Skip to main content

Handelinge 19:1-40

God doen wonderlike dinge deur Paulus in Efese

Soos die verhaal van die derde sendingreis ontvou, kom ons agter dat Paulus drie dinge beplan het wat die koers sou bepaal vir die res van sy bediening.

  1. Hy het besluit om ‘n fondsinsameling te doen om die arm gelowiges in die gemeente in Jerusalem te help, om so solidariteit en sorg onder alle Christus-volgelinge te fasiliteer.
  2. Hy het besluit om apostoliese opvolgers in Efese op te lei, net soos Jesus apostels in Galilea opgelei het.
  3. Hy het beplan om in Rome en daarna in Spanje te bedien, die sesde fase van die uitbreiding van die evangelie.

Met hierdie drie doelwitte in gedagte, het Paulus van Antiogië af vertrek.

Op hierdie reis skryf Paulus tydens sy verblyf in Efese die eerste brief aan die Korintiërs. Hy het Korinte in hierdie tyd ook vanuit Efese besoek waarna hy die sogenaamde “trane”-brief geskryf het wat ongelukkig nie vir ons bewaar gebly het nie. Wanneer hy verder reis van Efese af na Masedonië, skryf hy daar wat ons as die tweede brief aan die Korintiërs ken, voordat hy ‘n derde keer Korinte besoek en sy brief aan die Romeine skryf.

Ons lees dus agtereenvolgens hierna die twee briewe aan die Korintiërs wat vir ons bewaar gebly het, sowel as die brief aan die Romeine. Tussen-in gee ons aandag aan ‘n paar verse in Handelinge 20 wat oor die reis as sodanig gaan.

Teks en konteks

Paulus lei ‘n aantal medewerkers op in die saal van Tirannus – Handelinge 19:1-20

Paulus reis waarskynlik saam met Titus. Titus het al op die toneel verskyn toe hy saam met Paulus Jerusalem toe gereis het vir die besluitneming oor die besnydenis tussen Paulus se eerste en tweede sendingreise (Hand. 15; Gal. 2:1).

Omdat Paulus uitwei oor Titus se besoek aan Korinte in sy tweede brief aan hulle, en die brief vanuit Efese geskryf word tydens Paulus se besoek daar (2 Kor. 7), lyk dit waarskynlik.

Titus was ‘n bietjie van ‘n “troubleshooter” leraar vir Paulus, omdat Paulus hom na verskillende plekke gestuur het vir bediening, onder andere vanuit Efese na Korinte (2 Kor 8:6, 16, 23; 12:18), Dalmasië (2 Tim 4:10) en Kreta (Tit 1:5).

Ook op hierdie roete begin Gaius (van Derbe) saam reis, want ons lees van hom wanneer die verhaal van Paulus se tyd in Efese vertel word. Dit lyk ook asof Aristargos (van Tessalonika) op hierdie reis by Paulus aansluit, want ons tref hom ook hierna as reisgenoot van Paulus in Efese aan (Hand 19:29).

Aristargos was interessant genoeg ook later op die boot saam met Paulus na Rome toe (Hand. 27:2). Trouens, hy was saam met Paulus in huisarres in Rome (Kol 4:10).

Paulus-hulle reis deur Tarsus na die landstreek Galasië met hierdie manne saam met hom. Hulle besoek en bemoedig die vier Galasiese gemeentes (Derbe [Gaius se dorp], Listra [Timoteus se dorp], Ikonium en die Antiogië in Pisidië) en versterk hulle in die geloof.

Terwyl hy by die gemeentes is, gee Paulus aan elke gemeente spesifieke instruksies oor die Jerusalem-fondsinsameling, soos hy vir Petrus belowe het (Gal. 2:10). Hy verwys na hierdie belofte in die eerste brief aan die Korinte wat in Efese geskryf is (1 Kor 16:1-3).

