Jeremia 38
Jeremia ly in die put totdat Sedekia hom raadpleeg
Die lyding van Jeremia neem in hoofstuk 38 toe met ’n weifelende Sedekia wat eers toelaat dat Jeremia in ’n put gegooi word, voordat iemand hom darem oor Jeremia ontferm (38:1-13). Daarna vra Sedekia weer raad by Jeremia, raad wat hy soos sy gewoonte nou al is – tot sy skade en dié van sy volk – nie volg nie (38:14-28).
Teks en konteks
Jeremia 38:1-13 – Jeremia word gered deur ‘n ontmande Ethiopiër
In ’n opvolgaksie teen Jeremia deur vier van Sedekia se amptenare, Sefatja, Gedalja (die latere goewerneur wat vermoor sou word), Jukal en Pasgur – almal geswore vyande van Jeremia – word Jeremia met Sedekia se goedkeuring (“Hy is in julle mag, ek kan julle nie keer nie”) in ’n put in die binneplaas van die paleiswag gegooi. Hulle het hom beskuldig van verraad deurdat hy die volk aangeraai het om oor te loop na die Galdeërs: “Hy sal sy lewe red, al sal hy net met sy lewe daarvan afkom.”
Hulle was bekommerd dat dit die volk en veral die soldate negatief sou beïnvloed: “Hierdie man wil nie die volk help nie, hy wil hulle benadeel.” Sedekia se goeie guns aan Jeremia deur vir hom brood te verskaf van Bakkerstraat af was dus kortstondig.
Jeremia het in die modder onder in die put ingesak en die gevaar geloop om te sterf. Gelukkig het ’n ontmande Kussiet (waarskynlik van Ethiopië), Ebed-Melek, hom oor Jeremia ontferm en Sedekia om genade gesmeek. Ironies genoeg sit Sedekia by die Benjaminpoort, waarskynlik besig om reg te spreek in sake tussen lede van die volk in Jerusalem.
Sedekia doen egter die regte ding en stuur 3 man (sommige manuskripte en die LXX sê dit was dertig man) saam met Ebed-Melek (“slaaf van die koning”) om Jeremia te help. Hulle het Jeremia uitgetrek met toue en stukke klere onder sy armholtes. Jeremia was nie klein nie, wil dit voorkom, óf hy het, meer waarskynlik, beskerming nodig gehad!
Daarna kon hy weer in die binneplaas bly, hoewel daar nie meer brood oor was in die stad nie en hulle almal regtig begin honger ly het. Bakkerstraat het dus ook nie meer vir Jeremia gewerk nie.
Interessant genoeg, argeologiese opgrawings wat in Jerusalem gedoen is, het twee “kleibullae” (seëlafdrukke wat as “handtekeninge” gedien het) met die name van Gedalja, seun van Pasgur en Jehukal, seun van Selemia, onderskeidelik daarop ontdek. Die ontdekkings is onderskeidelik in 2008 en 2005 gemaak. Beide seëlafdrukke blyk uit die tyd van Sedekia te dateer en bied buite Bybelse bewyse van die bestaan van hierdie amptenare (Faithlife Study Bible).
Jeremia 38:14-28 – Sedekia volhard in sy weiering om na die Here te luister
Sedekia was duidelik uiteindelik erg geraak deur die hongersnood en die dreigende ballingskap, want in dié verhaal sit hy by die derde ingang van die tempel en laat Jeremia haal om verder met hom te praat. ’n Mens sou wou sê, in plaas daarvan om soos sy voorouers die tempel binne te gaan en die Here om genade te smeek!
Sedekia weet egter die einde is in sig, maar is steeds meer bekommerd oor sy eie lot as oor dié van sy mense en wil by Jeremia weet wat hom te doene staan.
In ’n kostelike interaksie kry Jeremia Sedekia eers sover om te sweer dat hy Jeremia nie iets sal aandoen nie: “As ek dit doen, sal u my beslis doodmaak, en as ek u raad gee, sal u nie na my luister nie.” Hoe waar! Sedekia gee egter die onderneming, en Jeremia spel dan ’n pad van hoop vir Sedekia uit. Dit sou beteken dat Sedekia hom aan Nebukadnesar sou moes oorgee, soos sy voorganger en broerskind, Jojagin, gedoen het.
Ongelukkig steur Sedekia hom nie daar aan nie, waarskynlik weens ’n kombinasie van ’n swak en weifelende karakter – hy is selfs bang vir dié Jode wat reeds oorgeloop het na die Galdeërs, kan jy nou meer – sowel as ’n domastrante hoogmoed.
Ons kry ’n kykie in hoe die Here met Jeremia gewerk het, want hy probeer die koning oortuig om die Here te glo: “dit is wat die Here my laat sien het …” Die Here het Jeremia dus waarskynlik ’n visioen gegee van wat wag aan die einde van die beleg. Hy gebruik ook ’n digterlike beskrywing van die misleiding van die koning se gewaande vriende wat “hom van die wal in die sloot gehelp het.” Pragtig vertaal!
Sedekia kan homself egter net nie sover kry om te luister nie, en maak Jeremia stil met ’n opmaak storie vir sy amptenare. Die gevolg van Sedekia se weiering om na die woord van die Here te luister, is egter dat hy ’n vernederende dood ly soos Kronieke en Konings dit beskryf, en Jeremia in die volgende hoofstukke (hfst. 39-40) grafies sal uitspel.
Jeremia word darem ná die beleg van Jerusalem begenadig en vrygelaat deur Nebukadnesar, hoewel hy daarna tog uiteindelik weens die anargie in die land moes vlug na Egipte toe en sy laaste woorde in Tagpanges (vandag Tel Defne, aan die Menzalameer in Noord-Egipte) geuiter het, woorde téén Egipte!
Boodskap en betekenis
In hierdie hoofstuk word die weifelende en besluitelose karakter van Sedekia op grafiese wyse geteken. Hy gee in dat Jeremia se vyande hom byna doodmaak, en gee gelukkig ook in dat een van Jeremia se min “vriende” hom van ’n seker dood in die put red. Selfs toe die Here vir hom ’n visioen gee deur Jeremia, kan Sedekia homself nie sover kry om die Here op sy woord te neem nie. Hoe tragies!
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.