waar hulle hulle ook al mag bevind. Dit sal ‘n tyd van wonders soos in die vroeë bestaan van die volk wees, iets wat die nasies sal verstom.

Let op hoe Miga die Here in sy laaste intrede vir die volk herinner aan Wie Hy in sy Wese is: “Wie is ‘n God soos U? … U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde.” Vanuit daardie profetiese gebed verkondig Miga hierdie Godsbeeld dan as hoopvolle getuienis en boodskap aan die volk: “Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak.” En hy verbind die Here se stellige antwoord aan sy getrouheid aan Jakob en sy liefde aan Abraham soos Hy onder eed aan die aartsvaders belowe het. Sonder daardie geskiedenis van God se verbond met die voorvaders het die Godsvolk die gevaar geloop om in die vergetelheid van die eeue te verdwyn.

Boodskap

Die deernis wat Miga het met die volk, wat op soveel maniere inplof in hulle gemeenskapslewe, val my op. Sy worsteling met die boodskap wat hy onverdund bring, sowel as sy beroep op wie God in sy Wese is, bemoedig my. Dit is die manier waarop ons ook in ons eie konteks moet optree. Ons durf nie iets anders sê as wat die Here ons van oortuig nie. Maar dit moet ook ons deernis laat ontvlam sodat ons met oorgawe kan intree juis vir dié mense aan wie ons God se boodskap moet bring.

God bly nie vir altyd kwaad nie. Hy betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon. Hy sal ons sonde tot niet maak. Dít bly die hoop, toe en vandag nog. Soos Peterson sê: “It’s quite simple: Do what is fair and just to your neighbor, be compassionate and loyal in your love, And don’t take yourself too seriously—take God seriously.” (The Message). Dié God is ons hoop.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…