Met sy aankoms in Efese het Paulus eerste van alles 12 dissipels van Johannes die Doper geëvangeliseer. Hy het hulle in die naam van die Here Jesus gedoop en hulle het die gawe van die Heilige Gees ontvang en in tale gepraat. Geleerdes praat soms daarvan as ‘n klein “mini-Pinkster” vir die nasies. Let ook op dat hulle altesaam omtrent twaalf was, wat herinner aan die aanvanklike twaalf dissipels wat Jesus gekies het.

Die effek op die stad is dat baie tot bekering kom en afstand doen van hulle bose werke. Daarmee is die towergodsdiens van Efese ’n gevoelige slag toegedien. En Lukas sluit hierdie beweging van die Gees daarmee af, waarna die reisverhaal in ‘n verhoor sal eindig en die volgende grens oorgesteek word, dié na Rome toe.

Paulus kom hierna sy belofte na om die Jode op hulle uitnodiging in die sinagoge esoek en het vir drie maande lank met vrymoedigheid daar gepreek, geredeneer en hulle probeer oortuig aangaande die koninkryk van God.

Met hulle groeiende teenstand teen “die Weg” het Paulus die dissipels van hierdie teenstanders afgesonder en hulle daagliks in die lesingsaal van Tirannus onderrig, sodat (deur hulle) al die inwoners van Asië, Jode en Grieke, die woord van die Here gehoor het.

Uit ‘n hele aantal verwysings in die res van Handelinge kom ons agter dat daar ‘n hele aantal ander mense is wat ook hier by Paulus in Efese aangesluit het, want hulle reis hierna verder met Paulus. Ons lees bv dat vier van hulle vir Paulus op sy verdere reis in Troas gewag het. Hy het hulle van Efese af vooruit gestuur.

Dit sluit Aristargos in, waarvan ons reeds kennis geneem het, maar Lukas noem ook hierdie drie: Sopater (van Berea), en Sekundus (van Tessalonika), en Timoteus (van Listre). Hulle is deel van Paulus se reisgeselskap en medewerkers in die bediening, soos ons later lees (Hand. 20:14).

Timoteus was natuurlik al lankal deel van Paulus se reisgeselskap, sedert die tweede sendingreis (Hand. 16). Maar hy is aanvanklik agtergelaat in Berea, saam met Silas, toe Paulus na Athene toe moes vlug (Hand. 17:4).

Timoteus en Silas het wel later by Paulus in Korinte aangesluit, soos ons al kennis geneem het (Hand 18:5), waar hulle saam met hom ‘n jaar en half lank bedien het, maar hulle het moontlik daar agtergebly, want net Priscilla en Akwila word genoem op die verdere reis na sy tuisbasis Antiogië in Sirië (Hand. 18:18). Hier is Timoteus egter weer by Paulus.

Dit is ook duidelik dat Sostenes, die hoof van die sinagoge in Korinte, deel is van hierdie groep. Hy het hom reeds met dieselfde eerste besoek van Paulus aan Korinte by die Christene aangesluit, waarvoor hy deur die Jode vervolg is (Hand 18:16-17). Dat hy baie prominent was met hierdie besoek aan Efese blyk uit die feit dat hy die eerste brief aan die Korinte uit Efese saam met Paulus skryf (1 Kor 1:1).

Twee belangrike plekke van onderrig word in dié tyd benut:

  1. Paulus hou daaglikse byeenkomste in die saal van Tirannus, en
  2. die Christene kom van huis tot huis bymekaar, ook onder Paulus se leiding (Hand. 20:20). Hulle kom ook dikwels bymekaar in die huis van Priscilla en Akwilla (1 Kor. 16:19).

Let ook mooi op dat Lukas vir ons hier sê dat dit in hierdie tyd is wat al die inwoners van Asië, Jode en Grieke, die woord van die Here gehoor het (Hand. 19:10). Die boodskap is nie net in die saal en by die huise versprei deur Paulus nie. Dit is ook deur van die mense wat opgelei is in daardie streke versprei.

Dit wil vir my voorkom asof Paulus hier ‘n soort “seminarium” gestig het. Die boodskap van Christus is immers nie deur Paulus op verdere reise in dié gebied versprei nie, want hy was besig in Efese. Dit moes dus deur die mense wat hy opgelei het, gebeur het. Die verkondiging in Asië was dus ‘n uitvloeisel van sy onderrig in Efese.

In die amper drie jaar wat hy in Efese is, stuur Paul dus waarskynlik sy “studente” deur die nabygeleë stede. Hierdie mense plant nuwe gemeentes regoor Asië. Hulle vestig – volgens Frank Viola se navorsing in The Untold Story of the New Testament Church – gemeentes ten minste in die volgende stede: Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, en Filadelfia, gemeentes waarvan ons later lees in die briewe van Jesus aan die sewe gemeentes van Turkye.

As gevolg van Paulus se bediening in Efese, tesame met sy besluit om sy leerlinge na die naburige dorpe uit te stuur, kon al die Jode en heidene in die Romeinse provinsie Asië die woord van Jesus Christus hoor (Hand. 19:9-10).

So ontvou die “hele heilsplan van God” in sy boodskappe in die saal en in die huise van Efese, soos Paulus later sal sê (Hand. 20:25). Dit het soms vermaning ingesluit, baiekeer met trane (Hand 20:31). En terselfdertyd versprei dit in die groter gebied van Asië deur die mense wat hy opgelei het.

God het hier deur die hande van Paulus besonder kragtige dade verrig, sodat selfs wanneer sweetdoeke en voorskote wat aan sy lyf was, na siekes geneem is, hulle siektes verdwyn en die bose geeste uitgewyk het.

Dit is vroeër ook van Petrus gesê (selfs sy skaduwee – Hand. 5:12-16) en uiteraard ook van Jesus (ook sy klere – Mark. 5:27; 6:56).

Dit word egter skerp gekontrasteer met mense wat munt wil slaan uit die nuwe godsdiens, en dan erg uitgevang word as skynheiliges en bedroë daarvan afkom. Sommige van die rondreisende Joodse geestebesweerders, spesifiek die sewe seuns van Skeva, ‘n Joodse leierpriester, het probeer om die Naam van die Here Jesus te gebruik in hulle werk, maar dit suur bekom, omdat hulle sy Naam misbruik het, sonder om self in Jesus te glo.

Dit het die hele gebied onder die besef van die Here se mag gebring, en Lukas vertel dat baie van die mense wat gelowig geword het, al hulle towerpraktyke in die openbaar bely het en dat heelparty van die mense wat toorkunste beoefen het, hulle boeke gebring en voor almal verbrand het.

So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei.

Dit is waarskynlik in dié tyd wat Paulus sy eerste brief aan die Korintiërs skryf, maar ons hanteer die brief eers na die verhaal van die oproer in Efese ter wille van die vloei van die verhaal in Efese.

Die oproer in Efese – Handelinge 19:21-40

Dan lees ons dat Paulus besluit het om sy reis voort te sit, want soos ons gaan agterkom, hy het genoeg mense gehad om verder te gebruik op sy reise in die verdere verspreiding van die evangelie.

Erastus was ‘n nuwe medewerker waarvan ons hier lees, die stadstesourier van Efese (Rom. 16:23) wat nou na hierdie tyd van opleiding saam met Timoteus vooruit gestuur word op die pad wat Paulus op sy verdere reis deur Masedonië en Agaje sou volg voordat hy van voorneme was om Jerusalem toe te reis. Erastus sal later in Korinte ook diens doen (2 Tim. 4:20).

Twee ander bekeerlinge word in hierdie tyd ook deel van die gemeente. Hulle is: Tigikus (Ef 6:21; Kol 4:17; 2 Tim 4:12; Tit 3:12) en Trofimus, albei uit Efese (2 Tim 4:20; Hand 21:29).

Dit beteken dat daar reeds ten minste tien mense in opleiding was in Efese, natuurlik saam met al die ander gelowiges wat daagliks bymekaar gekom het. Maar, dit is hierdie tien wat hierna saam met Paulus gereis het of na ander plekke deur hom gestuur is.

Trouens, ons lees hierna ook van Epafras van Kolosse wat ‘n moontlike elfde lid van hierdie groep raak en die saad van die evangelie plant onder diegene wat hy in die stad Kolosse geken het (Kol. 1:7). Hy stig uiteindelik die gemeentes van Kolosse, Hiërapolis, en Laodisea (Kol. 4:13).

Hy reis hierna saam met Paulus en beland ook in huisarres in Rome soos Paulus op twee plekke te kenne gee (Kol. 4:12; Fil. 23).

So uiteindelik is daar ten minste ‘n netwerk van ten minste elf medewerkers vanuit Efese wat in verskillende dele van die wêreld gewerk het, almal onder leiding van Paulus.

Frank Viola dink dat Paulus se werksdag deur drie fases gegaan het. Hy het voor sonop al begin met sy tentmaker besigheid. Hy in die saal van Tirannus onderrig gegee in die middag en saans sy onderrig gegee. Na my mening is dit moontlik afgewissel deur huisbesoek.

Interessant genoeg, Paulus het hierdie mans nie net onderrig nie. Hy het selfs vir hulle onderhoud betaal (Hand. 20:34). Om hierdie rede ly hulle baie ontberinge skryf hy uit Efese aan die Korintiërs: “Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, ons is armoedig aangetrek en word mishandel. Ons swerf rond en werk hard met ons eie hande.” (1 Kor. 4:11-12).

Voor hulle egter die stad kon verlaat, was daar ‘n groot opskudding oor die leer van die Here, en die vakmanne onder leiding van die silwersmid Demetrius, het in opstand gekom omdat hulle besigheid skade gelei het deur die mense van Efese wat nou nie meer in die gode belang gestel het nie.

Hoe ironies dat hulle gode wat met die hand gemaak is as gode beskou, terwyl die God wat hulle gemaak het nie as Skepper vereer word nie. Paulus sal in sy brief aan die Romeine hierop uitwei (Rom. 1:18-32).

Die oproer tref veral twee van die manne wat nou opgelei is deur Paulus, Gaius en Aristargos, wat ook hulle eerste ontberings ter wille van die evangelie is.

Let op dat van die gelowiges en van die hoë amptenare van Asië wat met hom bevriend was, Paulus beskerm en keer dat hy betrokke raak.

Gelukkig maak die skare die Jood Aleksander stil wat munt wou slaan uit die geleentheid om die Christene verder te beswadder, en word die oproer uiteindelik deur die stadsklerk tot bedaring gebring en kan Gaius en Aristargos saam met Paulus verder reis.

Boodskap en betekenis

‘n Mens kan nie die waarde van hierdie episode in die uitbreiding van die evangelie in Efese oorskat nie. Hierdie amper drie jaar was fundamenteel in die vestiging van die evangelie onder die nasies.

Dit was aan die een kant die plek waar Paulus alles wat die Here aan hom gegee het vir die verkondiging van die evangelie aan ander kon oordra. Alles wat hy van die Here self ontvang het, kon hy toevertrou aan ‘n groter wordende groep medewerkers sodat die volgende geslag leiers die vroeë kerk van krag tot krag kon laat gaan.

Dit was aan die ander kant ‘n deurslaggewende demonstrasie dat die koninkryk van die duisternis nie die koninkryk van die lig kan uitdoof nie, ten spyte van al die pogings om die boodskappers van God by te kom.

  • Die Jode het nie geslaag in hulle teenstand nie – nie deur hulle beswaddering, hardkoppigheid, en selfs na-apery met geestebeswering in die Naam van Jesus nie.
  • So ook nie die aanbidders van die afgode in Efese nie. Waar mense se oë vir die futiliteit van toorkuns en afgodsdiens oopgaan, is die mag van die Bose in hulle lewe vir altyd gebreek.

Soos Johannes hierdie punt sterk onderstreep in sy Evangelie wat ook hier in Efese geskryf is: “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Joh. 1:5). Die koninkryk van die Here het gekom, en die poorte van die hel self sal dit nie tot niet maak nie.

Vervolgens lees ons 1 en 2 Korintiërs sowel as Romeine.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar