Skip to main content

Jesaja 18-20

God laat nie sy droom vaar nie

In Jesaja 18 verskuif die fokus na ‘n orakel teen Kus (ook genoem “Ethiopië”). Die orakel beskryf ‘n ver land wat desperaat gesante uitstuur om bondgenote te vind, maar teleurgestel word. In Jesaja 19 oorrompel Jahwe die gode van Egipte, maar interessant genoeg, bewerk daarmee ‘n eenheid tussen Egipte, Assirië en Israel!  Jesaja 20 vertel dan in die derde persoon die vreemde verhaal van Jesaja se liggaams-profesie wat ook ’n woord teen Ethiopië en Egipte was, en die orakels teen die twee volke versterk het.

Teks en konteks

Jesaja 18

Die Bybel praat min van Kus (Gen 2:13), wat ons vandag ken as Ethiopië en die Noord-Soedan. In Jesaja se tyd was daar ’n Ethiopiese koning, Sabako, in Egipte op die troon wat waarskynlik die profesie tot gevolg gehad het.

Die riviere van Kus verwys na die Wit en die Blou Nyl wat die twee belangrikste sytakke van die Nyl is. Die Blou Nyl ontspring in die Tana meer in Ethiopië en sluit by Khartoem in die Soedan by die Wit Nyl aan en vorm daarna die Nyl wat uitmond in Egipte. Die Wit Nyl kom van die Victoria meer af verder suid tussen Kenia, Tanzanië en Uganda.

Dit wil voorkom of die Ethiopiërs (lang mense met die blink [of gladde] velle) Juda in dié tyd nader as bondgenote teen Assirië (ongeveer 715 vC) en dat Jesaja hulle aanspreek om liewer terug te keer. Die Here is immers in beheer vanuit sy hemelse woonplek (vers 4) en sal die wingerdlote van Assirië afsny en weggooi (vers 5-6).

Interessant genoeg voorsien Jesaja ’n tyd waar hulle sal luister en die Here sal dank vir sy redding.

Ethiopië was dan ook die eerste landstreek in Afrika waar die evangelie geglo is en ’n kerk tot stand gekom het in die Nuwe Testamentiese tyd (Hand 8).

Jesaja 19

Ek moet sê dié hoofstuk het my verstom. Dit begin met ’n uitspraak van die Here teen Egipte, en eindig met ’n visie op ’n eenheid tussen Assirië, Egipte en Israel wat saam die Here dien! Die droom van Jesaja 2 gaan beslis nie lê nie!

Egipte word in die orakel veral ekonomies getref deur Jahwe wat in Egipte aankom met al die woede en prag van ‘n Semitiese stormgod. Die beeld van Jahwe wat op ‘n wolk ry, is ‘n algemene poëtiese motief vir gode wat ook in Ugaritiese literatuur voorkom, waar bv die god Baal die “ruiter van die wolke” genoem word.

Ons sien hier dus hoe hierdie orakel Jahwe se heerskappy bevestig oor die gode in taal wat aan die gode herinner.

Op dié punt in die orakel – Jesaja 19:16-25 met sy die sesvoudige herhaling van “in daardie dag” – spoel die aanbidding van God oor die grense van die hele Midde-Ooste en steek ‘n verwagting in ‘n mens aan dat ons dié droom se verwesenliking tog eendag in sy volheid sal sien!

Vrees verander na bekering, en bekering na bevryding met die verrassende aanvaarding van Egipte en Assirië as deel van Jahwe se uitverkore volk.

Jesaja 20

Aan die einde van hierdie twee orakels is daar die vreemde verhaal van Jesaja se liggaams-profesie wat ook ’n woord teen Ethiopië (Kus) en Egipte was, en die orakels in die voorafgaande hoofstukke 18-19 teen die twee volke versterk het.

Jesaja word beveel om kaal rond te loop – waarskynlik in sy onderklere, aangesien die woord wat hier gebruik word (‘arom) soms “naak” kan beteken, maar hier bloot “liggeklee” kan beteken, dit wil sê, tot sy onderklere gestroop – en kaalvoet soos ‘n krygsgevangene wat in ballingskap gelei word.

Hierdie optrede word in die tyd van Sargon van Assirië (722–705 vC) geplaas. Dit is waarskynlik in 711 vC, die datum wat in Sargon se amptelike annale opgeteken is. Die Filistynse Asdod het in dié tyd teen Assirië in opstand gekom deur te weier om belasting te stuur en is weer aan hulle onderwerp.

Let daarop dat daar na die profeet in die derde persoon in hierdie verhaal verwys word. Jesaja se dissipels het dalk hierdie episode uit Jesaja se loopbaan opgeteken.

Boodskap en betekenis

Soos ons in Jesaja 16-17 gesien het, “kerm” die Here se hart in sy binneste as Hy sy oordeel moet uitvoer. Dieselfde geld hier in Jesaja 18-20. Meer nog, die Here sorg dat sy oordeel tot bekering lei en die opstandige nasies van Ethiopië, Egipte en selfs Assirië deel van sy volk word.

Die “dag van die Here” is vir seker verwoestend, maar tog ook vernuwend, want daardeur kry Hy dit reg dat mense oor alle grense van die hele Midde-Ooste van Hom kennis neem, en uiteindelik die knie voor Hom buig en Hom aanbid.

Die drie hoofstukke, veral hoofstuk 19, steek ‘n verwagting in ‘n mens aan dat ons dié droom se verwesenliking tog eendag in sy volheid sal sien!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar