Skip to main content

Psalm 83

O God, moet U nie doof hou nie, u vyande is oproerig

Hierdie Psalm is duidelik een wat in ’n situasie van aanvegting gebruik word om God se optrede teen sy vyande af te smeek: “O God, moet tog nie stilbly nie; moet U nie doof hou nie en moenie stil wees nie, o God.” (vers 2 – 2014 vertaling). Hoekom? “Want kyk, u vyande is oproerig, u haters loop kop omhoog.” (vers 3 – 2014 vertaling).

Die geleentheid was dalk dié wat in 2 Kronieke 20 gerapporteer is, toe Moab, Ammon, Edom en hulle bondgenote Juda binnegeval het, dws in die tyd van Josafat.

Teks en konteks

Om die Psalm beter te verstaan, help dit om iets meer te weet van die twaalf nasies en agt leiers wat in die Psalm genoem word as teenstanders van God en sy volk. Hier is ’n lysie daarvan uiteraard met net die mees noodsaaklike inligting:

  • Edom – dit is die naam van die nageslag van Jakob se broer Esau wat sy eersgeboortereg verkoop het aan Jakob en waarvan hulle nageslagte in ’n ewige stryd teen mekaar gewikkel was (Gen. 36:1). Hulle het aan die suid-oostekant van Juda gewoon in die omgewing van die Dooie See omring deur woestyn.
  • Ismaeliete – nakomelinge van Ismael, die kind wat Abraham by Hagar gehad het en toe deur Sarai weggestuur is die woestyn in, maar deur God versorg is (Gen. 16:1 vv). Ismael was die stamvader van verskeie noord-Arabiese stamme aan die oostekant van Juda (Gen. 25:12-18.
  • Moab – dit was die seun van Lot by sy oudste dogter (Gen. 19:31). Sy nageslag het op die Hoogland oos van die Dooie See gebly. Hulle was nie in guns by die Israeliete of die Here nie, omdat Bileam deur die Moabiete gehuur is om die Israeliete in die woestyn te vervloek (Num. 22-24) en hulle ongasvry opgetree het (Deut. 23:4). Rut was egter ’n Moabiet wat guns in die oë van die Here geniet het.
  • Hagarëers – dit was waarskynlik afstammelinge van Hagar (1 Kron. 5:10 vv; 27:31).
  • Gebal – dit was ’n stad in Kanaän (Jos. 13:5) waarvan sommige met die bou van die tempel gehelp het (1 Kon. 5:18). Dit kan ook die hawestad Gebal noord van Beirut wees.
  • Ammon – dit was die seun van Lot by sy jongste dogter (Gen. 19:38). Sy nageslag het noord-oos van Juda en die Dooie See gebly.
  • Amalek – dit was ’n kleinseun van Esau (Gen. 36:12) wie se nakomelinge in ’n verwoede oorlog met die Israeliete in die woestyntyd was (Eks. 17).
  • Filistea – dit is die landstreek aan die kus tussen Joppe en Gasa waar die Filistyne gewoon het (Eks. 15). Hulle was in hewige gevegte met die eerste konings van Israel totdat Dawid hulle oorwin het.
  • Tirus – dit was die belangrike handelstad van die Feniciërs aan die Middellandse See.
  • Assirië – dit was die groot wêreldmoondheid wat die noordelike ryk weggevoer het in ballingskap in 722 v.C.
  • Lot – dit was die broerskind van Abraham wat in die Jordaanstreek gaan bly het in Sodom wat deur die oordeel van die Here verwoes is.
  • Midian – dit was ’n seun van Abraham by Ketura (Gen. 25) wie se mense in die Siries-Arabiese woestyn gebly het. Jetro, Moses se skoonpa, was ’n Midianiet (Eks. 3). Gideon het ’n groot oorwinning oor hulle behaal (Rigt. 6) waarna ons nie weer van hulle hoor nie.
  • Sisera – hy was die leërowerste van Jabin, ’n koning van Kanaän, wat deur Debora en Barak verslaan is en deur Jael doodgemaak is met ’n tentpen deur die kop (Rigt. 4-5).
  • Jabin – hy was die koning van Hasor in Kanaän in die rigterstyd. Daar was ook vroeër ’n Jabin wat teen Josua geveg het (Jos. 11).
  • Kison – dit is die spruit, eintlik ’n vleiland, waar die oorwinning van Debora en Barak oor Sisera behaal is.
  • En-dor – dit is een van die dorpe waar die veldslag plaasgevind het en waar die heks van En-Dor later deur Saul opgespoor is (1 Sam. 28:7).
  • Oreb – een van die vorste van die Midianiete wat saam met Seëb gevang is en deur Gideon doodgemaak is (Rigt. 7).
  • Seëb – een van die vorste van die Midianiete wat saam met Oreb gevang is en deur Gideon doodgemaak is (Rigt. 7).
  • Seba – hy was een van die konings van die Midianiete in die oorlog teen Gideon (Rigt. 8).
  • Salmunna – hy was ook een van die konings van die Midianiete in die oorlog teen Gideon (Rigt. 8).

Hier is drie opmerkings oor die inhoud van die Psalm:

  • Let op dat die teenstanders se vyandskap eers as gemik op God self uitgespel word (vers 2-3), dan eers oor die bedreiging vir die volk gepraat word (vers 4-5), voordat die teenstand weereens as ’n verbond teen God self geteken word. Die verset teen God self is van ’n belangriker orde as die verset teen die volk, as motivering om die Here tot optrede te beweeg.
  • Die vyande wat in vers 6-9 genoem word, was almal geswore vyande van Israel, maar het sover ons kan agterkom uit die geskiedenis nooit as ’n eenheid teen Israel geveg nie. Hulle word dus hier waarskynlik gelys as historiese voorbeelde van die tipe teenstand wat die volk wel deur die loop van hulle bestaan in die oë moes staar (Tate).
  • Die wreedheid van die gebed om die vyand se vernietiging – “maak tolbosse van hulle, stoppels in die wind, ’n bos wat in vuur verteer word, berge wat in vlamme uitbrand …” (vers 14-15) – het dus nie net met ’n wens tot vernietiging te make nie, maar met die begeerte om God se naam in ere te hou. Deur die oordeel moet die vyande agterkom wie God is (vers 17), “dat alleen U die Naam ‘Here’ het, U, die Allerhoogste oor die hele aarde.” (vers 19).

Boodskap en betekenis

Die Psalm help ons ook verstaan hoe belangrik gebed is. Die Psalm vra eenvoudig dat God sal optree soos Hy dit in die verlede al in die lewe van die volk gedoen het, veral in die oorlog teen die Kanaäniete (Rigt. 4-5) en die Midianiete (Rigt. 6-8).

Dit is ook insiggewend dat die Here se optrede in beide oorloë die deurslaggewende faktor was:

  • met die Kanaäniete deur die slim keuse van die vleiland as terrein waar die swaar ysterstrydwaens van Jabin oneffektief was, en
  • met die Midianiete deur ’n verrassingsaanval in die nag wat grootskaalse verwarring geskep het.

Gebed en gehoorsaamheid aan wat die Here openbaar (Gideon moes net met 300 man veg), is en bly die belangrikste wapens in ons geestelike arsenaal.

Die vraag vandag is dus eerder aan myself gerig: Het ek nie stil geraak nie? Moet dié Psalm nie my woorde vir vandag word waar God se naam in diskrediet gebring word en sy mense verguis word in die wêreld nie? Miskien is dit nie die Here wat so stil is nie, maar ek …

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…