Bybelskool

1 en 2 Kronieke

Ons lees 1 en 2 Kronieke in die Bybelskool in tandem met dieselfde verhale in Samuel en Konings, sowel as ‘n paar ander verwante Skrifgedeeltes.  Ek het ‘n dokument voorberei waarin die belangrikste ooreenstemmende Skrifgedeeltes langs dié van Kronieke geplaas is, sodat dit in die leeswerk met mekaar vergelyk kan word.  Laai dit hier af: 

Só sal julle kan sien dat Kronieke deurgaans materiaal van Samuel en Konings gebruik, aangevul met geslagsregisters uit die Pentateug, liedere uit die Psalms, en ‘n paar toesprake om die aaneenlopende verhaal van Israel van Adam af tot ná die ballingskap te beskryf.

Die fokus is in Kronieke deurgaans op ‘n waarderende blik op dié veelbewoë verhaal waardeur die volk Israel ná die ballingskap weer kon ontdek watter ryk erfenis hulle het en dat hulle daarmee ‘n nuwe pad met God in die hede kon begin loop. Hy skryf dus nie ‘n nuwe geskiedenis van Israel nie, maar verwoord die ou verhale op waarderende wyse as ‘n nuwe boodskap vir die hede.

Dit was ‘n uiters tydige boodskap, want die ballinge het weliswaar in die tyd van die totstandkoming van Kronieke teruggekeer na Jerusalem, maar het die gevaar geloop om hulle identiteit as Godsvolk te verloor omdat hulle nie meer die wortels waaruit hulle geloofsgemeenskap gegroei het, geken het nie.

Daarom spandeer Kronieke soveel tyd om die volk se verbintenis aan die mensdom (Adam), die Joodse volk (Abraham) en die Koningshuis van Juda (Dawid) met die eerste 9 hoofstukke se geslagsregisters te beklemtoon.  Dit word opgevolg in die res van Kronieke met die talle verhale van God se sorg deur die eeue van Dawid af tot in die hede om die volk weer uit te nooi om hulle in ‘n gehoorsame verhouding met Hom te anker.

Met dié perspektiewe wil die boek hulle inspireer om die Here in die hede met hul hele hart te dien aan die hand van hulle identiteit as Godsvolk, sowel as na aanleiding van die konkrete voorbeelde van die geloofshelde van weleer.   Daarmee spreek die boek ook tot elkeen van ons wat in Jesus Christus deel van die volk van God geword het en ook Abraham ons vader kan noem (Gal. 3:29).  En word ons ook opgeroep om God met ons hele hart te dien in ‘n groeiende geloofsverhouding.

Hier is die skakels na die inleidende bydraes:

Hoe om die Bybelboek te lees

Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarvoor is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.

Een van die maniere wat gelowiges deur die eeue gebruik het om die Bybel só te lees, dat dit jou lewe beïnvloed, jou transformeer, is Lectio Divina, geestelike of goddelike lees.

Gebruik die volgende metode om hierdie Bybelboek deur te werk:

RUS

  • Raak stil. Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het. Dank God vir die goeie. Gee vir Hom die slegte.

HOOR

  • Lees die gedeelte in die Bybel soos dit aangetoon word. Fokus op wat jou tref.
  • Lees my bydrae oor die gedeelte.
  • Kies een gedagte wat jou tref en dink daaroor na. Dink veral oor die praktiese betekenis daarvan vir jou.
  • Antwoord die Here in gebed.
  • Geniet ‘n paar oomblikke die teenwoordigheid van die Here sonder woorde.

LEEF

  • Besluit op ‘n praktiese manier om op God se woord aan jou te reageer.

by Chris van Wyk

View all posts in this series
     

Leave a comment

Onlangse kommentaar

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Robin – Gebed beïnvloed God se planne. Talle verhale bevestig dit, soos die een van Hiskia wat jy aanhaal. Maar, ook ‘n Abraham (Gen 18), en ‘n Lot (Gen 19) het gebid en God het geantwoord, vir hulle gegee wat hulle gevra het. Trouens, die mense van Nineve het gebid en God het van sy beplande oordeel afgesien (Jona). Daar is wel kere wat God die gebede afwys en sy planne uitvoer. So het Moses dit ervaar (Eks 32), so het Jeremia dit ervaar (Jer 7:16; 11:14; 14:11; 15:1; vgl Eseg 14:14, 20), en selfs Jesus in Getsemane moes aanvaar dat God se wil nie verander kan word nie.

  • Avatar

    Robin Linde

    |

    Die storie van Hiskia wat sterwend was en na God gebid het, toe het God hom gesond gemaak en nog 15 jaar laat lewe. Het Hiskia se gebed God se plan beinvloed om eerder dat Hiskia sterwe eerder nog 15 jaar langer lewe?
    Maw kan die mens God se plan beinvloed deur smeking en gebed of staan God se plan vas vir elkeen van ons?

  • Avatar

    Clyde okyober

    |

    Baie inspireerend

  • Avatar

    Ansie

    |

    Dankie Dr Chris jy het absoluut die gawe om baie goed te kan verduidelik.

  • Avatar

    Hannes de Jager

    |

    Goeie More Dr. Chris.
    Baie dankie vir die skrywe. Baie om te verwerk. Maak my baie opgewonde, omrede daar na al die boeke in die Bybel verwys word. Hierdie onderwerp gee ons weer die geleentheid om die Bybel uit ‘n ander hoek te bestudeer. Baie geluk en dankie vir U bydrae. Ware “sielskos”.

  • Avatar

    Kobus De Wet

    |

    Dankie, het hierdie “herkoutjie” geniet, kan nou verder herkou aan die saak.