Skip to main content

2 Konings 9

Jehu keer dat die duisternis die lig oorweldig deur in opdrag die Omri-dinastie uit te wis

Die fokus skuif terug na Jehu in die Noordryk in 2 Konings 9-10 (28 jaar regeer – 841-814 vC). Elisa salf Jehu in die naam van die Here om die huis van Agab, die Omri-dinastie, te vernietig. Jehu maak Joram, koning van Israel, dood en beveel dan sy boogskutters om ook vir Ahasia, koning van Juda, te skiet. Jehu laat Isebel ook in Samaria deur haar eie eunugs teregstel, ‘n vervulling van Elia se vloek teen haar (1 Kon 21:23). Waarna hy die troon in Israel bestyg.

Teks en konteks

Elisa se opdrag aan die profeet om onmiddellik te vlug, is moontlik om te keer dat hy vasgevang word in die konflik, wat ook die rede kon wees dat Elisa nie self gegaan het nie.

Ons sien dit ook in die bevel van Jehu in vers 15 dat niemand uit Ramot mag wegkom nie. Dit was waarskynlik om te keer dat die nuus oor sy koningskap te vinnig versprei. Dit kon gevolglik die profeet se dood beteken het as hy daar vertoef het.

Jehu wou die voordeel van verrassing gebruik in sy veldtog teen die twee swaers, Joram van Israel en Ahasia van Juda wat “Godsvallig” saam was na die nederlaag in die oorlog teen Gasael.

Wat verrassend is vir my in die gedeelte, is die gemak waarmee die ander generaals Jehu se salwing as koning aanvaar. ’n Mens wonder hoekom? Moontlik is dit vanweë die samesprekings wat hulle daar gehou het en wat heel moontlik oor ontevredenheid oor die koningshuis gegaan het.

Jehu was nou werklik nie ’n kat wat jy sonder handskoene aanvat nie: “hy dryf soos ’n mal mens”! (vers 20). Beide konings van Juda en Israel, Ahasia en Joram, bly in die slag op dieselfde dag, weens die oordeel wat oor die huis van Agab uitgespreek is.

Let op dat die oordeel ook aan die verhaal van Nabot verbind word. Trouens dit gebeur op die einste stukkie grond!

Dit is daarom ook gepas dat Isebel, die aanstigter van Nabot se moord, in die slag bly, grimering en al.

Let tog op met hoeveel bravade sy optree, en Jehu se koningskap met dié van die 7-dag-lange-regeerder Simri vergelyk. Maar haar eunugs het haar deur haar venster na benede gegooi dat haar bloed teen die mure spat, en die honde het haar verslind … in vervulling van God se woord.

Boodskap en betekenis

Die 44 jaar van die afvallige Omri-dinastie (885-841 vC) in die Noordryk van Israel was uiteindelik op ‘n einde (Omri: 12 jaar – 885-874 vC; Agab: 22 jaar – 874-853 vC; Ahasia: 2 jaar – 853-852 vC; Joram: 12 jaar – 852-841 vC). Ses jaar later sou hulle impak ook in die Suidryk van Juda gebreek word met die opstand teen Atalia, dogter van Agab, waarna Jehoas koning sou word.

Dit was altesame vyftig jaar van duisternis op geestelike gebied wat gedreig het om die lig van die Messiaanse lyn uit te doof. Maar, soos Johannes ons in sy Evangelie herinner, die duisternis kan nie die lig oorweldig nie (Joh 1:5). Daarop kan ons ook in ons tyd reken.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar