Skip to main content

Nehemia 10

Die geloofsgemeenskap verbind hulle aan die Here met ’n skriftelike ooreenkoms en ’n plegtige eed

Ons lees vandag hoofstuk 10 wat oor die tweede fase van die deurslaggewende herverbintenis aktiwiteite van dié dag handel.

Die herverbintenis van die volk sluit die volgende drie hoof sake in:

  • ‘n Skriftelike ooreenkoms van hulle verbondsverbintenis – Nehemia 9:38-10:27
  • ’n Plegtige eed wat hulle aflê om dié verbintenis na te kom – Nehemia 10:28-29
  • Sewe verbondsvoorwaardes waaraan hulle hul verbind – Nehemia 10:30-39

Teks en konteks

 ‘n Skriftelike ooreenkoms van hulle verbondsverbintenis – Nehemia 9:38-10:27

Die leiers van die geloofsgemeenskap, wat uiteraard die priester en Leviete ingesluit het, het dié skriftelike ooreenkoms voor die Here aangegaan om Hom alleen te dien. Nehemia stel vir hulle die voorbeeld deurdat sy naam heel eerste neergeskrywe staan op die dokument. Die volgende persoon, Sedekia, was waarskynlik een van sy amptenare, waarna 21 priesters genoem word, sowel as 17 Leviete en 44 ander leiers. Sommige is die name van individue terwyl ander familie name aandui.

’n Plegtige eed wat hulle aflê om dié verbintenis na te kom – Nehemia 10:28-29

Die hele geloofsgemeenskap verenig hulle in die aflê van ’n plegtige eed waarin hulle die skriftelike ooreenkoms bevestig. Dié eed se funksie was om te verklaar dat die voorwaardes van die verbondsooreenkoms op hulle van toepassing is. Hulle verklaar nie net dat hulle die wet van God sal gehoorsaam in al sy bepalings en voorskrifte nie, maar doen dit as gemeenskap wat hulle van die heidenvolke afgeskei het.

Sewe verbondsvoorwaardes waaraan hulle hul verbind – Nehemia 10:30-39

Vervolgens spel hulle die sewe spesifieke verbondsvoorwaardes uit waaraan hulle hul sal hou. Die eerste drie is dinge wat hulle sal vermy en die volgende vier dinge wat hulle onderneem om te doen.

Dinge wat hulle sal vermy:

  • Die eerste onderneming is in lyn met die eedswering – dat hulle nie ondertrouery in die geloofsgemeenskap met die heidenvolke sal toelaat nie.
  • Die tweede onderneming is om die Sabbat te heilig deur geen handel daarop te dryf nie, selfs nie met die heidene as dié dit sou probeer doen nie.
  • Die derde onderneming is om die sabbatsjaar na te kom waarop grond braak laat lê word en alle skulde kwytgeskeld word (Eks. 23:10-11; Lev. 25:2-7). Met die muurbouery het hulle al deels hieraan gehoorsaam geraak (Neh. 5).

Al drie hierdie ondernemings is beskerm maatreëls vir ’n gesonde gemeenskapslewe waarmee hulle sorg dat daar nie vreemde godsdienstige invloede die familielewe binnedring nie en ’n gesonde ritme tussen werk en rus vestig vir almal in die gemeenskap, iets waaraan ons vandag groot nood het, al vier ons nie meer die Sabbat op dieselfde manier nie.

Dinge wat hulle onderneem om te doen:

  • Die vierde onderneming is om gereelde dankoffers te gee vir die dienswerk in die huis van God. In die Hebreeus word van “’n derde deel van ’n sikkel” gepraat, ongeveer 4 gram, wat nie noodwendig goud was nie, maar ook silwer kon wees. Terloops, indien dit wel 4 gram goud was, sou dit ongeveer R7 000 beloop het teen die huidige goudprys en wisselkoers. Daar was ook ander sulke “tempelbelastings” soos ons in Eks. 30:10-11 lees. In Moses se tyd was dit ’n halwe deel van ‘n sikkel, omtrent 5-6 gram. Interessant genoeg, in Matt. 17:24 lees ons dat Jesus hom aan die wet gehou het en die tempelbelasting betaal het met ‘n hele silwermuntstuk vir hom en vir Petrus, presies soos die wet dit beveel (nogal uit die bek van ’n vis!).
  • Die vyfde onderneming is om brandhout te verskaf vir die altaar in die tempel wat op ’n vasgestelde tyd in die jaar gebeur het, volgens ’n roterende loting.
  • Die sesde onderneming is om die eerstelinge van hulle gesaaides en vrugtebome op ’n jaarlikse basis te gee. Dit sluit die eersgebore seuns in – wat losgekoop kon word vir 5 gram silwer, ’n jaar se tempelbelasting (Eks. 13:13; 34:20). Hulle het ook die eerstelinge van al hulle diere en daarby nog van hulle deeg, wyn en olie (vir die priesters) en ’n tiende van hulle gesaaides se oeste (vir die Leviete – vgl. Num. 18:21) geskenk. Die Leviete was verantwoordelik vir die insameling van die tiendes, onder begeleiding van ’n priester. Die rede daarvoor was dat van dié tiendes weer ’n tiende na die huis van die Here moes kom vir die priesterlike werk.
  • Die sewende onderneming is ’n algemene verklaring dat hulle die huis van hulle God nie sal verwaarloos nie.

Boodskap en betekenis

Hierdie voornemens beteken natuurlik dat die Jode nou verantwoordelikheid begin neem het vir die tempel, eerder as die Persiese konings. Iets wat natuurlik tot vandag toe ’n gebruik in die kerk is: dankoffers vir die instandhouding, administrasie en bediening.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…