Skip to main content

Openbaring 13

Die antichris en die vals profeet vervolg die kerk

Openbaring 13 voltooi die prentjie van die Bose aanslag op die mensdom met die bekendstelling van twee diere, die dier uit die see (antichris) en die dier uit die aarde (vals profeet – vgl. 16:13 waar die dier uit die aarde die vals profeet genoem word).

Saam met die draak (Satan) vorm hulle ’n gedugte bose driemanskap wat die mensdom met hulle mag beïndruk en van God Drie-enig afvallig maak, behalwe dié wat deur God van die invloed daarvan beskerm word. Hulle teenstand sal in die volgende hoofstukke prominent geteken word, veral in die effek wat hulle op die mensdom het, sowel as op die gelowiges, totdat die wederkoms aanbreek en God hulle in die finale oordeel sal oorwin.

Teks en konteks

Die dier uit die see – die antichris – Openbaring 13:1-10

Die dier uit die see kan met die antichris verbind word in terme van die mag wat hy uitoefen op almal wat nié in die boek van die lewe van die Lam van God opgeskryf is nie (vgl 1 Joh 2:18, 22; 4:3; 2 Joh 7; vgl ook Jesus oor die “vals christusse” in Matt 24:24 en Paulus oor die “wettelose mens” – 2 Tess 2:3-12).

Die antichris is dus ’n direkte teenstander van die Here Jesus Christus, soos die draak die direkte teenstander van God self was (Hebr. 12). Sy beskrywing kom in breë trekke ooreen met die vierde dier in Daniël 7 (10 horings, maar sewe koppe inplaas van vier), maar omvat eintlik die beskrywing van al vier diere van Daniël (leeu, beer, luiperd en die sterk dier).

Omdat die vier diere in Daniël 7 op vier koninkryke dui wat ’n mens kan identifiseer (Galdeërs, Mediërs-Perse, Grieke, Romeine), dui Openbaring se dier uit die see waarskynlik in die eerste plek op die Romeinse ryk (sterk dier van Daniël = dier uit die see in Openbaring), maar in die tweede plek tog ook op die somtotaal van alle teenstand teen die geloofsgemeenskap, deurdat die dier uit die see in Openbaring trekke van al die koninkryke van Daniël bevat, d.w.s. ’n politieke mag.

Hy boots die Christus na in ’n poging om die mensdom te mislei om hom te aanbid. Selfs die opstanding uit die dood word deur die dier nageboots wat lei tot groot bewondering en ’n groot aanhang. Enigiets wat dus téén Christus en sy navolging gesê word, word deur hulle opgeslurp en geglo wat die getuienis van die kinders van God in die skadu stel, hoewel daar genadiglik ’n beperkte tyd daarvoor gegee word.

Dit is waarom dit so belangrik is vir gelowiges om hiervan kennis te neem, sodat hulle nie verras word deur die teenstand en die verguising wat daarmee gepaard gaan nie en hulle in geloof kan volhard tot die einde toe.

Die dier uit die aarde – die vals profeet – Openbaring 13:11-18

Die dier uit die aarde opponeer die ander persoon in die Triniteit, die Heilige Gees, wat gesien kan word in die lewe wat dié dier gee aan die eerste een, sowel as aan die beeld wat van hom opgerig is. In Openbaring 16:13 word dié dier die vals profeet genoem, dié een wat sorg dat daar ’n godsdienstige begronding geskep word vir die aanbidding van die draak, die Satan, en die dier uit die see, die antichris. Hierdie dier is dus ’n direkte teenstander van die Heilige Gees, want soos die Heilige Gees die Here Jesus verheerlik, doen die dier uit die aarde dit vir die dier uit die see en die draak.

Daar is baie interpretasies oor presies waarop die simboliek van die vals profeet dui (vgl Jesus in Matt 24:24 wat praat oor die “vals christusse en vals profete” van die eindtyd). In Johannes se tyd kan die vals profeet waarskynlik die beste met die keiserkultus verbind word, maar in die verlengde van dié interpretasie kan dit eintlik met enige groot godsdienstige beweging verbind word wat nie net ’n ander god aanbid nie, maar spesifiek ook anti-christelik in opset is.

Die godsdienstige begronding word gesoek in wondertekens (vuur uit die hemel soos Elia van ouds), magsvertoon (genesings) en afgodery (beeld word aanbid) waarmee demoniese verskynsels (beeld praat) gepaard gaan.

Die uitwerking daarvan is dat die denk– en werkvermoë van die mensdom wat hulle volg, in diens van die bose driemanskap geplaas word, wat een van die maniere is om die merk op die voorkop en die merk op die hand se simboliek te verklaar (Du Rand). Dit beteken dan ook dat dít die manier is waarop gelowiges van die ekonomie uitgesluit kan word, as hulle nie aan die heersende godsdienspraktyke wil deelneem nie, soos reg deur die eeue gebeur het in lande waar mense verbied word om die Here Jesus te dien en volg.

Die getal 666 moet dus in die lig van hierdie interpretasie uitgelê word, eerder as dat die numeriese getalwaarde van name uitgewerk word, om ’n persoon daarmee te verbind. 666 staan dus vir die doel van die dier se agenda om die gelowiges ekonomies te isoleer. Wie hierin insig het, kan planne maak om die dier se invloed minder te maak.

Dit is egter ook moontlik dat ‘n mens die getal op ‘n simboliese wyse kan verbind aan iemand soos keiser Nero. Hy was ‘n bloeddorstige vervolger van die vroeë Christus-volgelinge. Sy naam en titel in Hebreeus (Nero Ceasar – נרונקסר) het ‘n numeriese waarde van 666.

Nero sou as ‘n simboliese figuur van alle toekomstige vervolgings deur heersers en hulle regerings gesien kon word.

Boodskap en betekenis

Openbaring 13 skets die volskaalse aanval van die bose driemanskap op die mensdom deur onder andere politieke magte wat poog om Christus na te boots. Hulle word egter uitgeken aan die feit dat hulle mense dwing om aan hulle gehoorsaam te leef, eerder as aan die Here self.

Hierdie magte het egter ‘n beperkte invloed en sal uiteindelik deur God oorwin word. Ons roeping is om standvastig te bly, ongeag die teenstand en lyding wat ons mag ervaar, o.a. vanweë die subtiele dwangbuis van “politieke korrektheid” waar jy gedwing word in te val met die heersende ideologie.

Die politieke magte het ‘n religieuse en geestelike kant ook, waar valse profete die politieke magte van die dag ter wille is, en eerder hulle ideologieë napraat as om die Woord suiwer te verkondig.

Gesamentlik stel die bose driemanskap dus ‘n sisteem in plek om gelowiges ekonomies, sosiaal en polities uit te sluit van die gemeenskap indien hulle nie met die heersende ideologie wil saamwerk nie.

Die merk van die dier (666) dui op hierdie bose sisteem van onderdrukking, eerder as op ‘n spesifieke persoon.

Die visioen herinner ons egter daaraan dat al is die wêreldse magte voortdurend teen Christus en die ware gelowiges in opstand, hulle deur insig en geloof sal kan volhard totdat God finaal sal oorwin.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…