Skip to main content

Jeremia 37

Die Galdeërs sal Jerusalem verbrand

Dit help nogal om die orde waarin die verhale waarby Sedekia betrokke is, geskrywe is, in gedagte te hou. Die verhaal van hoofstuk 32-33 van die grondkooptransaksie (en daarmee natuurlik hoofstuk 30-31 se beloftes ook) pas eintlik tussen die verhale van Jer. 37:1-10 en Jer. 37:11-21 in, waarna die einde van Sedekia se regering in Jer. 38-39 vertel word. Dit vind dus alles in die voorlaaste regeringsjaar van Sedekia plaas, sy 10de.

Teks en konteks

Jeremia 37:1-10 – Die Galdeërs sal teen hierdie stad veg, dit inneem en verbrand

Sedekia se regering word in dié deel geteken as een waarin ongehoorsaamheid aan die Here die botoon voer: “(Hy) het nie geluister na wat die Here vir hulle gesê het deur die profeet Jeremia nie.” En dit is nie net hyself nie, ook sy amptenare en die landsburgers.

Sedekia wend wel ’n poging aan dat Jeremia vir hulle moes bid, veral toe dit lyk asof die druk van hulle vir ’n oomblik gewyk het met die vertrek van die Galdeërs agter die Egiptiese leër aan. Maar die Here het Sedekia geantwoord dat die Galdeërs hulle nie sal los nie, al was daar nou hierdie kort tydjie wat die Egiptiese bedreiging die Galdeërs se aandag geverg het en Jerusalem ’n blaaskans geniet het: “Die Galdeërs sal omdraai en teen hierdie stad kom veg en dit inneem en verbrand.”

Die oordeel oor die stad staan dus vas.

Jeremia 37:11-21 – Jeremia word effens begenadig deur die koning

Net na die onvergelyklike hoopvolle prentjie wat Jeremia skets van die nuwe bedeling wat God ná die ballingskap sal laat aanbreek (Jer. 30-31), koop Jeremia in dieselfde jaar, dit is die 10de regeringsjaar van Sedekia, ’n stuk grond as bevestiging van sy boodskap dat die ballingskap in die toekoms omgekeer sal word (Jer. 32-33).

Jeremia wou die stad uit om te gaan kyk na die nuwe aanwins in Anatot, maar ’n kleinseun van Gananja, die geswore vyand van Jeremia, keer hom en laat Jeremia slaan en opsluit in die staatsekretaris Jonatan se huis, wat in ’n tronk verander is, met die beskuldiging: “Jy loop oor na die Galdeërs toe.” Daar is Jeremia uiteindelik in ’n put met sytonnels gesit waar hy lank gebly het.

Sedekia was egter nie klaar met Jeremia nie en laat hom haal in die geheim om te vra vir ’n woord van die Here. Jeremia herhaal net wat hy die hele tyd beklemtoon: “Jy sal in die mag van die koning van Babel uitgelewer word.”

Jeremia pleit egter in dié gesprek om ’n genadiger hantering deur Sedekia, want hy begin vrees dat hy in die tronk van honger sou sterf. Hy het immers nie ’n misdaad gepleeg nie en sy woorde het – anders as die valse profete s’n – bewaarheid geword. “Ek wil nie daar sterf nie!” sê Jeremia.

Sedekia staan hierop Jeremia se versoek om vrylating toe en laat hom verder aanhou in die binneplaas van die paleiswag en laat boonop vir hom elke dag brood aflewer uit Bakkerstraat (kan jy nou meer!) totdat die stad se brood op was.

Boodskap en betekenis

Dit tref my dat Sedekia nie uiteindelik van gedagte kan verander nie. Hy sien die skrif aan die muur. Hy weet hulle dae is getel. Tog kan hy net nie homself so ver kry om die Here te begin vertrou nie, selfs nie al antwoord die Here hom op wat hy vra nie. In hoofstuk 38 sal dit nog duideliker blyk.

Dit tref my ook dat daar ’n klein stukkie genade vir die profeet van die Here is. Ten spyte van die geweldige teenstand en verguising van sy vyande en die onregverdige behandeling deur die amptenare, verskaf die Here deur koning Sedekia vir Jeremia brood, amper soos die kraaie vroeër vir Elia brood by die Kritspruit gebring het (1 Kon. 17). Dit verlig die intense lyding wat Jeremia moet deurstaan, al is dit net ’n klein stukkie genade, ’n bietjie brood uit Bakkerstraat.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…