Skip to main content

Openbaring 2

Die eerste vier briewe aan die sewe gemeentes

Die Here Jesus dikteer vervolgens aan Johannes sy onderskeie boodskappe aan die sewe gemeentes. Telkens lui die opskrif van die (brief)boodskappe: “Skrywe (ook) aan die engel van die gemeente in …” Die term engel val op, want dieselfde woord as dié vir engel in Openbaring 1:1 word gebruik. Hier is dit egter nie die engel van Jesus Christus nie, maar die engel of boodskapper van die gemeente, d.w.s. die leier, leraar of voorganger van die gemeente, soos dit in baie vertalings weergegee word.

Meesal word die boodskapper in die enkelvoud aangespreek wat die boodskap oordra dat die leierskap in die gemeente ’n baie spesifieke verkondigingstaak het, ’n taak wat die Here self aan hulle opgelê het en waaraan Hy hulle getrouheid, al dan nie, meet.

Maar dit is darem ook duidelik dat die boodskap vir die hele gemeente bedoel is, soos dit ook eksplisiet in die brief aan Tiatira vermeld word (Openb. 2:23-24) en elke keer aan die einde van ’n brief meervoudig geïnterpreteer word: “luister na wat die Gees aan die gemeentes.” Elke boodskap bevat ook elemente wat eintlik op alle gemeentes van toepassing is (Openb. 2:23).

Die opskrif van elke brief aan ’n gemeente maak dit egter duidelik dat daar ’n dure plig op dié in leierskap rus om hulle begeleidingsrol – soos deur die Here aan hulle toevertrou – met oorgawe te vervul.

In vier van die briewe – aan Efese, Pergamum, Tiatira en Sardis – word gefokus op ’n eerlike beoordeling van die sterk en swak punte van die gemeentes, en word hulle begelei met vermanings en voorstelle hoe om te luister na wat die Gees sê en hulle lewens daarom heen in te rig. In twee van die briewe – aan Smirna en Filadelfia – word hulle net geprys en in een brief – aan Laodisea – word hulle net bestraf.

Teks en konteks

Die boodskap aan Efese: “Herontdek julle eerste liefde” – Openbaring 2:1-7

Die stad Efese

Die stad Efese (naby Selçuk) was nie net die belangrikste stad in Wes-Turkye nie, maar het ook die belangrikste gemeente in daardie geweste gehuisves. Die gemeente is deur Paulus op sy tweede (Hand. 18) en derde sendingreis besoek (Hand. 19). Hy het ook ‘n brief aan hulle uit die tronk in Rome geskryf.

In daardie tyd was Efese ‘n hawestad aan die rivier Cayster wat ongelukkig mettertyd toegeslik het. Dit was ‘n groot handelsentrum waar die Romeinse goewerneur gebly het. Vier handelsroetes het daardeur gegaan. Daar was ook ses tempels wat die keisers vereer het. Efese was bekend as die “lig van Asië”. Veral die tempel van Artemis (Diana in Latyn) was besonders. Trouens, dit was een van die sewe wonders van die antieke wêreld. Ons lees in Handelinge 19 van die konflik wat ontstaan het rondom haar afgodsbeeldjies.

Beskrywing van Jesus

Soos met elke brief begin Jesus in die eerste plek met ‘n beskrywing van Homself. Dit is waar alles in die geestelike lewe begin. By God wat Homself aan ons openbaar.

Let op dat Jesus beskryf word as die Een wat rondbeweeg tussen die gemeentes!

Jesus is teenwoordig, ook nou hier in hierdie gemeente. Hy weet wat aangaan. En Jesus hou hulle vas! Dit is een van die belangrikste dinge wat ons van Jesus moet weet, dat Hy ons nie gelos het nie, maar steeds voortgaan om vir ons in te tree, ons te begelei, en aan ons die belofte gee dat Hy nie net ONS geloof sal voleindig nie, maar DIE geloof, soos die Hebreërskrywer dit vir ons verseker (Hebr. 12:2).

Beskrywing van die gemeente

Die tweede ding wat ‘n mens in die brief raaksien, is dat die uitstaande kenmerk van die voorganger, en daarom ook van die gemeente, was dat hulle nougeset gedoen het wat God vra en veral sorg gedra het dat alles leerstellig suiwer gebeur.

Hulle het nie moeg geword om te stry vir die oorgelewerde waarheid van die evangelie nie. Hulle het groot volharding aan die dag gelê ter wille van die waarheid van en oor die Here Jesus Christus.

Geen wonder nie, want dit is waar Paulus-hulle vir drie jaar bedien het op sy derde sendingreis (Hand. 20:31). Dit is waar hy die eerste brief aan Korinte geskryf het (1 Kor. 16:8-9). Dit is waar Timoteus sy tande geslyp het in die bediening (1 Tim. 1:3). Dit is waar Maria, Jesus se moeder, volgens oorlewering gewoon het. Dit is waar die skrywer van Openbaring, Johannes, gebly en bedien het. Dit is waar die slaaf Onesimus (vgl die brief aan Filemon) later ‘n biskop geword het, soos die kerkvader Ignatius ons vertel.

Dit was ‘n uitstaande gemeente. Daarom het die gemeente vals apostels uitgewys in die geledere van die ander apostels in diens van die Here Jesus, die reisende sendelinge van daardie tyd. Soos ‘n mens uit Paulus se briewe agterkom, het hulle meer as hulle kwota sodanige apostels gehad (Ef. 4:14; 1 Tim. 1:3-4), maar hulle kon hulle verset teen die vals apostels omdat Paulus hulle daarvoor toegerus en teen dwaalleraars gewaarsku het (Hand. 20:29-31).

Hulle het daarom ook – soos God – die Nikolaïete se dade gehaat (vers 6). Uiteraard nie die mense self nie, maar wel hulle dade.

‘n Bietjie agtergrond oor die Nikolaïete

Die Nikolaïete – wat ook in Pergamum ‘n probleem was (Openb. 2:15) – was mense wat godsdienstige en sedelike kompromieë met hulle omgewing aangegaan het.

Die leringe kan moontlik verbind word met Nikolaus, een van die eerste diakens. Lukas sê van hom dat hy: “van Antiogië afkomstig was en vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het.” (Hand. 6:5).

Die kerkvaders Irenaeus en Hipolitus het Nikolaus aan die leer van die Nikolaïete verbind. Klemens van Alexandrië het egter daarmee verskil en gesê dit was nie Nikolaus self nie, maar sy volgelinge wat dié dinge gedoen het.

Of dit dus hyself of sy volgelinge was wat dié leringe versprei het, die punt is dat dit gebeur het. En hulle het hulle verset teen die reël wat die “sinode” in Jerusalem neergelê het, soos ons in Handelinge 15 lees.

Ons lees daarvan in die eerste kommentaar op Openbaring waarin die skrywer Victorinus van Pettau – die vader van die herkapituleringsteorie – vermeld dat die Nikolaïete hulle spesifiek téén die reëling van die kerk in Jerusalem verset het dat offervleis nie geëet mag word en bloed nie gedrink mag word nie (Hand. 15).

Wat hierdie inligting nog meer belangrik maak, is dat die Nikolaïete aan die leringe van Bileam verbind word in die brief aan Pergamum. Daar skryf Jesus dat die Nikolaïete hulle op dieselfde manier as die Bileamiete gedra (Openb. 2:15). Dit maak dit waarskynlik dat Isebel deel van die Nikolaïete en Bileamiete was, omdat sy presies dieselfde dinge gedoen het in Tiatira as wat Bileam in die OT en die Nikolaïete in die NT gedoen het.

Die gemeente in Efese het egter sterk gestaan teen hierdie afvalligheid. Hulle het mekaar onderling vermaan en gewaarsku en kon ‘n reguit pad stap ten spyte van die geweldige uitdaging van die losbandige en goddelose gemeenskap waarbinne hulle moes leef, selfs binne die kerk. Hulle het ‘n suiwer leer en ‘n suiwer moraliteit gehandhaaf.

Beskrywing van hulle dwaling

Daar was dus tog ‘n probleem, sê Jesus. En dit was groter as al die ander uitstaande kenmerke van die gemeente saam. Die voorganger en die gemeente het hulle eerste liefde verlaat.

In die weegskaal van die Here Jesus het al die goeie dinge nie swaar genoeg geweeg nie.

Hulle dade, hulle inspanning, hulle volharding, hulle onverdraagsaamheid teenoor slegte mense, hulle toetsing van gewaande apostels en die uitwysing van hulle valse leer, en hulle volharding ter wille van die Here Jesus se Naam waarin hulle baie verduur het sonder om moeg te word, was wonderlik.

Maar, wat swaarder geweeg het as al hierdie dinge was die feit dat hulle God nie meer so lief gehad het soos by die begin van hulle Christelike lewe nie.

Die gemeente van Efese se leer en lewe was dus onberispelik, hulle het volhard onder moeilike omstandighede, hulle het suiwerheid in leer en ‘n onberispelike morele lewenswandel nagejaag, maar hulle het hulle entoesiasme en Gees-drif verloor.

Hulle was baie besig met die dinge van die Here, maar nie meer so baie met die Here van die dinge nie.

Die waarheid is, waar die liefde vir God vervaag, kan die liefde vir die gemeente en die liefde vir ‘n verloregaande wêreld nie volgehou word nie. Jou geestelike energie en motivering kan nie kom uit dié dinge waartéén jy is nie, maar moet kom uit dié dinge waarvóór jy is.

Boodskap en betekenis

Wat is Jesus se boodskap dan vir dié gemeente wie se goeie eienskappe nie genoeg weeg in sy weegskaal nie?

Jesus se boodskap is: ontdek weer jou eerste liefde.

Hoe doen ‘n mens dit?

Jesus sê, daar is drie dinge wat jy kan doen.

  1. ONTHOU: Kom tot stilstand en laat die verhale van jou eerste entoesiasme vir die Here weer jou gedagtes volmaak.

Onthou “waarvandaan jy uitgesak het en bekeer jou: Gaan doen weer wat jy vroeër gedoen het.” Laat die herinnering aan daardie eerste liefde van God jou motiveer om tot inkeer te kom en weer die dinge te doen wat jy vroeër gedoen het.

  1. BEKEER JOU van jou foutvindery, en vind jouself weer aan die voete van jou Leermeester, die Een wat jou liefhet, en wie se woorde jou hart aanvanklik geroer het.

Daar is só baie vandag wat ons hare laat rys. Dinge in die politiek. Dinge in die ekonomie. Dinge in die media. Dinge in die kerk. En ons moet daaraan aandag gee.

Maar, ‘n mens groei in die rigting waarop jy fokus. As jy op die pad van foutvindery uit is, gaan jy al hoe meer foute raaksien. Daarvan moet ons tot bekering kom.

Daarom sê Jesus:

  1. DOEN WEER die dinge wat jy aan die begin gedoen het.

Só herstel jy die verhouding met die Here, raak jy weer lief vir die Here soos dit aan die begin was, en sal jy dit weer regkry om te leef vanuit die liefde vir God.

Die boodskap aan Smirna: “Bly getrou tot die dood toe” – Openbaring 2:8-11

Die stad Smirna

Smirna – die moderne stad Izmir – was en is ‘n pragtige stad, ‘n hawestad aan die Hermusrivier aan die Egeïese See. Die groot Griekse digter Homerus is met die stad geassosieer. Hulle was bekend vir hulle wetenskapsbeoefening, vir goeie wyn, pragtige geboue, groot welvaart en vir medisyne. Daar was onder andere ‘n groot tempel van Asklepius, die god van medisyne.

