Skip to main content

1 Samuel 4

Ikabod: die eer is weggevat uit Israel

Die opmerking word reg aan die begin van hierdie hoofstuk gemaak dat Samuel se boodskap tot die hele Israel gerig was. Maar, soos ’n mens verder lees in hoofstuk 4-6 kom ’n mens agter dat Samuel en sy woorde geen rol speel in die ontvouende gebeure nie. Dit verklaar die chaos wat heers vanweë die afvalligheid en immoraliteit van die huis van Eli wat tot die verlies van die ark uit Silo, en die verwoesting van die dorp, lei.

Dit is eers in hoofstuk 7 – min of meer twintig jaar later – wat die volk die moeite doen om Samuel te raadpleeg en ’n omkeer vir die volk bewerk word. Die oordeel oor die huis van Eli het die tafel gedek vir ’n nuwe bedeling waar God weer sy regmatige plek onder die volk kon inneem deur die bediening van Samuel.

Teks en konteks

Israel het die Filistyne tegemoetgetrek vir die oorlog (die Griekse vertaling van die OT, die LXX, brei ’n bietjie meer uit oor die feit dat die oorlog deur die Filistyne begin is). Hulle het kamp opgeslaan by Eben-Haeser (waarskynlik ’n ander plek as die Eben-Haeser van 1 Sam 7:12). Die naam beteken “klip van die helper” wat ironies genoeg juis die plek sou wees waar die Here hulle teenstander sou word weens die sonde van die huis van Eli.

Die Filistyne weer het kamp opgeslaan by Afek, net noord van hulle vyf stede aan die kus (Gasa, Askelon, Asdod, Gat en Ekron). Hulle was deel van die sogenaamde “See volkere” wat van Griekeland af (Kittiërs – Num 24:24; van Kaftoreiland af – Jer 49:4; Amos 9:7) die Midde-Oosterse lande ingeval en hulle in ’n gebied aan die kus van Israel gevestig het.

Die Israeliete word egter oorrompel deur die Filistyne, omdat hulle nie hulle vertroue op God geplaas het nie. Hulle probeer dié fout regstel deur die verbondsark van die Here – waarop twee gerubs aangebring is – uit Silo te bring in ’n vergeefse poging om sy teenwoordigheid daardeur in die oorlog te verseker.

Jy kan jou geheue verfris deur in Ekodus 25 en 37 meer te lees oor die bou van die ark. Dit was van doringhout gemaak, met goud oorgetrek en relatief klein (1.25 m lank, 0.75 meter hoog en 0.75 m breed). Die wet (getuienis) is daarbinne gebêre met twee gerubs wat daarop geplaas is. Dit was dié plek van ontmoeting met die Here: “Al my bevele vir die Israeliete sal Ek jou van daar af gee”, sê die Here vir Moses (Eks 25:22).

Die ark is in die Allerheiligste deel van die tabernakel (en ook later van die tempel) geplaas, en was die simbool van God se lewende teenwoordigheid in Israel. Kyk ook in Eks 40:34-38 na hoe ‘n belangrike rol die ark gespeel het in die trek deur die woestyn. Baie voorskrifte het die hantering van die ark vergesel, en wanneer dit nie nagekom is nie, het mense gesterf. Die Here het ook bepaal dat met die vestiging van Israel in Kanaän die ark uiteindelik in Jerusalem moes tereg kom, soos Dawid met die verowering van Jerusalem regkry.

Onthou ook dat Hanna al gebid het tot hierdie God, die Heerser oor die magte, en dat Hy haar verhoor het. Maar, die blote ritueel om ’n simbool van sy teenwoordigheid in die geveg te gebruik, sou Israel suur bekom. God voltrek eerder in die proses sy oordeel oor die huis van Eli deur nie net die twee seuns, Hofni en Pinehas, in die oorlog te laat sneuwel nie, maar op die koop toe die Israeliete weer ’n keer die onderspit te laat delf in die oorlog.

Die harde strydkreet wat die Israeliete aangehef het oor die koms van die ark word ironies genoeg die motivering vir die Filistyne om alles in die stryd te werp: “Gedra julle soos manne en veg!” Al was hulle goed bewus van wat God vir Israel in die woestyn gedoen het, kry hulle dit reg om die Israeliete te verslaan. Trouens, hulle ontvoer die ark van God in ’n poging om Hom aan hulle kant te kry.

Die nuus lei tot Eli se dood met sy skoondogter, die vrou van Pinehas, wat met geboorte haar seun Ikabod noem om daarmee die nuus in ’n geestelike konteks te plaas: “Die eer is weggevoer uit Israel.” Haar sterfte simboliseer die chaos wat nou met die nederlaag en dood van baie van Israel se manskappe, sowel as die ontvoering van die ark, ingetree het.

Boodskap en betekenis

Dit is ‘n tragiese verhaal. Israel veg sonder om seker te maak die Here is met hulle. Die gevolg is dat hulle in nederlaag op nederlaag die onderspit delf. Die Here voltrek só sy oordeel oor Eli en sy seuns. Waarmee die Here wys dat Hy nie gemanipuleer kan word nie. Hy soek ‘n hart wat volledig op Hom gerig is – soos Hanna. Hy verwerp egter mense wat Hom nie dien nie – soos Hofni en Pinehas. God duld ook geen misbruik van die ark nie – die simbool van sy teenwoordigheid. Nie in Israel nie en ook nie daarbuite nie soos ons in die volgende hoofstukke sal sien.

Hierdie veldslag was die begin van dekades van oorlog teen die Filistyne. Samuel sou twintig jaar later die gety teen die Filistyne laat draai, maar dit is eers met Dawid se regering wat die Filistyne onderwerp sou word, gesimboliseer met Dawid se oorwinning oor Goliat.

Dit tref my hoe verweef die lewe is. Alles is met alles verbind. ‘n Klomp Israeliete sterf in die proses weens hulle eie dwaasheid en bygeloof, maar ook weens die priesters se afvalligheid en immoraliteit. Selfs die skoondogter, vrou van Pinehas, se lewe word daardeur geraak. Haar dood met die geboorte van haar seun word op ‘n ontstellende grafiese manier ‘n verwoording van Israel se verlies, toe sy die seun Ikabod noem. Selfs Silo, as dorpie en heiligdom, het in die slag gebly, en speel hierna nie weer ‘n rol nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar