Skip to main content

1 Petrus 5

Versorg mekaar en wees voorbeelde vir mekaar

Petrus rond sy brief af deur te fokus op die laaste twee aspekte van hulle gemeentelike lewe wat hulle standvastigheid in die geloofstryd in die wêreld sal gee. Die eerste het te make met die leierskap in die gemeente en die absolute belang van vrywillige, geesdriftige versorging wat gewortel is in die voorbeeld wat hulle stel. Die tweede het te make met die navolging van die leiers se toesig en voorbeeld, terwyl almal saam op die kragtige hand van God sal vertrou. Hoekom? “Want Hy gee vir julle om!

Ons lees die laaste hoofstuk dus aan die hand van dié indeling, waarna die slot van Petrus se brief aan die orde sal kom (vers 12-14):

  • Versorg die geloofsgemeenskap – 1 Petrus 5:1-4
  • Volg die leierskap na en vertrou op die kragtige hand van God – 1 Petrus 5:5-11

Versorg die geloofsgemeenskap – 1 Petrus 5:1-4

Petrus doen ‘n ernstige beroep op die ouderlinge as leiers van die gemeente. “Versorg soos herders die kudde van God in julle midde”. Hy spel dié versorging uit op twee maniere: 1) as toesig oor hulle, en 2) as voorbeeld vir hulle. Aan die een kant moet hulle dus verantwoordelikheid neem vir die lede van hulle geloofsgemeenskap om hulle te help om standvastig te bly. En hulle moet dit doen op vrywillige en geesdriftige wyse, nie op ‘n baasspelerige manier óf deur wins daaruit te maak nie. Aan die ander kant moet hulle ook as voorbeelde die standvastigheid in die Here voorleef. Woorde wek, maar voorbeelde trek.

Hy motiveer hulle op twee maniere vir hierdie belangrike taak. Aan die een kant verwys hy na homself as ‘n voorbeeld vir hulle – as mede-ouderling, getuie, en deelgenoot. Aan die ander kant verwys hy na die beloning wat die Here, die “Groot Herder”, vir elke getroue ouderling sal gee, die erekrans van heerlikheid wat nooit sal verwelk nie.

Volg die leierskap na en vertrou op die kragtige hand van God – 1 Petrus 5:5-11

Die keersy van hierdie versorging is natuurlik dat die leierskap se toesig en voorbeeld aanvaar en nagevolg sal word, veral deur die jongeres in die geloofsgemeenskap. Nederigheid moet die onderlinge gemeenskap kenmerk.

Petrus roep hulle almal op om al hulle bekommernis op God te werp en die vertroue dat sy kragtige hand aan die werk sal kom in hulle lewens. Hoekom? “Want Hy gee vir julle om!” Wat ‘n voorreg.

Dit is des te meer noodsaaklik, omdat die uitdagings van hierdie lewe ‘n geestelike basis het: “Julle teenstander, die duiwel, loop rond ‘soos ‘n brullende leeu’ op soek na wie hy kan verslind.” Daarom moet die gelowiges waaksaam en nugter wees om hom te kan teenstaan en standvastig in die geloof te bly. Dit is trouens die lot van alle gelowiges regdeur die wêreld.

Hulle kan egter staatmaak op God se werk, self al sluit dit lyding in, om hulle te herstel, bemagtig, versterk en stewig te vestig. Hy het die krag om dit te doen en sal die roeping van Jesus Christus in hulle lewens waarmaak.

Slotwoord en seëngroet – 1 Petrus 5:12-14

Petrus sluit sy brief af met ‘n verwysing na Silvanus wat hom met die skryf van die brief gehelp het, sowel as na Markus wat saam met hom sy groete aan die vreemdelinge in die noorde en weste van Turkye stuur. Hy spel ook die doel van sy brief uit, dat hy hulle wou bemoedig en hulle nadruklik wou verseker: “dat hierdie dinge die ware genade van God is.” Groot woorde. “Staan dan vas daarin!

Boodskap en betekenis

Daar is min dinge wat ‘n geloofsgemeenskap só in harmonie kan laat funksioneer as die fokus aan die een kant op onderlinge versorging en aan die ander kant op standvastig saamstaan in die geloof. In dié mate wat ons vir mekaar voorbeelde van standvastigheid in die geloof verskaf, in dié mate versterk ons die band wat ons aan mekaar bind. Dit is iets wat van leiers gevra word. Dit is iets wat net soseer van volgelinge gevra word.

Let op dat die teenstand teen die duiwel (diabolos) gevind word in standvastigheid in geloof, persoonlik en in die geloofsgemeenskap. Só het Paulus dit ook aan die Efesiërs uitgespel: “Staan dan vas, julle heupe omgord met die waarheid, bedek met die borsplaat van geregtigheid en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Dra, by dit alles, die skild van die geloof, waardeur julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die Bose te blus.” (Ef. 6:14-16).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.