Skip to main content

Handelinge 10

Die Heilige Gees word ook vir heidene gegee

Hierdie verhaal is van sleutel belang vir die ontwikkeling van die evangelie. Hiersonder sou die Christelike evangelie ’n Joodse sekte gebly het en nooit sy grense kon oorsteek na elke nasie en volk nie. Waar die Samaritane en die Etiopiese amptenaar (Hand 8) nog deel van die Joodse geloof was (die Samaritane het nou wel ’n gemengde godsdiens gehad, maar het darem die Pentateug as gesaghebbend vir hulle godsdiens beskou), is dit nou onbesnede mense wat die evangelie hoor en glo (let op die beswaar in Hand 11:3).

Dit is ook opmerklik dat dit ’n beweging van God was, en nie in die eerste plek van Petrus of die kerk nie. Die engel van God sit die proses aan die gang met sy verskyning aan Kornelius, die Romeinse of Italiaanse burger, in Sesarea, wat vir Petrus moet laat haal (50 km daarvandaan in Joppe). En Petrus beleef op sy beurt ’n ekstatiese geestesvervoering (die Griekse woord ekstasis word gebruik) waarin hy ’n visioen sien en ervaar dat die Here (Jesus) sowel as die Gees met hom praat om Kornelius se versoek te eer.

En wanneer Petrus begin om te preek, nog voordat hy klaar gepraat was, word die Heilige Gees ook aan die heidene gegee met die begeleidende teken van tale, soos in die begin op Pinksterdag. Let op dat die doop hier ná die uitstorting van die Heilige Gees gegee word, selfs voordat daar vreeslik sprake van bekering is.

Teks en konteks

Die verhaal van Kornelius word in hoofstuk 10 in ses episodes vertel.

God stuur ‘n engel na Kornelius – Handelinge 10:1-8

In die eerste episode stuur God ‘n engel na Kornelius om die proses aan die gang te sit om die evangelie by hom en sy mense uit te kry. Hy word aangesê om vir Petrus in Joppe te gaan haal.

Dit is waar die verhaal begin. By God wat hemel en aarde beweeg om ‘n man te bereik wat met oorgawe gebid het tot Hom. Hy was gedurigdeur in gebed en het baie liefdadigheid bewys, sê Lukas vir ons.

God het dit raakgesien. Sy liefde vir God en sy liefde vir sy naaste. Soos die engel vir Kornelius reg aan die begin sê: “Jou gebede en jou liefdadigheid het tot ‘n gedenkoffer voor God opgestyg.” (Hand 10:4).

Soos Kornelius God gedurigdeur in sy gedagtes gehou het, só was Kornelius ook in God se gedagtes. En God besluit om iets aan die saak te doen.

God praat met Petrus deur ‘n visioen – Handelinge 10:9-16

In die tweede episode is Petrus besig om te bid en berei die Here hom met ‘n visioen voor vir die versoek van Kornelius. Petrus was nog vasgevang in ‘n ideologie dat die evangelie net vir Jode bedoel was. Die Here deurbreek dié ideologie met die boodskap aan Petrus dat God alle mense met die evangelie wil bereik. Almal wat vir Hom ontsag het en wat begeer om reg te doen.

Petrus ontvang die mense van Kornelius gasvry by hom in die huis – Handelinge 10:17-23a

In die derde episode ontvang Petrus die mense van Kornelius gasvry in die huis waar hy tuisgegaan het by Simon die leerlooier. En dit is waar die eerste stuk gehoorsaamheid kom van Petrus. Petrus ontvang vir Kornelius se mense in sy huis. Petrus laat heidene in sy persoonlike ruimte toe.

Petrus reis saam met Kornelius se mense na Kornelius in Sesarea – Handelinge 10:23b-33

In die vierde episode reis Petrus en Kornelius se mense van Joppe na Sesarea. Dit is so 50 km van mekaar af. Kornelius het intussen vol verwagting op Petrus gewag. Sy verwagting was so groot dat hy Petrus wil aanbid, maar Petrus weier dat dit gebeur. En dan gebeur die tweede stuk gehoorsaamheid van Petrus. Hy aanvaar die uitnodiging om in Kornelius se huis in te gaan.

Petrus is baie eerlik oor watter groot grens hy hier moet oorsteek. Maar, Petrus sê, dit is die Here self wat hom oortuig het. As God niemand op sy uiterlike beoordeel nie, net op sy liefde vir God en sy naaste, hoe kan Petrus dan uiterlike dinge gebruik om ander op hulle afkoms te beoordeel nie?

Petrus bring die evangelie aan die mense van Kornelius – Handelinge 10:34-43

Die vyfde episode vind plaas in Kornelius se huis (Hand 10:34-43). Let mooi op wat Petrus hier oor die evangelie sê in sy toespraak.

Die eerste deel van die boodskap uit hierdie gedeelte is wat Petrus van God beklemtoon. Petrus verkondig dat ons hierdie prentjie van God ter harte moet neem.

  • God beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie.
  • Vir God is die mens aanvaarbaar wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is.

Die tweede deel van die boodskap is wat ons in Petrus raaksien. Toe die Here vir hom wys dat almal vir God aanvaarbaar is wat vir God ontsag het, en wat doen wat reg is, toe kom Petrus tot bekering.

En hy wys dit deur nie net Kornelius se mense in sy huis in Joppe te ontvang nie, maar ook in Kornelius se huis in te gaan en met hulle tafelgemeenskap te hou.

Hoekom? Want, wie vir God aanvaarbaar is, is vir Petrus aanvaarbaar. Punt.

Die resultaat is, en dit is die derde deel van die boodskap aan ons:

  1. Ons beoordeel niemand meer volgens sy uiterlike nie.
  2. Ons aanvaar alle mense wat ontsag het vir God en doen wat reg is.

Petrus verduidelik dan in sy preek dat hy wat Petrus is eintlik al vroeër dié boodskap moes verstaan het, want dit is hoe Jesus ook gewerk het. Hy het geen onderskeid gemaak tussen mense nie. Hy het almal wat in ontsag vir God gelewe het genees. Selfs die heidense Siro-Fenisiese vrou.

Die krag wat God die Vader vir Jesus van Nasaret deur die Heilige Gees gegee het, het Jesus gebruik om die land van Israel te deurkruis en oral goed te doen. Hy het almal genees wat onder die mag van die Duiwel was en die moeite gedoen het om na Hom te kom, sonder uitsondering.

Maar, die hoogtepunt van die goeie nuus aan Kornelius is Jesus se kruisdood en opstanding. En ons sien dieselfde goue draad deur die boodskap van vergifnis loop. Jesus se vergifnis is beskikbaar vir almal wat in ontsag vir God leef en doen wat reg is.

Die een kant van die Evangelie is dat Jesus verwerp is deur die Jode. Hulle het Hom aan die kruis doodgemaak. Dit was gedoen deur mense wat vir God geen ontsag het nie, wat glad nie belanggestel het om te doen wat reg is nie, al het hulle bekend gestaan as die volk van God.

Maar, dit is egter gelukkig nie al wat Petrus oor Jesus sê nie.

Aan die ander kant fokus Petrus ook op die opstanding van die Here Jesus Christus. Dit is die verrassende uitkoms van die kruis-evangelie. Waar vergifnis deur Jesus se opstanding uit die dood aan almal wat ontsag het vir God aangebied het.

Selfs vir ‘n Saulus wat Jesus vervolg het, soos ons in die vorige hoofstuk, Handelinge 9, gelees het.

En die wonder van hierdie evangelie van vergifnis – ook vir vyande – is dat elkeen wat tot inkeer kom ‘n getuie raak, ‘n boodskapdraer, om dié boodskap van vergifnis na die hele wêreld toe uit te dra.

Die Heilige Gees word dramaties uitgestort op Kornelius se mense – Handelinge 10:44-48

Terwyl Petrus nog praat, word die Heilige Gees op dramatiese wyse op Kornelius, sy huishouding, en die ander heidene wat saam met hom geluister het na Petrus se boodskap, uitgestort. Die Heilige Gees vul almal wat sy woorde hoor. Die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, is verbaas dat die Heilige Gees op die heidene ook uitgestort word, soos sigbaar in hulle lofprysing en die gawe van tale is. Petrus besef dan net nog meer dat God nie onderskeid tref tussen Jood en heiden nie en beveel dat hierdie nuwe gelowiges gedoop moet word in die Naam van Jesus Christus. Hierdie gebeure bevestig dat die evangelie en die Heilige Gees vir alle mense beskikbaar is en dat geen grense die werk van God kan beperk nie.

Boodskap en betekenis

Ek fokus hier op die toespraak van Petrus wat twee implikasies vir jou het.

Die eerste is die belofte van vergifnis van jou sondes wat vers 43 vir jou inhou. Die Here is besig in jou lewe met ‘n proses van heiligmaking. Dit is belangrik dat jy in daardie proses die vergifnis van die Here vir jou sondes aangryp en jou eie maak. Dit moet ‘n daaglikse proses word.

Sonder dat jy só groei in heiligmaking, in ontsag vir God, en in die doen van wat reg is, soos Petrus dit hier uitspel, sal jy nie kan volhard in die geloof nie. As jy nie ontsag het vir God nie, en nie doen wat reg is nie, sal jy ondergaan in die geloofstryd.

Die tweede is dat die oomblik toe jy ja gesê het vir Jesus in jou lewe, daardie oomblik het jy ‘n getuie geword van Jesus. Het jy ‘n opdrag tot getuienis. Daar is baie Korneliusse in hierdie wêreld wat wag op die getuienis van die Petrusse in ons gemeente.

Dit kan beteken dat jy van jou vooroordele vrygemaak moet word. Ras en taal, of kultuur en klas. Dat hierdie verhaal jou ook sal vrymaak van die beoordeling van mense volgens hulle uiterlike. Want, dit is die God wat jy dien. Hy is sonder vooroordele op grond van uiterlike kenmerke. Waarom sal ons dan dié vooroordele lewendig hou.

Die enigste ding wat saak maak, is of iemand ontsag vir God het, en doen wat reg is, soos die Bybel ons leer. En jy kan die verskil maak in iemand se lewe om die boodskap van vrede wat Jesus bring vir alle mense in hierdie wêreld, om dit by dié wat dit nog nie beleef het nie, uit te bring.

Die Woord van God sal nooit ledig na Hom toe terugkeer nie.

Hierdie Skrif vandag is ‘n belofte aan jou. Omarm dit en koester dit.

Dit is ook ‘n opdrag aan jou. Omarm dit net so sterk, en gaan wees gehoorsaam daaraan.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar