Skip to main content

Psalm 55

Laat jou sorge aan die Here oor

Hierdie Psalm word geskryf teen die agtergrond van die verraad van ’n vriend.  Dié vriend word meesal met Dawid se adviseur Agitofel geïdentifiseer wat in die stryd met Absalom teen hom gedraai het (2 Sam 15-17).

Die Here het egter Agitofel se raad verydel waarna Agitofel homself opgehang het in sy tuisdorp, Gilo.  ’n Storie met ’n tragiese einde vir Agitofel, maar ’n positiewe uitkoms vir Dawid met sy uiteindelike oorwinning oor Absalom.

Teks en konteks

Die Psalm kan op verskillende maniere ingedeel word.  Die een wat vir my die meeste sin maak, is soos volg waarin duidelik selfgesprek en gebed mekaar afwissel:

  • Smeking: Dawid bid tot God dat dié sal luister na hom en hom sal antwoord – vers 2-6.  Dawid is eerlik teenoor die Here oor wat die dreigemente van sy vyande en die druk van slegte mense aan hom doen.  Hulle onregverdigheid is bedoel om hom te breek, veral omdat hy natuurlik self streef na die handhawing van die reg.  Let op hoe sy hele liggaam reageer op sy gevoel van verontregting – sy hart krimp inmekaar, doodsangs oorval hom, vrees en skrik oorweldig hom, sy hele liggaam bewe.
  • Versugting: Dawid sou só graag die storm waarin hy verkeer wou ontwyk – vers 7-9.  Daar is baie keer hierdie ervaring by ons, die bekende veg-of-vlug reaksie.  Hier wil Dawid net op enige manier die situasie ontwyk, wegvlieg soos ’n duif, in die woestyn gaan bly, alles om net weg te kom van die situasie wat soos ’n onstuimige wind, ’n storm, voel.
  • Intersessie: Dawid bid dat God self hulle uitmekaar sal dryf weens die onreg en onheil wat hulle pleeg – vers 10-12.  Dawid se gebed is dat die kommunikasie tussen die geweldenaars vertroebel sal word, dat hulle mekaar nie sal verstaan nie en die wanorde hom sal wreek op hulle planne.
  • Verstomming: Dawid reflekteer oor die feit dat hy dié verraad nie van ’n vriend van hom verwag het nie – vers 13-15.  Let op hoe die vriend se verraad geteken word, iets wat die geestelike verbintenis met mekaar verbreek: “As dit nog my vyand was wat my smaad aangedoen het, sou ek dit kon verdra; as dit ’n teenstander was wat my wou verneder sou ek hom kon probeer vermy.  Maar nou is dit jy, ’n man soos ek, my maat en goeie vriend.  Ons was so nou aan mekaar verbonde; opgewonde het ons saam na die huis van God toe gegaan.”
  • Vertroue: Dawid verlaat hom op God, dat dié sal hoor en hom sal red – vers 16-20.  Let op hoe Dawid se gebed in karakter verander en dat sy klag al hoe meer gebaseer word op sy vertroue dat God inderdaad in dié situasie waarin hy verkeer sal optree.  “Hy sal my red ..”
  • Veragting: Dawid keer terug na sy intense gevoel van verraad: sy vriend het sy vyand geword – vers 21-22.  Die verbond tussen hulle is verbreek: “My vyand het skaars ’n ooreenkoms gesluit of hy verbreek sy beloftes van trou.  Sy tong is gladder as botter, maar daar is oorlog in sy hart; sy woorde is so strelend soos olie, maar hulle is swaarde wat reg is om te steek.”
  • Getuienis: Hy raai homself en almal wat na hom luister aan om hulle sorge aan die Here oor te laat, want Hy sal sorg.  Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie – vers 23.
  • Slotgebed: Dawid is oortuig dat God dié mense sal straf en vir Dawid in sy vertroue op God sal bevestig: “Op U vertrou ek” – vers 24.

Boodskap en betekenis

Dawid is duidelik diep ontsteld oor die verraad van sy vriend en gebruik taal in sy gebed wat baie keer die grens na vervloeking oorsteek. Maar, let op sy raad aan homself, en aan ander, dat die beste is om jou sorge aan die Here oor te laat, want Hy sal sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie. ‘n Eienskap van God waarop jy ook vandag kan staatmaak.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…