Hierteenoor was die gemeente in Smirna arm. Die woord wat Johannes hier gebruik vir hulle armoede (ptōcheia) dui daarop dat hulle nie net min gehad het nie. Hulle was brandarm. Waarskynlik weens die teenstand wat hulle van die Jode en die owerhede ervaar het – soos op baie plekke in die Romeinse ryk – wat baie keer konfiskering van hulle bates en eiendom tot gevolg gehad het (Hebr. 10:34).

Smirna was getrou in vervolging

‘n Mens sou dink dat hierdie gemeente dit nie sou maak nie. Dat hulle invloed sou kwyn. Dat hulle deur die stad se invloedrykes geïgnoreer sou word.

Tog nie. Smirna het staande gebly al was hulle in die spervuur. Hulle was ‘n klippie in die skoen van die Jode. Hulle was ‘n steen des aanstoots vir die owerhede. Maar, Smirna wou nie inval by die heersende heidense verering van die keiser nie, selfs nie by die ooreenkomste wat die Jode gesluit het met die owerhede ter wille van hulle relatiewe godsdiensvryheid nie.

Beskrywing van Jesus

Hoekom? Want, hulle was verbind aan Jesus, die Eerste en die Laaste, die een wat dood was, maar wat lewend geword het.

Hiermee bemoedig Jesus die gemeente vanuit die feit dat Hyself God is, maar nie geskroom het om ter wille van die redding van die uitverkorenes die dood te smaak nie.

Hy bemoedig hulle nie net met die kruis nie, maar ook met sy opstanding.

Beskrywing van die gemeente

Laat ons egter vir geen oomblik die vervolging en verdrukking van die gemeente van Smirna onderskat nie. Hulle is op talle maniere verdruk. Hulle is wreed vervolg. Hulle is publiek verguis. Maar, hulle het volhard. Hulle het getrou gebly aan die geloof in die Here Jesus Christus.

Veral die Joodse sinagoge het ‘n fel aanslag op die Christene geloods. Soos dit altyd gebeur, as jy nie met jou afwykende teologiese idees hond haaraf maak nie, wend jy jou tot die publiek en draai die publieke mening in jou guns teen jou teologiese opponente.

In plaas daarvan om met die gelowiges in gesprek te tree oor die Messias, en saam te gesels oor die wyse waarop die Skrifte daaroor praat, het die Jode die teologiese gesprek verlaat en die Christene by die staat in die rug gesteek.

Jesus noem daarom hierdie Jode in Smirna ‘n sinagoge van Satan, soos hy op ‘n keer die duiwel die vader van die Joodse leiers genoem het (Joh. 8:44). Die Joodse teenstand teen hierdie arm Christene het hulle ware aard gewys – hulle vyandskap is deur die Satan self aangesteek teen die Christene.

In Jesus se weegskaal is die gemeente ryk

In Jesus se weegskaal is hierdie arm gemeente egter daarom een van die top gemeentes. Smirna kry net lof van die Here, soos dit ook met Filadelfia die geval is.

Wat Jesus van Smirna sê, is: “Ek ken jou verdrukking en jou armoede, maar tog is jy ryk.” Die voorganger en gemeente in Smirna word geprys deur Jesus en dit vir hulle “rykdom”.

Wat was Smirna se rykdom? ‘n Mens sou kon sê van Laodisea dat hulle ryk was. Hulle was ‘n welvarende voorspoedige gemeente. Hulle was regtig fisies ryk. Maar Smirna? Hierdie brandarm gemeente?

Ja, sê Jesus. Julle is ryk. Want, Jesus meet rykdom nie in terme van geld nie. Smirna se rykdom lê in hulle getrouheid. Ten spyte van die vervolging. Ten spyte van die teenstand. Ten spyte van die armoede. Dit is waarom Jesus hulle as ryk tipeer. Want hulle het aan Jesus getrou gebly, die bron van hulle hoop en volharding.

Boodskap en betekenis

Jesus gee hulle geen waarskuwing nie. Geen teregwysing nie. Net ‘n bemoediging.

Want hulle gaan dit nodig kry. Hulle verdrukking is nog nie klaar nie. Daar wag nog meer daarvan op hulle.

Jesus waarsku hierdie top gemeente van Hom dat daar nog ‘n groter vervolging is wat wag. Die grootste teenstand, sê Jesus, gaan kom van die verdrukking deur die duiwel self, God se groot teenstander. Die duiwel sal homself nie kan keer nie. Hy sal die blote bestaan van ‘n gemeente in Smirna wil uitwis.

Hulle hoef egter nie te vrees nie, sê die Here Jesus, want al gaan sommige van hulle weens die duiwel se werk in die gevangenis gegooi word, sal dit vir ‘n beperkte tyd wees. Jesus sal dit temper.

Wat hulle moet help om vas te staan, om verder getrou te bly, is die besef dat die doel van al die teenstand en die lyding van die verdrukking, is om hulle volharding te toets. As ‘n getuienis aan die res van die kerk. Dit sal tien dae lank duur, sê Jesus.

Daarmee bedoel Hy waarskynlik nie ‘n letterlike tien dae nie, doodgewoon dat daar ‘n einde sal kom aan die toetsing, hoe lank dit nou ook al sou duur (vgl Dan 1:12,14; Gen 24:55; Num 11:19).

Hulle sal ná die uitmergelende tyd van verdrukking die oorwinnaarskrans (iets soos die lourierkrans wat met oorwinning geassosieer is) van die lewe ontvang.

Anders as wat die geval was met die aardse pryse (wat nie maklik ná die dood aan iemand toegeken is nie, hoewel dit soms ná iemand se dood saam met hom begrawe is) sal Jesus hulle die oorwinnaarskrans van die lewe gee, selfs al sou hulle in die proses doodgaan. Die krans simboliseer hulle oorwinning oor die dood. Dit is die kroon van die ewige lewe.

Jesus bemoedig die gemeente van Smirna deur hulle te herinner daaraan dat Hy self tot die dood toe getrou was en uit die dood opgestaan het. Die tweede dood – die poel van vuur en swael (Openb. 20:6,14; 21:8), wat direk herinner aan die vernietiging van Sodom en Gomorra (Gen. 19:29) – sal oor hulle geen effek hê nie.

Die boodskap aan Pergamum: “Stry teen valse leringe” – Openbaring 2:12-17

Die stad Pergamum

Pergamum, die amptelike hoofstad van dié gebied, was ‘n groot stad wat bekend was vir ‘n hele paar dinge. Dit was een van die plekke waar Asklepius, die god van gesondheid – gesimboliseer deur ‘n slang (mediese simbool) – aanbid is.

Pergamum het ook een van die grootste biblioteke gehad in dié tyd met ongeveer 200 000 boeke en bronne, wat net oortref is in grootte deur die een in Alexandrië. Hulle het uitgemunt in die produksie van boeke, veral op die velle van diere, wat vereer is deurdat die moderne woord perkament van die stad se naam, Pergamum, afgelei is. Vandag is dit die stad Bergema.

Beskrywing van Jesus

Geen wonder dat Jesus Homself aan hierdie gemeente bekendstel as die een wat die skerp swaard met die twee snykante het nie.

Hierdie swaard het ‘n dubbele betekenis.

Aan die een kant is dit die wapen van God se oordeel. Dit is hoe God Homself onder andere in die OT bekend gestel het.

  1. Daar was ‘n vlammende swaard wat heen en weer beweeg het wat die toegang tot die boom van die lewe in Eden bewaak het (Gen. 3:24).
  2. Daar was ‘n engel met ‘n ontblote swaard wat Bileam gewaarsku het om net te sê wat God vir hom gee om te sê, en nie enige vloek oor Israel uit te spreek nie (Num. 22:31; vgl. Jos. 5:13; 1 Kron. 12:12,16). Dit is dieselfde Bileam wie se leringe net hierna aan die kaak gestel sal word.
  3. Met Moses se derde en laaste toespraak net voor die volk die land Kanaän sou binnetrek, skets hy ‘n prentjie van die Here wat met die skerpgemaakte blink swaard van sy oordeel voor hulle sal uittrek en die land aan hulle sal gee (Deut. 32:41; vgl Job 19:29; Ps. 7:13; 17:13; Jes. 27:1; 31:8; 34:5-6; 66:16; Jer. 12:12; 47:6; 48:2; Eseg. 21:1-12; Amos 7:9; Sef. 2:12; Sag. 13:7).
  4. Dieselfde prentjie van God word in Openbaring geteken waar Jesus as die Ruiter op die wit perd geteken word. Hy voer aan die einde van die tyd oorlog teen die nasies: “Uit sy mond het daar ’n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref,” (Openb. 19:11-21).

Maar aan die ander kant is die swaard ‘n simbool van God se Woord. So sê Jesaja alreeds in die OT (Jes. 49:2). Maar dit is ‘n helder boodskap in die NT, soos ‘n mens ook in die beskrywing van die Ruiter op die wit perd agterkom (Openb. 19).

  1. Paulus praat van die Woord as die swaard van die Gees (Ef. 6:17). Dit is deel van die wapenrusting van die gelowige teen die bose geeste in die lug wat die verspreiding van die evangelie teenstaan.
  2. Die Hebreërskrywer beskryf die woord van God as lewend en kragtig: “Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.” (Hebr. 4:12).

Jesus word dus nie deur die kennis wat in biblioteke versamel is, getroef nie. In ‘n stad wat bekend was vir boeke, stel Jesus Homself bekend as die een van dié Boek.

Beskrywing van die gemeente

Die grootste uitstaande kenmerk van Pergamum was egter dat dit een van die hoofsentrums van keiseraanbidding in die streek was, met ’n reuse-altaar vir Zeus Soter, die verlosser god.

Hierdie altaar het ‘n wrede doel gedien. Daar is 24 uur elke dag, 7 dae ‘n week, mense op dié massiewe altaar geoffer. Die mense is binne-in ‘n brons bul vasgebind, ‘n vuur is onder die bul aangesteek, en dan is die persoon lewendig soos in ‘n oond gebraai. Die gille het uit die bul weerklink wat dit laat klink het asof die bul lewe. Grusaam. Alles ter ere van Zeus.

Antipas

Midde-in hierdie uitdagende omgewing – die plek waar die Satan bly, daar waar die troon van Satan is, so verskriklik was die plek, sê Jesus – het die voorganger en die gemeente aan die Here getrou gebly selfs toe Antipas, een van die gemeente se getroue getuies, die hoogste prys vir sy getrouheid moes betaal.

Antipas se naam het waarskynlik sy getuienis beskryf. Die naam beteken “teen alles”. Dit is ‘n naam wat óf aan hom gegee is, weens sy opstand teen die vergrype van ‘n samelewing wat God nie eer nie. Óf dit kan ook wees dat hy verteken is asof hy “teen alles” was. Dit kan ook wees dat dit sy regte naam was, en dat dié naam ‘n profesie was van watter pad sy getuienis sou inslaan as kind van die Here.

Hoe dit ook al sy, hy is deur die owerhede doodgemaak weens sy getuienis. Moontlik juis verbrand in die afgod Zeus, soos die tradisie oor Antipas lui.

Jesus bemoedig die gemeente

Die Here Jesus bemoedig die voorganger en gemeente aan om getrou te bly, selfs al kos dit hulle dood. Antipas is hulle voorbeeld. Almal moet soos Antipas wees, want hy was die getroue getuie van die Here Jesus.

Beskrywing van hulle dwaling

Daarom spreek die Here hulle aan om voort te gaan daarmee en nie toe te laat dat valse leringe die gemeente soos suurdeeg infiltreer en hulle verstrik word in afgodery en onsedelikheid nie.

Soos Bileam stel dié mense ‘n strik vir die gemeente, leer hulle die gemeente om van die afgodsoffers te eet en hulle onsedelik te gedra. Dit is ook wat die Nikolaïete die mense in Efese geleer het. Hulle het nou ook aanhangers in Pergamum verwerf.

Hierdie mense het dus van die kerk ‘n “wêreld-vriendelike” kerk probeer maak. Hulle het die waardes en lewenstyl van die samelewing binne die kerk aanvaarbaar gemaak, en só die gelowiges verlei om “wêreld-gelykvormig” te raak.

Vriendskap met die wêreld is egter vyandskap met God, só het die broer van Jesus, Jakobus, geleer (Jak. 4:4). Daar is nie kompromie moontlik met die wêreld se waardes en wêreldse immoraliteit nie. Ons is immers vreemdelinge in hierdie wêreld en vermy vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel, so het Petrus ons geleer (1 Pet. 2:11).

Die gemeente word dus opgeroep om op te tree teen dié mense wat nie meer aan Jesus se leringe getrou was nie, en die leer van Bileam aanhang. Dit was nie so ‘n groot probleem by hulle soos by Tiatira nie – waarby ons nog kom – maar dit was al genoeg rede vir die Here Jesus om hulle ernstig teen die dwaling te waarsku. ‘n Klein bietjie suurdeeg beïnvloed mos ‘n groot hoeveelheid meel.

‘n Bietjie agtergrond oor Bileam

Bileam het die simbool geword van ‘n profeet wat deur sy gekonkel gelowiges deur onsedelikheid tot afgodery verlei. Die verhaal in Numeri 22-24 vorm die agtergrond vir hierdie verwysing in Openbaring.

Dit is die verhaal waar koning Balak vir Bileam, die profeet, huur om die Israeliete te vervloek net voor hulle die land Kanaän sou inval. Die Here keer egter telkens vir Bileam om dit te doen, onder andere deur die donkie wat praat en die ontblote swaard van die engel. En in stede van vloeke, kon Bileam net woorde van seën oor Israel uitspreek, tot Balak se konsternasie.

Maar dan beraam Bileam ‘n slinkse plan. Ons lees daarvan in Numeri 31:6 (vgl. 1 Kor. 10; Judas 14 en 2 Pet. 2:15). Bileam stuur ‘n klomp Midianitiese vroue om die Israeliete te verlei tot onsedelikheid en afgodsdiens. En die manne val vir die verleiding van die vroue. Hulle verval in onsedelikheid en afgodery. Sodat God hulle met ‘n groot ramp tref waarin 24 000 manne sterf (Num. 25).

Dieselfde tipe leringe van Bileam, sê Jesus, is deur die Nikolaïete gehandhaaf, soos dit ook die geval was in Efese, waaroor ons reeds nagedink het.

Vrysinnigheid het dus ingesluip, die begin van ‘n liberale siening van die evangelie, waar die ortodokse siening van die evangelie en die Skrif vervang word met die insluiting van leringe wat van buite af kom, wat gebaseer is op ervaring, geleen by die waardes van die samelewing van die dag, en geakkommodeer met die term diversiteit.

Opstand teen die ooreenkoms van Handelinge 15

Daar is egter meer.

Wat ons hier raaksien, is dat daar ‘n groeiende opstand by sommige in die gemeente van Pergamum was teen die ortodokse leer en lewe wat die apostels vir hulle nagelaat het.

Hulle het veral nie gehou van die akkoord wat al die gemeentes in Jerusalem met mekaar aangegaan het nie, waarvan ons lees in Handelinge 15.

Hulle het in opstand gekom teen die besluit dat alle gelowiges onsedelikheid en afgodery (“van afgodsoffers, van bloed en van wat verwurg is”) moet vermy. Dit het gelowiges uit die Jode ingesluit sowel as gelowiges uit die heidene. En dit het regdeur die Christelike kerk gegeld.

Paulus het regdeur die wêreld van sy tyd geleer dat gelowiges oor ander sake kon verskil – die besnydenis (Hand. 15), kos en wyn (Rom. 14), en die sabbat (Kol.. 2).

Maar hy het vasgestaan oor die kernsake van die Christelike geloof. Dinge soos die opstanding (1 Kor. 15), die verbod op afgodery (2 Kor. 6), en die verbod op onsedelikheid (1 Kor. 6). Daaroor was geen diversiteit moontlik nie.

Hoekom is die verbod op afgodery en onsedelikheid so absoluut?

Want, die verbod op die eet van vleis met bloed in Handelinge 15 gaan nie net terug op die wet van Moses nie, maar nog vroeër na die verbond met Noag. Die verbod op afgodery en onsedelikheid geld dus van die begin af.

Die verbond met Noag, en die eise wat God daarin gegee het, geld vir alle mense. Dit is waar God die eerste keer die opdrag gegee het dat mense nie vleis met bloed daarin mag eet nie.

Net so word in Genesis 9 die eerste verhaal van onsedelikheid vertel. In die boek Jubilees, ‘n vroeë Joodse kommentaar op Genesis – wat deel uitmaak van die kanon van die Ethiopiese Ortodokse kerk – word die verbod op onsedelikheid aan Noag verbind:

Noah began to prescribe for his grandsons the ordinances and the commandments—every statute which he knew. He testified to his sons that they should do what is right, cover the shame of their bodies, bless the one who had created them, honor father and mother, love one another, and keep themselves from fornication, uncleanness, and from all injustice.

Die Joodse eksegete het dus van vroeg af die verhaal van Gam met ongeoorloofde seksuele gemeenskap verbind (vgl. Steven Greenberg en David Goldenberg). Die frase: “het sy vader se naaktheid gesien” (Gen. 9:22) word immers vir seksuele gemeenskap gebruik in Levitikus (bv. Lev. 20:17).

Wat God verbied, mag jy nooit doen nie. Wat God gebied, moet jy altyd doen. God verwag persoonlike, volkome, noukeurige en volhardende gehoorsaamheid. Van elke mens. Dit sluit die verbod op afgodery en onsedelikheid in.

En dit is waarom die gemeente van Pergamum opgeroep word om afgodery en onsedelikheid te bestry, om dié dwaalleringe te identifiseer en daarteen te stry. Dit kom reeds van vroeg af, van Genesis 9 in die OT en van Handelinge 15 in die NT.

Boodskap en betekenis

Hoekom is dit só belangrik?

Jy kan afgodery as die “wortel van alle sondes” beskou. Soos die apokriewe boek, Die Wysheid van Salomo, dit beskryf: “die aanbidding van die onnoembare afgode is die begin, oorsaak en eindpunt van alle boosheid.”

Dieselfde is waar van onsedelikheid. Seksuele onsedelikheid (porneia) kan as die “moeder van alle kwaad” beskou word. Dit is waarom afgodery en onsedelikheid so sterk verbind word regdeur die NT.

  1. Die eerste “sinode” in Handelinge 15 waarsku alle gelowiges daarteen (Hand. 15:20,29; 21:25).
  2. In Paulus se eerste brief waarsku hy die Galasiërs dat onsedelikheid en afgodery jou uit die koninkryk van God uitsluit (Gal. 5:19-21).
  3. Paulus volg dit op in sy eerste brief aan die Tessalonisense en waarsku hulle teen afgodery (1 Tes. 1:9) en onsedelikheid (1 Tes. 4:3).
  4. Paulus brei nog meer uitvoerig daaroor uit in Romeine 1 in sy toepassing van die band tussen afgodery en onsedelikheid in enige geslagsgemeenskap buite die veilige ruimte van die huwelik tussen een man en een vrou.
  5. Hy doen dieselfde in sy eerste brief aan die Korintiërs deur hulle te waarsku dat onsedelikes en afgodsdienaars nie die koninkryk van God kan beërwe nie (1 Kor. 6:9-11).

Die punt wat Paulus maak, is dat jy ontrou aan God raak as jy buite die huwelik beweeg met jou seksualiteit. Dit is per definisie wat afgodery is; om God se wil vir die lewe te ignoreer; om in sy wêreld te lewe asof Hy nie bestaan nie; om te doen wat Hy jou beveel om nie te doen nie. Dit is nie net sonde nie. Dit is afgodery.

Waarskuwing

Dit is belangrik om te hoor, dit is nie net die afvalliges in die gemeente van Pergamum wat aangespreek word nie. Die hele gemeente word opgeroep om hulle daarvan te bekeer. Anders, sê Jesus, sal Hy self die dwaalleraars bestry deur een of ander vorm van oordeelsprediking. Dit is wat “die swaard van sy mond” in wese beteken.

Maar let op, die getroue gelowiges in die gemeente word dus nie uit die gemeente gehaal nie. Die Here wil nie hê dat hulle uittrek na ‘n ander gemeente nie. Pergamum is immers die plek waar hulle aanbid. Pergamum is hulle gemeente; dit is hulle gemeenskap – hulle hoort daar.

Die getroue gemeentelede sal dus die moeilikheid tot die einde toe moet trotseer. Hulle sal soos Antipas God se getroue getuie moet wees, selfs al beteken dit dat hulle verteken kan word as Antipas: “teen alles”. Hulle sal hulle deel moet doen in die stryd vir die ware evangelie.

Soos Paulus op ‘n keer vir Titus skryf:

“Jy moet ’n goeie voorbeeld stel, suiwerheid in die leer handhaaf, met gesonde en onaanvegbare prediking. Dan sal die teenstanders beskaamd staan omdat hulle dan niks slegs oor ons te sê het nie.” (Tit. 2:7-8 – NLV)

Dit is kontra-intuïtief. Die geloof word nie meer aanvaarbaar gemaak as jy dit aanpas by die samelewing se wetenskaplike, sosiale en kulture kennis nie, iets wat ons vandag só dikwels teëkom.

Inteendeel. Dit is juis wanneer suiwerheid in leer gehandhaaf word wat teenstanders beskaam staan en uiteindelik niks slegs oor ons te sê het nie.

Suiwerheid in leer is die beste pad om te volg in hierdie wêreld. En dit is nie net ‘n boodskap vir die teoloë nie. Dit is ‘n boodskap vir gewone lidmate.

Luther se droom was immers dat gewone lidmate meer as die pous moes weet van die teologie. Dit is waarom die Hervormers soveel aandag geskenk het aan die skryf van geloofsbelydenisse en kategismusse. Sodat gewone gelowiges saam kan praat en vir die waarheid kan stry.

Beloftes

Twee geskenke sal gegee word aan dié wat oorwin: die verborge manna en ’n wit klippie.

  • Die verborge manna (manna = “Wat is dit?”) kan op vier maniere verstaan word. Dit kan verbind word met 1) óf die kruik manna in die ark as vooruitskouende simbool van die hoëpriesterlike werk van Christus (Eks 16:32-24; Hebr. 9:4 vv), óf 2) die nagmaal – só praat Paulus oor die manna (1 Kor. 10:3-4), óf 3) geestelike voedsel vir gelowiges wat weggesteek word vir ongelowiges. Dit kan ook ’n kombinasie van dié drie perspektiewe wees (Du Rand, Hebr. 6). Nog ander verbind dit 4) met die hemelse manna wat die ewige lewe gee, soos Jesus dit uitgelê het (Joh 6:49-51). Dit is dan ‘n metafoor vir die ewige lewe, iets wat vir my baie sin maak. Wat ons egter onomwonde kan sê, dit sal ‘n baie spesiale gawe wees.
  • Die wit klippie met ’n nuwe en geheime naam (vgl. Jes. 62:2 waar dieselfde gedagte voorkom) daarop gegraveer, funksioneer as toegangsbewys tot die bruilofsfees van die Lam.

Die oorwinnaars sal dus die ewige lewe ontvang en ‘n toegangskaartjie wat dit vir hulle moontlik sal maak om dit vir ewig te geniet.

Die boodskap aan Tiatira: “Stry teen onsedelikheid” – Openbaring 2:18-29

Die stad Tiatira

Tiatira – die moderne stad Akhisar – was bekend vir sy groot hoeveelheid gildes of vakbonde waarom die lewe in die stad gedraai het. Vakbonde vir die klerebedryf, vir die bakkersbedryf, vir die leerlooiers, vir die pottebakkersbedryf, vir dié wat met linne gewerk het, vir dié wat met wol gewerk het, vir skoenmakers, vir kopersmede en slawehandelaars.

Lidia van Filippi, die vrou wat met pers wol handel gedryf het, was byvoorbeeld van Tiatira afkomstig (Hand. 16:12-15). Omdat die gode aan dié gildes verbind was, het dit die werksituasie van Christene baie bemoeilik. As jy aan een van die gildes behoort het, was jy gekonfronteer met die gode wat die gilde aanbid het. En dit was ‘n dilemma!

Beskrywing van Jesus

Jesus kondig Homself nou in die gemeente van Tiatira, in teenstelling met dié gode, aan as die Seun van God, die Een wat nie net alles sien nie (oë soos ’n vlammende vuur), maar in sy wese standvastig en heerlik is (voete soos gloeiende koper).

Aan die een kant is Hy die een wat alles sien, waarmee die gesag waarmee Hy kan oordeel uitgebeeld word. Hy is nie net die Voorspraak nie. Hy is ook die Regter, die een wat as Voorspraak kan intree, maar ook as Regter kan optree.

Aan die ander kant kan Hy ook midde-in só ’n verlammende situasie stabiliteit bring, vir dié wat aan Hom sal vashou tot met die Wederkoms. Hy is dus ook steeds die Verlosser vir dié wat op Hom vertrou.

Beskrywing van die gemeente

Jesus prys Tiatira vir vyf kenmerke van hulle gemeente lewe. Hulle dade, liefde, diens, geloof en volharding wat op die koop toe steeds in ’n groeiende fase is. Hulle latere werke oortref hulle eerste werke. Hulle was ‘n gemeente wat uitgeblink het in sosiale hulp en barmhartigheid. By hulle was jy altyd welkom, is jy ingesluit en voor omgegee.

Beskrywing van hulle dwaling

Maar in die weegskaal van die Here Jesus het Hy agtergekom dat hulle insluitende karakter beteken het dat hulle nie ‘n goeie oordeel aan die dag gelê het nie. Weens die impak van een persoon in die gemeente, Isebel, die een wat haarself ‘n profetes noem, maar dit nie is nie, het hulle onsedelikheid en afgodery toegelaat.

Die gemeente het gereken dat hulle haar insluit om te kan wys dat hulle alles en almal kan akkommodeer, dat hulle verdraagsaam is, en niks daarvan sal oorkom nie.

Daarmee het hulle seks buite die huwelik goedgepraat (porneuō), sowel as egbreuk (moicheuō), dinge wat tot egskeiding aanleiding kon gee.

Maar, Jesus weet van beter. Hy weet dat ‘n klein bietjie suurdeeg die hele deeg deursuur. En die situasie in Tiatira was slegter as in Pergamum. Dit was nie meer ‘n klein minderheid wat die afgodery en onsedelikheid beoefen het nie. Dit was die meerderheid. Die gemeente is gedomineer deur die afvalliges en dwaalleraars.

Die probleem is dat onsedelikheid en afgodery die twee kernsake is wat ‘n kerk kan korrupteer, wat die ortodokse leer en lewe verander in ‘n “anything-goes”- leer en ‘n lewe waar enigiets en enigiemand toegelaat word om in die naam van diversiteit en verdraagsaamheid te glo en te leef soos hulle wil.

Gewoonlik is dit dan ook dié mense wat eenheid bó alles stel. Niemand word uitgesluit nie. Geen dissipline word toegepas nie. Geen poging word aangewend om “in die liefde by die waarheid te bly nie” (Ef. 4:15). Nee, ‘n Gods-water-oor-Gods-akker benadering. Maak vir almal ruimte in die kerk, al dink hulle nie soos die Here ons leer nie.

Waarskuwing

Jesus is daarom onwrikbaar daaroor dat dié leringe nie geduld kan word nie. Dit rand die gemeente in sy diepste wese aan.

En Jesus vat nie net vir Isebel aan nie, maar die hele gemeente. Hy het teen hulle dat hulle as ‘n gemeente nie optree teen die vrou Isebel nie, die een wat ons herinner aan die Baäl-aanbiddende koningin van Israel, Agab se vrou, wat met Elia swaarde gekruis het (1 Kon. 17 vv).

Gnostiese dwaalleringe

Hierdie Isebel – dit was moontlik ‘n titel wat Jesus haar gegee het – was ‘n self aangestelde profetes, alreeds ‘n lasterlike oortreding. En sy het die gemeente verlei om kompromieë aan te gaan met hulle omgewing wat talle tot onsedelikheid en afgodery verlei het. So het sy die gemeentelede die sogenaamde “diepere dinge van Satan” aangeleer.

Hierdie dieper dinge dui waarskynlik op die begin van die Gnostiese leerstellings wat daarop aankom dat dit nie saak maak hoe jy lewe nie. Dit maak net saak wat jy weet en wat jy glo. Jou geloof hoef dus nie in ’n lewenstyl beliggaam te word nie. Jy kan leef soos jy wil. Solank jy kan sê: “Ek glo.”

Afgodsdiens

Nou moet ons ook verstaan die probleem was nie die eet van die afgodsvleis as sodanig nie. Dit gaan oor die eet van die afgodsvleis asof dit inderdaad met afgode verbind kan word, soos Paulus die gemeente in Korinte (1 Kor. 8) en ook die gemeente in Romeine gewaarsku het (Rom. 14). Omdat sommige mense geglo het dat die afgodsvleis inderdaad met afgode verbind kon word, sê Paulus, sal hy liewer géén vleis eet nie, as dat iemand deur sy voorbeeld in afgodery gestort word.

Getuienis van die gemeente in gedrang

Die probleem was verder nie net dat Isebel toegelaat is om haar verleidelike invloed in die gemeente uit te oefen nie, maar dat sommige van die gelowiges haar nagevolg en haar leer aangegryp het en daaraan meegedoen het. Dit het die getuienis van die gemeente ernstig in die gedrang gebring.

Jesus tree beslissend op

Interessant genoeg is Isebel ’n kans gegee om haar te bekeer. Sy het egter geweier. Dit het Jesus met groter intensiteit laat optree deur haar aan siekte te onderwerp. Daar staan letterlik dat Hy “haar op die bed neergegooi het”, ‘n metafoor vir die siekte wat sy as straf vir haar onsedelikheid sou ontvang.

Dieselfde geld haar volgelinge. Hulle word aan verdrukking blootgestel, en van haar “kinders” – waarskynlik haar dissipels – is aan ‘n dodelike siekte onderwerp. “Ek sal hulle doodmaak met die dood!” staan dit letterlik daar. Jesus sal hulle uitwis.

Jesus sal hulle met die dood straf, soos Hy al geïllustreer het in die vroeë kerk van Jerusalem met Ananias en Safira wat vir die Gees gelieg het (Hand. 5) en in Korinte met gelowiges wat ‘n oordeel oor hulleself geëet en gedrink het by die nagmaal. Soos Paulus sê: “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ’n aantal het ontslaap.” (1 Kor. 11:30).

Wat ons moet agterkom, is dat Jesus nie met Hom laat speel nie. Hy tree op as daar onsedelikheid en afgodery in gemeentes voorkom. Sy oordeel sal God se regverdigheid en soewereiniteit bevestig, sodat almal sal weet dat dit Hy is: “wat die niere en harte deurgrond,” (Jer. 17:10) ’n Hebreeuse idioom wat dui op die mens se diepste gevoelens (niere as setel van emosies) en gedagtes (hart as setel van die intellek).

Jesus straf dus steeds – soos in die OT deur Moses verkondig (Deut. 28) – want Hy beloon afvalliges volgens hulle dade. Hy is nie net Verlosser en Voorspraak nie; Hy is terselfdertyd ook Regter.

Alle gemeentes moet dit weet, sê Jesus. Gesamentlik dra hulle die verantwoordelikheid om toe te sien dat sulke dinge nie by hulle voorkom nie. God wil sonder enige kompetisie van afgode aanbid word. Hy duld geen onsedelikheid by enige van sy volgelinge nie.

Boodskap en betekenis

Diegene wat kies om aan God getrou te bly, wat in opstand kom teen die leringe van Isebel en nie daarmee saamgaan nie, spring dié oordeel vry. Hierdie gelowiges, sê Jesus, sal geen ekstra “las” opgelê word nie, soos die eerste “sinode” in Handelinge 15 dit ook besluit het.

Jesus beklemtoon dus, soos die eerste “sinode”, net hierdie twee ononderhandelbare goed. Die morele kant van die wet – geen onsedelikheid nie– en die geestelike kant van die wet – geen afgodery nie. Dit is wat Noag se verbond geleer het. Dit is wat Moses se verbond geleer het. Dit is wat die nuwe verbond ook vir ons leer.

Dit is só belangrik om hierdie aansporing te hoor. Die goddelose invloed van die dwaalleraars, die Isebels van hierdie wêreld, moet weerstaan word. Die gelowiges moet eenvoudig die druk weerstaan en opkom vir die waarheid van die Skrif.

Waarvoor ons moet wag, is die Here se reinigingswerk om in te skop. Sodat ons nie val vir die askese of die hedonisme nie, maar vir heiligheid in die huwelik.

Dit is ‘n geweldige troos vir die getroue gelowige wat in ‘n kerk wat sonde goedpraat, vasgevang is. Die Here is nie blind vir ons situasie nie. Hy sien die korrupsie wat rondom ons floreer. Hy wil hê dat ons getrou sal bly en enduit doen wat Hy sê.

Die gelowiges wat luister, wat enduit volhard in die ortodokse boodskap van die Woord, sê Jesus, sal uiteindelik seëvier. Hulle sal saam met Jesus oor die nasies reageer.

God laat nie met Hom speel nie. Hy laat nie met Hom spot nie. Hy sal nie sy oordeel onbepaald uitstel nie. Hy sal dié wat teen Hom in opstand is soos kleipotte stukkend slaan met ‘n ysterstaf (in ’n sinspeling op die Messiaanse belofte in Psalm 2).

Die gelowiges wat luister na hierdie waarskuwing van Jesus, sal dus ’n deel kry aan die komende Messiaanse heerskappy oor die nasies en daarby Venus, die môrester, ontvang, die simbool van die nuwe dag wat in God se koninkryk met Jesus se Wederkoms sal aanbreek.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.