Skip to main content

Psalm 25

God neem dié wat Hom vertrou in vertroue

Psalm 25 is ’n akrostiese Psalm. Elke vers begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet (behalwe vers 18 en 22). Dit help met die onthou van die Psalm (ten minste vir die Jode!). En dit help ook om simbolies gesproke die “alfabet van geestelike groei” aan te leer (Elwell).

Want dit is die behoefte van Dawid, om die pad wat hy gekies het (Psalm 1), enduit met integriteit en opregtheid te kan loop, al is dit nie maklik nie, en het hy en Israel baie vyande. Om die waarheid te sê, hy weet dit is onmoontlik om die pad te loop sonder God en sonder dat Hy in alles betrokke is by ’n mens se lewe.

Dit is egter ook ‘n Psalm waarin hy die Here vra om nie vir hom van sy vyande te verlos nie (vers 2), maar ook vir Israel uit al sy benoudheid (vers 22)

Teks en konteks

Die belangrikste boodskap van die Psalm is in vers 1-2, dat die basis van die geestelike lewe in vertroue gevind word. Trouens, dit is ’n vertrouens Psalm. Die Psalmis rig hom daarom tot God in die vertroue dat God hom nie in die steek sal laat nie (vers 2). Dit is immers die ervaring van almal wat hul verwagting in God gestel het, dat God die moeite werd is om te vertrou (vers 3). Daarop maak hy dus staat.

Sy verwagting is dat God hom 1) Sy wil sal leer en 2) nie sy sonde teen hom sal hou nie. In vers 4-5a brei hy uit oor sy gewilligheid om deur God onderrig te word, en in vers 5b-7 oor sy afhanklikheid van God se goedheid en vergifnis. Leerbaarheid en afhanklikheid is dus twee eienskappe wat voortspruit uit vertroue. Wat natuurlik ook beteken dat dit eintlik net die Here self is wat jou kan leer wat jy moet weet (vgl Jer 31:34, waar dit deel van die visie vir die toekoms is, dat elkeen deur die Here geleer sal wees).

Die Psalmis se ervaring is dat God liefde en trou bewys aan dié wat Hom vertrou, van Hom leer, en afhanklik van Hom lewe. Selfs sondaars wat op Hom fokus, word deur God geleer (vers 8-10).

Dit laat hom sy skuld bely in die verwagting dat God hom Sy weë sal leer. Meer nog, hy verwag dat God hom in Sy vertroue sal neem, Sy verbond aan hom bekend sal maak, sodat hy blaamloos met God die pad kan stap (vers 11-15). Laat my dink aan Jesus wat vir sy dissipels gesê het, dat hulle nou sy vriende is, en dat Hy aan hulle alles bekend maak wat die Vader vir Hom gesê het (Joh 15:15).

Maar skuldbelydenis alleen kan nie sy situasie herstel nie. Hy het ook nodig dat God ingryp en hom van sy vyande verlos (vers 16-20). En die toppunt van sy gebed is dat hy vra dat onskuld (of integriteit) en opregtheid oor hom die wag sal hou, want op U vertrou ek (vers 21).

Boodskap en betekenis

Daar is dus ’n manier van lewe binne die gevaar van vyandigheid – hetsy persoonlik of in oorlog – waar dit ironies genoeg juis onskuld/integriteit en opregtheid is wat jou beskerm. Dit is soos twee karperde wat jou in die regte rigting trek. Dit is ook juis die dinge wat die Here se aandag trek – integriteit en opregtheid – en wat Hom betrek by die praktyk van ons lewe. Laat my dink aan Daniël wat op dié manier selfs ’n leier in ’n vreemde land en kultuur geword het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar