Skip to main content

Openbaring 21

Die koms van die nuwe hemel en aarde en die nuwe Jerusalem

Die oorwinning oor die Satan en die oordeel oor die mensdom word opgevolg in Openbaring 21 met:

  • die koms van die nuwe hemel en nuwe aarde – vers 1,
  • die vestiging van die Nuwe Jerusalem uit die hemel op die aarde as die woonplek van God. Só word alles nuut gemaak – vers 2-8 en
  • die beskrywing van die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem – die bruid, die vrou van die Lam – wat in wese eintlik ook die beskrywing van God se heerlikheid is – vers 9-27.

Hoofstuk 22 sal dié prentjie afrond met ’n beskrywing van die water van die lewe wat uit die troon van God en die Lam uit die stad vloei – vers 1-6. Die boek word daarna afgesluit met ’n versekering van die spoedige en besliste wederkoms belofte van die Here Jesus as aanmoediging vir die gelowiges om vas te hou aan die woorde van God.

Teks en konteks

Die koms van die nuwe hemel en nuwe aarde – Openbaring 21:1

Die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde word in ’n enkele vers beskrywe. Dit vervang die ou hemel en aarde wat so pas met die laaste oordeel tot niet gegaan het. Die enigste detail waarop uitgebrei word, is die feit dat daar nie ’n see sal wees nie. Dit dui op die feit dat daar geen boosheid meer sal wees nie, aangesien die see as die woonplek van die Bose beskou is.

Daarmee sluit Openbaring presies aan by die belofte wat Jesaja al lank tevore van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gebring het, waarin daar ook ’n nuwe bedeling vir Jerusalem, die Godsvolk, sal wees (Jes. 65:17-18).

Die vestiging van die Nuwe Jerusalem – Openbaring 21:2-8

Die Nuwe Jerusalem (vgl. ook Openb. 3:12 waar insluiting in hierdie stad as beloning aan Filadelfia belowe word) daal uit die hemel neer (sommige manuskripte sê: “uit God se hemel”) as gereed gemaakte bruid vir die Lam van God, waarmee ’n idilliese prentjie van “hemel op aarde” geskets word. Die versierde vrou staan in skerp kontras met die bose Babilon wat deur God vernietig is.

In ’n sekere sin word hemel en aarde een in die Nuwe Jerusalem, die Gods volk (Du Rand). Die plek ís ook die mense! Die gelowiges ís ook die stad van die Here God. Die droom van Jesaja 2 dat Jerusalem die ontmoetingsplek met God vir die nasies sal wees, word só uiteindelik in sy volheid bewaarheid!

Dit verklaar ook hoekom die nasies steeds deel van die beskrywing van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, in die volgende hoofstuk sal wees. Vergelyk ook Jesaja 65:17-18 en Sagaria 8:20-23; 14:8 waar dié beloftes die eerste keer uitgespreek is in die OT en waarvan Openbaring die vervulling beskrywe.

Hierdie is die vervulling van die OT ideaal van God wat ’n God vir sy volk is en hulle wat vir Hom ’n volk is nie. Dit was die ideaal van die Ou Verbond (Gen. 17:7; Eks. 29:45; Lev. 26:11-12). Dit het die ideaal van die Nuwe Verbond gebly (Jer. 31:33; Eseg. 37:27-28 [wat ook ‘n effek op die nasies sal hê).

Dit is ook nie net die volke – let op die meervoud! – wat nou God se woonplek (tent) word nie, maar hulle ervaar ’n omvattende herstel wat God aankondig: elke traan word afgedroog, die dood word vernietig, daar sal nie meer gerou of gehuil word nie, want daar sal geen pyn meer wees nie. Die eerste dinge het verbygegaan, die nuwe het gekom (soos Paulus ook in 1 Kor. 5:17 skrywe!).

God maak alles nuut. Om die waarheid te sê, in ’n sekere sin is dit eintlik in beginsel afgehandel, want die belofte kom van die Een wat die Alfa en die Omega is, die Begin en die Einde. Elkeen wat hierna smag, sê God, sal versadig word. Hulle sal drink uit die fontein van lewegewende water om vir ewig te lewe. En dié lewensdrank sal verniet wees (vgl. Jes. 55:1). Eden is herstel.

Dít is die deel van elkeen wat aan God bly vashou. Die res van die mensdom se deel is die tweede dood, die vuurpoel, waar die bose driemanskap saam met die dood en die doderyk reeds is.

Agt karaktereienskappe van dié mense wat dit nie sal maak nie word uitgespel waarin duidelike ooreenkomste nie net met ander soortgelyke lyste in die NT is nie, maar ook ooreenkomste met die Tien Gebooie: lafaards (dié wat bang geword het), onbetroubares (óf ongelowiges – dié wat ontrou geword het), losbandiges (seksuele perverte), moordenaars, onsedelikes (pornois), towenaars (pharmakois – mense wat towerspreuke en dwelms gebruik), afgodsdienaars en al die leuenaars.

Hulle lot is vir ewig verweef met die vuurpoel, die tweede dood. Dit is die plek waar God nie is nie. Alleen maar die boosheid in al sy afgryslike glorie.

Die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem – Openbaring 21:9-27

Een van die sewe engele met die sewe bakke wys dan vir Johannes die bruid, die vrou van die Lam.

In ’n heerlike beskrywing word die skoonheid van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, beskrywe, wat in wese ook ’n beskrywing van God se heerlikheid is. Haar glans is dié van kristalhelder jaspis soos in Openbaring 4. Sy is veilig omdat daar ’n hoë muur om haar gebou is, met twaalf engele wat die volk by die twaalf poorte oppas. Die stad is gegrondves op twaalf fondamente, die twaalf apostels “van die Lam” (vgl. Paulus se opmerkings hieroor in 1 Kor. 3:10).

Dié getal twaalf (maal twee) staan vir die volle getal van die Godsvolk – beide die twaalf stamme van die ou bedeling en die twaalf apostels van die nuwe bedeling.

Weereens word ’n meetstok uitgehaal om die stad te meet – soos in Openbaring 11 waar Johannes die tempel van God moes meet – om te simboliseer dat hulle almal aan God behoort.

Die stad vorm ’n enorme kubus waarvan hoogte, breedte en lengte gelyk is. Die 12 000 km (soos die N.A.V. dit vertaal) is eintlik in die grondteks 12 000 stadion. Dit beteken dit is ’n 2 220 km kubus (‘n stadion is 185 m lank), hoewel die presiese letterlike mate natuurlik nie so belangrik is as die feit dat dit groots is nie. Netso is die muur eintlik 65 m hoog – die grondteks sê dat dit 144 el hoog is en ’n el is 45 cm lank.

Die verdere boumateriaal is ook besonders: goud, 12 tipe edelstene en pêrels (een van die kosbaarste juwele van die antieke tyd en in dié geval enorm groot!). Dit alles dien egter net om die sentrale heerlikheid van God self te belig. Die Here God woon in die stad, d.w.s. in en tussen sy mense en verlig nie net vir hulle nie, maar ook vir almal rondom. Die son en maan is oorbodig, want God is daar. Binne-in die stad kan egter net die gelowiges wie se name in die lewensboek van die Lam geskryf is, kom.

Die heerlikheid van God

Die heerlikheid van God is ‘n ontsagwekkende kaleidoskoop van kleure. Johannes sê in Openbaring dat Hy die voorkoms het van ‘n kristalhelder Jaspis – wit. Op ‘n ander plek sê Johannes dat God ook die voorkoms van Karneool het – rooi. Trouens, rondom sy troon is ‘n reënboog of “halo” (iris) wat soos smarag (σμαράγδινος) skyn – ook groen (Openb. 4:3).

Daarmee word natuurlik ‘n verband gelê met die OT teken van die reënboog (qěšěṯ) met sy betekenis as ‘n teken van die verbond van God met die aarde en almal daarop om nie weer die hele aarde met water te vernietig nie (Gen. 9:12-17).

Esegiël beskryf sy troon as gebou van saffiere – blou – en sy voorkoms soos blinkende brandende metaal: “Die glans rondom was soos dié van die reënboog in ’n wolk na die reën.” (Eseg. 1:22-28). Soos Moses dit ook in Eksodus doen: “onder sy voete was ’n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self.” (Eks. 24:9)

Die heerlikheid van die nuwe stad Jerusalem

Die heerlikheid van die nuwe stad Jerusalem eggo God se heerlikheid, want die belangrikste boustof van die mure is ook jaspis. Die stad is verder van suiwer goud gebou. Die glans daarvan is soos suiwer glas of kristal.

Die fondamente van die stad is versier met edelgesteentes, twaalf van die sogenaamde anisotropiese edelgesteentes wat nie net hulle eie kleur het nie, maar onder suiwer lig al die kleure van die reënboog aanneem. Interessant is dat daar nie isotropiese edelgesteentes op die fondamente is nie, moontlik omdat wanneer suiwer lig daarop hulle val, raak hulle swart of grys. Dit is edelgesteentes soos diamante of robyne.

Dit is nie iets wat Johannes in die eerste eeu van ons jaartelling sou geweet het nie, maar iets wat sin maak uit ons kennis daarvan vandag. Dit is waarskynlik wel ‘n getuienis van God se kennis wat allesomvattend is.

Hier is die 12 edelgesteentes waarmee die fondamente versier is, die fondamente waarop die name van die twaalf apostels van die Lam geskrywe staan:

  1. JASPIS (ἴασπις) – groen – die hele stad Jerusalem is van jaspis gebou(Openb. 21:10-11), maar dit is ook die eerste edelgesteente op die fondamente (Openb. 21:19);
  2. SAFFIER (σάπφιρος) – blou (Openb. 21:19);
  3. AGAAT (χαλκηδών) – melkerig grys (Openb. 21:19);
  4. SMARAG (σμάραγδος) – groen (Openb. 21:19);
  5. SARDONIKS (σαρδόνυξ) – wisselende kleure (Openb. 21:20);
  6. KARNEOOL (σάρδιον – Sardius) – rooi (Openb. 21:20);
  7. CHRISOLIET (χρυσόλιθος) – geelgoud (Openb. 21:20);
  8. BERIL (βήρυλλος) – blou of groen (Openb. 21:20);
  9. TOPAAS (τοπάζιον) – geel (Openb. 21:20);
  10. CHRISOPRAAS (χρυσόπρασος) – groen (Openb. 21:20);
  11. HIASINT (ὑάκινθος) – blou (Openb. 21:20);
  12. AMETIS (ἀμέθυστος) – pers of violet (Openb. 21:20).[1]

En dan is daar nog die poorte van die stad wat elkeen uit ‘n kosbare massiewe pêrel gebou is en die strate van goud wat so deurskynend soos glas is.

Boodskap en betekenis

Dit is duidelik uit Openbaring 21 dat God se uiteindelike plan is om hemel en aarde te verenig en ’n volmaakte woonplek vir sy volk te skep waar daar geen boosheid en geen lyding en trane meer is nie. Die Nuwe Jerusalem simboliseer die volk van God in volmaakte gemeenskap met Hom. Hulle is nou die stad waar God woon. Hierdie visioen is die vervulling van al die OT verbonde, die herstel van die eerste paradysgemeenskap van Eden en die finale oorwinning oor sonde en dood wat reeds in Genesis 3 belowe is. Christus is hiervan die middelpunt, en deur die genesing en oorvloed wat Hy bring, word alle dinge nuut. Die sondeval is finaal omgekeer en gelowiges regeer saam met God vir ewig.

[1] Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996. Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains, 1, p.24.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…