Skip to main content

2 Kronieke 19

Josafat beveg korrupsie met regters van integriteit

Josafat word met sy terugkoms na Jerusalem deur die profeet Jehu, seun van Ganani, berispe vir sy dwaasheid om met Agab saam te span, maar ook geprys vir die goeie dinge wat hy gedoen het. Al moes dit swaar gewees het om van God se oordeel te hoor, fokus hy daarop om die Here verder nougeset te dien. Die eerste groot saak wat hy aanpak is om die korrupsie in die land te beveg deur regters van integriteit aan te stel.

Teks en konteks

Let op met hoeveel moed Jehu, die seun van die profeet Ganani, teenoor Josafat, die koning van Juda, optree, ten spyte van die leed wat Josafat se pa, Asa, Jehu se pa, Ganani, berokken het. Hy het “in sy gesig” die oordeel van die Here aangekondig oor sy hulp vir die goddelose Agab. Josafat moes nooit geval het vir die verleiding om “dié wat die Here haat”, lief te hê nie. Dit bring jou eie gehoorsaamheid aan die Here in die gedrang.

Wat my tref van die boodskap is dat dit beide bestraffend as bevestigend is. Die oordeelsfout van Josafat word ernstig aangespreek, maar die goeie dinge wat hy gedoen het, word hom ook ten goede gereken.

Die Here is dus ook positief oor die feit dat Josafat die asjeras uit die land uitgeroei het en steeds sy hart daarop gerig het om God te soek. Daarvoor prys die Here vir Josafat deur die bediening van die siener Jehu en bemoedig hom om te volhard deur “opgewonde” te wees oor die weë van die Here.

Wat ons uit Josafat se verdere optrede kan sien, is dat hy regtig ’n koning was wat omgegee het vir sy mense. Dit is die motivering agter sy besoek aan sy mense regdeur sy grondgebied van Berseba in die suide tot die Efraimsberge in die noorde. En die een sleutel hervorming wat hy in dié tyd aanbring is die aanstel van regters, ook in Jerusalem, wat die regspraak “vir die Here” moes doen, omdat daar by Hom nie onreg, bevoordeling en korrupsie is nie. Hulle uitsprake moes dus onpartydig wees waardeur hulle volksgenote ook gewaarsku moes word om spesifiek nie teen die Here te oortree nie.

Die regters is aangestel uit die Leviete, priesters en familiehoofde met twee “hoofregters”, Amarja,  as hoëpriester wat die hoogste gesag (’n soort appèlhof) was vir alle geestelike sake, en Sebadja,  as hoogste gesag vir alle sake van die koning (wat internasionale en politieke sake sou insluit).

Hulle opdrag was om onwrikbaar sterk te staan in hulle regspraak met ontsag vir die Here, en hulle plig met betroubaarheid en onverdeelde harte te doen in die verwagting dat die Here aan die kant van die goeies is.

Boodskap en betekenis

Josafat se verhaal leer ons soveel dinge. Dat ‘n mens die vermaning van die Here sowel as sy bemoediging ter harte moet neem; dat ‘n mens die gety van korrupsie kan omkeer deur die regte mense aan te stel; dat ‘n mens die Here moet vertrou dat Hy “aan die kant van die goeies” is. Veral laasgenoemde inspireer my, tesame met die herinnering dat Josafat “opgewonde” was oor die weë van die Here. Ek dra dié twee aspekte in my eie lewe in.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar